[Verkiesing] DA wil alle munisipaliteite in Wes-Kaap verower

Foto: DA/Youtube

Foto: DA/Youtube

Die DA staan ʼn sterk kans om beheer oor alle munisipaliteite in die Wes-Kaap te verkry in die munisipale verkiesing op 3 Augustus.

Dit is volgens prof. Fanie Cloete, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Die DA het in 2011 se munisipale verkiesing 1 982 789 (57,70%) van die stemme gekry, die ANC 1 156 352 (33,65%) en Cope 60 102 (1,75%).

In die nasionale en provinsiale verkiesing van 2014 het die DA 1 259 645 (59,38%) van die stemme op hom verenig. Die ANC het 697 664 (32,89%) van die stemme gekry, gevolg deur die EFF, wat 44 762 (2,11%) van die stemme gekry het.

Die DA het sy steun aansienlik verbeter in vergelyking met die verkiesing van 2009. Die ANC het ook sy steun in die provinsie effens verbeter, terwyl die EFF vir Cope onttroon het vir die derde plek.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad en Wes-Kaapse leier van die DA, het gesê die party wil al 30 munisipaliteite in die komende verkiesing wen en beheer oor die metro behou deur ʼn volstrekte meerderheid te kry. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, meen egter sy party gaan al die munisipaliteite in die Wes-Kaap verower.

Prof. Cloete sê volgens alle aanduidings sal die DA weer goed presteer in die Wes-Kaap. “Die DA het amper ʼn tweederde-meerderheid behaal in die munisipale verkiesing in 2011 en het in die 2014-verkiesing weer baie sterk vertoon. Verskeie opnames het gewys die DA se bestuur van die provinsie en munisipaliteite is die beste in die land. Die ouditeur-generaal se verslag het dit ook onomwonde bewys.”

Cloete het gesê daar is egter ʼn klomp ontwikkelingsprobleme in die Wes-Kaap waarop die ANC fokus. “Behuising en die lewensomstandighede van swart gemeenskappe is onder andere van die probleme. Dit is egter te verstane, aangesien ontwikkelingswerk en die skep van infrastruktuur baie duur is.”

Volgens Cloete is die skeiding tussen verskillende rasse ook nie na wense nie. “Die persepsie van die DA se bestuur onder armer gemeenskappe is nie altyd baie positief nie. Dit maak sin, want hulle is aan die ontvangkant en daar is nog duidelik baie probleme waaraan die DA moet aandag gee. Maar dit is ook so dat enige regerende party in ʼn provinsie kritiek kry van armer gemeenskappe.”

Die DA sal volgens Cloete vir verkiesingsdoeleindes die armer gemeenskappe moet wys dit gaan nie net oor die beskerming van rykes se belange nie. Volgens Cloete bly die ANC in die provinsie egter verdeeld. “Nie net provinsiaal nie, maar nasionaal, aangesien Jacob Zuma ʼn groot verdelende faktor is.”

Volgens Cloete is die ANC die sterkste in Beaufort-Wes. “Die ANC se kandidaat, Truman Prince, is ʼn verskriklik verdelende faktor en daar is geen waarborg dat die ANC die munisipaliteit sal behou na die verkiesing nie. Inteendeel, ek dink die ANC gaan sukkel om Beaufort-Wes te behou.”

Cloete sê Oudtshoorn is ook een van die ander munisipaliteite waar sake op mespunt is. “Die kompetisie tussen individuele raadslede is baie sterk. Onafhanklike kandidate en die EFF was nie ʼn faktor in die vorige munisipale verkiesing nie en hul rol in die verkiesing gaan baie interessant wees.”

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

Lees alle vorige berigte oor die verkiesingsfokus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frik Lotz ·

Die DA ondersteun dan regstellende aksie, BEE en grondhervorming. Hul jaag nou net swart stemme na en voel niks vir minderheidsgroepe. Hul beleid verskil nie veel van die ANC nie. Nee wat, n stem vir die VF Plus is beslis n beter opsie. DA is n ANC-lite!

leon ·

Ek kan nie vestaan dat somige afrikaners so dom is om nie te verstaan dat sonder regstelende aksie en grond hervorming het ons geen toekoms in hierdie land. Ons is omtrent 8 percent van die bevolking en sal moet op offerings maak, of ons het geen toekoms in die land

Louwboepens ·

Ja ou Frik Lotz.Toe word ou Pieter Mulder `n ANC adjunk minister onder ou tuitbekkie en toe die plaaswerkers amok maak in die Weskaap toe is hy tjoepstil.

Grap ·

Leon jy is nou soos die mense wat kos aandra vir boemelaars wat voor drankwinkel plak en die plek bemors en soos vir hulle se ek altyd baie goeie gebaar maar hoekom vat jy hulle nie na jou huis toe en gee vir hulle blyplek of in jou geval stel die voorbeeld en gee jou eiendom of blyplek af aan ‘n swart persoon en sommer jou werk ook .

Pete ·

As die VF+, en Solidariteit Helpende Hand net regtig hulle werk wou doen en nie valse beloftes maak nie, as hulle nie ons armes hier vertrap het nie, was almal soos een man agter hulle. Die Afrikaner het sy posisie verloor omday hy nie na sy eie wou omsien nie, maar God se liefde word selektief toegepas. Ek se dit met goeie rede; jy is net goed genoeg as jy ‘n goeie werk het en hoog teen die bult woon. Jou VF+ raadslid verguis jou omdat jy vir die regte van verdrukte armes veg. Stel dit reg en wen dalk die volgende verkiesing; dis bietjie laat vir hierdie een. Lees gerus ook https://petehendriksson.wordpress.com/2016/07/28/the-truth-about-south-africa/

Anti DA ·

Beter as die DA wat diskriminerende wette ondersteun gebaseer op velkleur teen wit kinders gebore na 1994

leon ·

Ek sal nooit VF stem hulle doen niks nie. Kyk hou mooi is die wes kaap

Ivorine ·

Die DA is al lankal in Plumstead in beheer en hier word niks gedoen behalwe bome geplant wat dan gelos word om te vrek want niemand sien daarna om nie. Hulle sal moet oppas want die VF+ staan hulle nou tee, en het ‘n goei kans.

Pete ·

Wat verhoed die gemeenskap om betrokke te raak? Toe ons in ‘n woonwapark moes woon, het almal ingespring met verfkwaste toe die bestuurder verf en materiaal vir ons bekom het. Op Rarotonga maak jy self jou straat/pad reg of jy no dokter, apteker, minister of klerk is. Dis te maklik om te verwag iemand anders moet alles doen. Bome wat ek self langs paaie geplant het meer as 40 jaar gelede, groei steeds.

Koos ·

Die DA beheer Pta moot en hier gaan niks aan nie raadslede word net gesien op lamppale voor ‘n verkiesing en dan bly hulle soos mugabe vir jare in dieselfde area want oningeligte mense stem vir ‘n party en nie ‘n persoon.

Hein ·

Ag die DA kan maarin die WK regeer. Hulle moet net wegbly in Pta want die wit minderhede gaan hier geoffer word om meer stemme te werf vanaf Mamelodi.

Eend ·

Die DA is goed vir swart mense en dit is wonderlik as hulle goed doen, maar die VF is die enigste party wat dit nog waag om reguit vir witmense op te kom al is dit polities inkorrek.

Sarie ·

Die Wes-Kaap se demografie is anders as in die res van die land. Meer bruines en wittes. Toe die ANC die Wes-Kaap regeer het was dit ook beter as die ander provinsies.

Koos ·

@Pete dit is hoekom ons belasting betaal aan die munisipaliteit om die stad te onderhou as almal jou siening het het die munisipaliteit minder onderhoud en meer geld om te dief as ons nie belasting hoef te betaal nie sal ons self die plekke in stand hou selfs die karavaan park sou daar een in ons area wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.