[Verkiesing] EFF wil Limpopo rooi verf

Foto: @mbedziir, Twitter

Foto: @mbedziir, Twitter

Die ANC geniet groot steun in Limpopo, maar die EFF kan moontlik sy steun in die provinsie verbeter weens ernstige interne konflik in die regerende party.

Die ANC se steun in Limpopo het met die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 persentasiegewys effens verminder in vergelyking met die vorige verkiesing in 2009, terwyl die EFF hom as die amptelike opposisie in die provinsie gevestig het.

Die ANC het in die 2014-verkiesing 1 149 348 (78,6%) van die stemme op hom verenig, terwyl die EFF 156 982 (10,74%) van die stemme gekry het. Die DA het 94 724 (6,48%) van die stemme getrek, terwyl Cope 12 573 (0,86%) van die stemme gekry het.

In die munisipale verkiesing in 2011, het die ANC 1 847 978 (80,59%) van die stemme gekry, die DA 149 505 (6,52%) en Cope 85 670 (3,74%).

Roland Henwood, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, sê dit is belangrik om in gedagte te hou Limpopo is ʼn plattelandse provinsie met beperkte hulpbronne en die vlak van plaaslike regering is oor die algemeen nie goed nie. Die provinsie het ook ʼn diverse etniese profiel en volgens Henwood kon die ANC tot dusver goed daarop inspeel.

“Daar is egter diep verdeeldheid in die ANC en sien ons ook geweldige konflik in die provinsie. Die beheer van hulpbronne, tradisionele leierskap en die herverdeling van kiesafdelings speel ook ʼn groot rol.”

Vuwani is een van die gebiede wat aandag sal trek in die komende munisipale verkiesing. Vuwani, wat in die Makhado-plaaslike munisipaliteit geleë is, se gemeenskap is woedend omdat hulle moontlik met ʼn naburige munisipaliteit gaan saamsmelt om deel van ʼn nuwe munisipaliteit te vorm. Wydverspreide chaos het uitgebreek en meer as 20 skole is afgebrand of gevandaliseer. Munisipale afbakenings in Limpopo het al verskeie kere tot gewelddadige betogings gelei.

Volgens Henwood sal dit interessant wees om te sien of die munisipale afbakenings ʼn invloed gaan hê op of mense stem of nie. Henwood sê die ANC is tradisioneel baie sterk in plattelandse gebiede. “Dit is baie moeilik vir ander partye om in so ʼn omgewing effektief te organiseer en dit is ook baie duur, daarom hulle moet besluit of dit die moeite werd is om baie hulpbronne daar te gebruik.”

Henwood sê hy verwag die ANC sal steun verloor in die komende verkiesing, maar hy is onseker of ander partye noodwendig daarby gaan baat. “Die DA en EFF kan beter doen in die stedelike gebiede. Die EFF kan ook moontlik in sommige plattelandse gebiede beter vaar, maar dit is onwaarskynlik dat die ANC baie steun sal verloor.”

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het intussen vroeër gesê die aantal onafhanklike kandidate in Limpopo het tot 118 afgeneem teenoor die 200 kandidate in die munisipale verkiesing in 2011.

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

Lees alle vorige berigte oor die verkiesingsfokus op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lance ·

Rooi met bloed …die mense lyk hatig en omgekrap …bedremelld

Eugene ·

Wel die Eff het net in Limpopo in 2014 meer stemme gekry as wat die VF+ in die hele Suid Afrika gekry het! Wat nog te se wat hulle vandag gaan kry.

Anti DA ·

En hulle diskrimineer net so teen wit en bruin mense soos die DA/anc

Lance ·

Almal moet net asb vandag gaan stem ..elke liewe stem is vandag nodig teen die anc wat die land verkrag …elke stem gaan help ASB !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.