Verkiesing 2019: Wat nou volgende?

verkiesing-2019-roc

Die OVK se uitslagsentrum in die weste van Pretoria. Foto: ANA

Terwyl die hele land nou op hete kole sit en wag om die finale verkiesingsuitslag vir Suid-Afrika se ekonomiese middelpunt, Gauteng, te ontvang, meen politieke ontleders reeds die land se sesde algemene verkiesing was die taaiste verkiesing sedert 1994.

Die verkiesing het ook talle logistieke uitdagings aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gestel wat vanjaar ʼn rekordgetal van net minder as 23 000 stempunte moes bestuur.

Prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het gesê 35 van die kleiner partye het Vrydag ʼn vergadering belê waar die partye aangedui het hulle is ontevrede met die verkiesingproses.

“Alle aanduidings is dat hulle regsprosesse gaan gebruik om die uitslae te betwis,” het Duvenhage gesê.

Duvenhage het gesê die OVK sal die partye se klagtes moet hanteer, terwyl dit ook duidelikheid sal moet verskaf rakende vrae oor die moontlikheid daarvan dat sekere kiesers twee keer kon stem.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, het gesê hy verwag dat die amptelike uitslag van die verkiesing nie soos beplan Saterdag bekendgemaak sal word nie omdat die OVK eers hulle oudits sal wil afhandel.

Hy en Duvenhage is dit egter eens dat die sesde parlement van Suid-Afrika soos beplan op 22 Mei geopen sal word om hulle werksaamhede vir die jaar te hervat.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het verslaggewers by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria toegespreek. (Foto: Tania Heyns)

Prestasie van die partye

Alhoewel dit met die voorlopige uitslae wat beskikbaar is, lyk of die ANC se steun met 5 persentasiepunte gedaal het, glo beide ontleders die ANC is “veilig” en sal voel hulle het goed in die verkiesing presteer.

“Dit is eintlik ʼn goeie vertoning gegewe die onstuimigheid waardeur die party gegaan het. Die ANC se prestasie te midde van ʼn wolk van korrupsieklagtes laat natuurlik eintlik veel meer vrae oor ons as ʼn demokrasie,” het Duvenhage gesê.

Die DA het tot dusver ʼn klein afname van 0,4 persentasiepunte getoon. “Ek dink die party se grootste teleurstelling is dat hulle nie kon groei nie, veral gegewe die probleme binne die ANC.

“Hulle het wel ʼn gemaklike meerderheid in die Wes-Kaap behou terwyl die ANC en die EFF veel slegter in die provinsie vertoon het. Patricia de Lille van die GOOD-party het beslis van die DA se stemme gevat en die VF Plus het ook van die partye se steunbasis weggerokkel,” het Henwood gesê.

“Die DA het wel gered wat hulle kon na al die interne konflik binne die party en die herposisionering van die party,” het Duvenhage bygevoeg.

Albei ontleders was dit ook eens dat die EFF die grootste wenners van vanjaar se verkiesing was, al sal die party dalk effens teleurgesteld wees omdat hulle gereken het om minstens 20% van kiesers se steun te kry.

Die EFF is een van die min partye wat daarin geslaag het om hulle steunbasis te groei in ʼn tweede verkiesing. Dit is iets waarin net die DA nog kon slaag.

“Op nasionale vlak lê die EFF se steun reeds bo 10%. In Noordwes het die party 18% van stemme ontvang en dit kan natuurlik toegeskryf word aan die rassespanning by talle dorpe soos Marikana, Coligny en Schweizer-Reneke in dié provinsie.

“Dit verklaar ook in die teenpool vir my die VF Plus se groei in die Noordwes. Hulle steun het tot 4% gegroei,” het Duvenhage gesê.

Die IVP het, na ʼn aanvanklike swak vertoning, gegroei en is nou die vierde grootste party op nasionale vlak. Duvenhage meen ook die African Transformation Movement (ATM) sal ʼn verteenwoordiger of twee in die parlement kan kry.

“Daar is egter ʼn paar van die kleiner partye wat baie seergekry het. Cope kon net slaag om tussen 37 000 en 38 000 stemme op die party te vestig. Die UDM het ook swakker gevaar en die BLF het heeltemal uit die bus geval. Dit was ook duidelik dat talle van die kleiner partye wat sommer kort voor die verkiesing uit die niet verskyn het, nie ʼn werklike impak gemaak het nie.”

(Foto: Maroela Media)

Ligpunte vir SA se politieke landskap

Duvenhage het gesê as ʼn mens na die breë politieke landskap van Suid-Afrika kyk, is daar talle goeie punte wat vir hom na vore tree na afloop van die verkiesing.

“Ek dink ons sien ʼn stem vir kontinuïteit. Alhoewel die ANC se steun laer is, beteken dit hulle kan nie net maak wat hulle wil nie.

“Dit lyk ook vir my of die EFF en die ANC nie daarin gaan slaag om gesamentlik ʼn tweederdemeerderheid te verkry nie.”

Henwood het gesê te oordeel na die aantal partye wat deelgeneem het met al die verskillende beleidsopsies op die politieke spektrum, lyk dit vir hom of kiesers duidelik radikale partye verwerp het.

“Die gematigde middel in Suid-Afrika is steeds solied. As die EFF en die VF Plus ons twee uiterste politieke meningspunte verteenwoordig, het die land ʼn gemagtigde politieke landskap. Dit is duidelik kiesers wou stabiliteit beskerm.”

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die media buite die Hitekani Primary School in Soweto toe nadat hy klaar gestem het. (Foto: Twitter via @MYANC)

Pad vorentoe

Duvenhage het gesê alhoewel die ANC se steun afgeneem het, glo hy pres. Cyril Ramaphosa het wel ʼn goeie steunbasis op homself gevestig.

“Dit beteken egter nog glad nie dat die kragte en magte binne die ANC al heeltemal stabiel is nie.”

Duvenhage is wel oortuig dat Ramaphosa weer as die land se president aangewys sal word.

“Hy sal dadelik ʼn veel kleiner kabinet van 30 tot 34 ministers moet aanstel met minder adjunkministers. Dit sal ook belangrik wees dat hy van die ‘vrot appels’ ontslae raak wat by korrupsiesake betrek is. Ek dink ook Ramaphosa gaan ʼn regering van nasionale eenheid aanstel wat beteken ons gaan ministers vir sekere portefeuljes uit ander partye sien.”

Duvenhage meen Ramaphosa sal ook die Zondo-kommissie oor staatskaping vinnig na ʼn kant bestuur en van sy opponente sal verwyder word omdat hulle “kollaterale skade” in die saak sal wees.

“Dit sal dan uiters belangrik vir Ramaphosa en sy kabinet wees om die ekonomie dadelik aan die gang te kry want dit is bykans bankrot. Die staatsdiens sal verklein moet word en die kwessie van grondonteiening sal ook dringend aandag moet geniet.”

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

ʼn Laaste uitdaging

Henwood het gesê die geweldige groot aantal mense wat vanjaar besluit het om buite die stemproses te staan is ʼn rede tot kommer.

“Die lae stempersentasie en die lae registrasiekoers wys dat die meerderheid van Suid-Afrikaners buite hier proses gebly het.

“Wat moet ʼn mens dan doen om jou eise op die politieke agenda te kry? Dit is wanneer jy die politiek van die straat sien met ʼn skerp toename in gewelddadige protesaksies.

“Suid-Afrika het reeds genoeg hiervan en ons kan nie die risiko loop om nog meer hiervan te sien nie. Hierdie is waarskuwing waaraan politieke leiers in die toekoms sal moet werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter du plessis

Die anc se steunbasis kom van mense wat so oningelig is van wat in SA aangaan en dit sal nog 25 jaar neem om hulle te onttroon.

Gert

Hoe werk sy som? Die ANC + EFF het meer as 68%, dis meer as twee derdes.
Ek vind ook die argument vreemd dat die VF+ ‘n ekstremistiese party is, na my mening is hulle konserwatief.

jAN

wat het geword van die mense se stemme wat in die buiteland gestem het … waar word dit gereflekteer.

Andreas

Die Afrikaner se streep is in die sand getrek, hy moet nou nog net besluit waar hy tuis hoort. Het hy nou genoeg gebloei of kan hy nou vorentoe kyk. Baie duidelik is daar nog ‘n miljoen of so wat nie gelukkig met hul herkoms is nie. Ook duidelik het hulle en hul kinders ‘n eie werk daarom voel hulle ‘n veer vir wat met ander gebeur. Hulle dryf maar so met die hoofstroom saam, en teen die prikkels skop tap net te veel energie.

Johanna Botha

Nou begin die sirkus