Verkiesing begin met spesiale stemme

Die bekendstelling van die nasionale verkiesingsentrum. (Foto: Twitter/ @IECSouthAfrica)

Die Onafhanklike Verkiesingkommissie (OVK) het Maandag opnuut ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om hulself van betogings en protesaksies te weerhou wat daarop gemik is om die nasionale en provinsiale verkiesings te ontwrig.

Stemmery het vanoggend begin met die eerste van meer as 770 000 kiesers wat sedert 09:00 begin het om hul spesiale stemme uit te bring.

Kiesers kon vooraf registreer om vandag en môre óf by kiesstasies óf tuis te stem – dit sluit mense in wat op stemdag moet werk en daarom nie kan gaan stem nie, bejaardes en gestremdes wat weens fisieke uitdagings nie op stemdag na ʼn stemlokaal kan reis nie en kiesers wat op stemdag nie naby die stemlokaal waar hulle geregistreer is gaan wees nie.

Die OVK het in ʼn verklaring gesê die Verkiesingswet verbied politieke vergaderings, optogte, protesaksies en enige ander politieke geleenthede spesifiek op verkiesingsdag. Dit sluit dus ook stakings en ontwrigting van openbare vervoer en telekommunikasie in.

“Hoewel dié verbod streng gesproke slegs op Woensdag 8 Mei van toepassing is, sal stemmery Maandag en Dinsdag by kiesstasies en deur tuisbesoek plaasvind,” het Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte, gesê. Mamabolo het gemeenskappe aangemoedig om ook nie vandag of môre aan burgerlike onrus of betogings wat ʼn impak op verkiesingsbedrywighede sal hê, deel te neem nie.

Die ANC het ook ʼn beroep gedoen op inwoners van Noordwes om toe te laat dat verkiesingsbedrywighede in dié provinsie nie ontwrig word nie. Die provinsie is deur regeringsdepartemente in die sekuriteitsgroepering geïdentifiseer as ʼn brandpunt in vanjaar se verkiesing.

Daar is vanjaar altesaam 1 733 kiesstasies in Noordwes en 29 politieke partye op die provinsiale stembrief.

“Dit is die eerste keer sedert 1994 wat ons geïdentifiseer is as ʼn hoërisiko-gebied, met ʼn moontlikheid vir gewelddadige betogings wat die verkiesing in sommige gebiede kan ontwrig. Dit is ʼn kommerwekkende verwikkeling wat nooit in die provinsie moes kop uitgesteek het nie,” het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, koördineerder van die provinsiale taakspan, gesê.

KwaZulu-Natal is ook geïdentifiseer as ʼn hoërisiko-gebied vir ontwrigting tydens die verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Xannie ·

Wat van mense wat in die hospitaal opgeneem is en dus nie by hul geregistreerde stemlokaal kan kom nie? Verbeur hulle hul stemreg? My ma is die naweek opgeneem en gaan miskien eers ‘n week na stemdag ontslaan kan word. Gaan die OVK hospitale besoek sodat geregistreerde kiesers in die hospitaal kan stem?

Verkiesing ·

Dankie Maroela Media dat julle die lesers op die hoogte hou. Mag die verkiesing glad verloop sonder enige geweld en mag alle mense wat kwalifiseer hulle spesiale stemme nou uitbring. Ook diegene wat in die hospitaal is. Xannie ek weet ongelukkig glad nie hoe dit werk nie.

Ek is verras dat Mnr Pieter Groenewald van die VF+ duidelik en sonder om draaie te loop geantwoord het in ‘n vrae en antwoord sessie op 3 Mei 2019 (news24) dat gay mense gelyke regte moet hê. Hy het verder gesê dat die party staan daarvoor al van 1994 af dat gay mense gelyke regte moet hê. Hy het ook gesê dat daar gay mense is wat lede is van die VF+. Die VF+ kan dus baie meer stemme kry want die persepsie was dat die VF+ net vir sekere mense is van ‘n baie klein geslote gemeenskap en dat enige ander mens uitgelsluit word van die party. Hierdie persepsie het hy met sy antwoorde verkeerd bewys.

Basjan ·

Met ander woorde, die VF+ is gay vriendelik. Kan jy nou meer.

MCS ·

Daar is so baie Judasse op aarde. Ons sal die Here verloon net om ons eie basse te red. Hoeveel keer gaan die haan kraai VF+? Julle is toe nie beter as die ander korrupte partye.

More is dit verkiesing ·

Die leier van die VF+ het tydens dieselfde vrae en antwoord sessie op 3 Mei 2019 die party (VF+) se standpunt oor die Caster Semenya saga gestel: “She’s participated until now, so why now? We believe in fairness. To come now and say we have a problem is unfair. They should have said there was a problem long ago. It’s not only Caster Semenya. There are many Caster Semenyas, and the same question applies: why now? And was it fair and just?”

Dit is goed dat die VF+ meer verlig is as wat die meeste mense dink. Ek het altyd gedink hul beleid kom uit die donker eeue en dit is dus nie die geval nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.