Verkiesing: AfriForum betrek sy 90 000 lede by waarneming

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, wat onlangs bevestiging van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ontvang het dat die organisasie geakkrediteer is om as verkiesingswaarnemer op te tree, gaan sy volledige ledebasis van 90 000 Suid-Afrikaners betrek by die proses om ’n vry en regverdige verkiesing te help verseker.

AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, wat as sameroeper van die waarnemerspan dien, het gesê dat dit vir AfriForum belangrik is dat Woensdag se verkiesing vry en regverdig sal geskied. Dit kan egter net gebeur as daar soveel moontlik oë en ore op die grond is wat kan dophou dat geen ongerymdhede plaasvind nie.

“AfriForum het as ’n burgerlike instelling ’n direkte belang by die ordelike verloop van die verkiesing.  As organisasie staan AfriForum egter buite die partypolitiek en spits hom hoofsaaklik toe op die bevordering van burgerregte en die belange van veral gemeenskappe wat toenemend deur regeringsbeleid gemarginaliseer word.”

AfriForum het beroep op sy lede gedoen om, wanneer hulle gaan stem, noukeurig dop te hou of al die belangrike vereistes nagekom word. Persone wat wil stem moet hulle identiteitsdokumente byderhand hê, en elke persoon se duim moet met permanente ink gemerk word om te verhoed dat mense meer as een keer stem.

AfriForum het ook ’n spesiale e-posadres, [email protected] geskep waar lede van die publiek enige ongerymdhede wat hulle opmerk, kan aanmeld. ’n Spesiale SMS-lyn is ook vir dié doel geskep. Ongerymdhede kan na 45352 geSMS word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.