[Verkiesing] Gauteng: Fel stryd om die metro’s

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Gauteng se drie metromunisipaliteite, Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni, kan volgens alle aanduidings ná die munisipale verkiesing op 3 Augustus nie meer onder ANC-beheer wees nie.

Die ANC se steun in Gauteng het aansienlik afgeneem in die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014. Die party het 2 348 564 (53,59%) van die stemme op hom gevestig, terwyl die DA se steun toegeneem het. Die amptelike opposisieparty het 1 349 001 (30,78%) van die stemme op hom gevestig. Die EFF het Cope onttroon vir die derde plek in die provinsie deur 451 318 (10,3%) stemme te ontvang. Die VF Plus het 52 436 (10,30%) van die stemme ontvang.

Prof. Koos Malan, dosent in openbare reg aan die Universiteit van Pretoria, sê meningspeilings dui daarop dat die DA beduidend beter vaar in Johannesburg en Pretoria. “Wat ook opvallend is in die meningspeilings is die aanduiding dat die EFF betreklik stabiel gaan bly en glad nie die verwagte opwagting gaan maak soos gedink is nie.”

Johannesburg

Die ANC het in die 2011 munisipale verkiesing 1 272 354 (58,56%) van die stemme ontvang, terwyl die DA 752 304 (34,62%) van die stemme op hom kon verenig in Johannesburg. In die provinsiale verkiesing in 2014 het die ANC 821 109 (52,28%) van die stemme gekry, die DA 508 362 (32,37%) en die EFF 159 105 (10,13%) van die stemme.

Volgens Malan is die DA se groeiende steun in die metro’s ook deels te danke aan die swart middelklas. “Ons sien die verskynsel dat as kiesers in die swart middelklas van die ANC af padgee, hulle óf na die DA gaan óf hul stem weerhou.”

Tshwane

Die ANC het in die 2011 munisipale verkiesing 800 367 (55,32%) stemme ontvang en die DA 559 286 (38,65%) stemme. In die provinsiale verkiesing in 2014 het die ANC 517 741 (49,31%) stemme op hom verenig, die DA 354 403 (33,75%) stemme en EFF 120 849 (11,51%) van die stemme.

Malan meen dit is ook die geloofwaardigheid van die DA se swart leierskap wat ʼn rol speel. “Die DA se kandidate is mense wat buite die politiek presteer het en veral middelklas swart kiesers vind aanklank hierby.”

Ekurhuleni

Die ANC het in die 2011 munisipale verkiesing 968 302 (61,63%) stemme ontvang terwyl die DA 475 985 (30,29%) van die stemme op hom kon vestig. In die provinsiale verkiesing in 2014 het die ANC 622 192 (55,07%) stemme gekry, die DA 328 143 (29,05%) stemme en EFF kon 119 919 (10,61%) stemme op hom vestig.

Die moontlikheid bestaan egter ook dat geen politieke party ná die munisipale verkiesing in die metro’s sal kan regeer sonder die hulp van ʼn koalisievennoot nie. “Dit is interessant dat, indien die maatstaf van politieke ideologie gebruik word, ʼn mens nie ʼn koalisie tussen die DA en EFF in die vooruitsig kan stel nie. Dit is duidelik dat politieke ideologie nie bondgenootskappe gaan bepaal nie,” meen Malan.

“Op skrif is die DA en EFF ver verwyderd – veel meer as die DA teenoor die ANC en die EFF teenoor die ANC. Maar takties gesproke is die moontlikheid dat die DA en EFF ʼn koalisie sal vorm baie sterker vanweë twee groot redes.”

Volgens Malan is die grootste rede vanweë beide party se weersin in pres. Jacob Zuma. “Die Zuma-faktor is wat die ANC en EFF uit mekaar se arms hou. Daar is ʼn geweldige wig tussen die ANC en EFF met Zuma wat bly. Die ander faktor is persoonlike vyandskappe. As mense weens persoonlike redes weersin het, is dit gewoonlik baie erger as ideologiese weersin.”

Malan meen die DA en EFF kan genoeg steun in Pretoria en Johannesburg kry om nie ander partye te benodig vir ʼn koalisie nie. “Die effek wat ons hierdeur kan sien, is dat ʼn koalisie met die DA ʼn matigende invloed op die EFF sal hê. Die DA wil hom as ʼn goeie regeerder vestig en kan dus nouliks radikale standpunte handhaaf aangesien hy sy steun op lang termyn wil stabiliseer.”

Die stryd om Ekurhuleni kan volgens Malan egter tot gevolg hê dat meer partye nodig sal wees om ʼn koalisie te vorm.

Malan sê die ANC se tydsberekening was nog altyd baie goed met al die verkiesings sedert 1994. “Sy verkiesingsveldtogte het elke keer op die regte oomblik ʼn spits bereik, partykeer enkele dae voor die verkiesing, so dit kan nog die prentjie bietjie verander.”

Malan meen egter die onluste wat ʼn ruk gelede in Pretoria gewoed het weens die ANC se burgemeesterskandidaat, kan tot gevolg hê dat baie van die ANC se ondersteuners eerder DA stem of glad nie stem nie.

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

E ·

Ek glo die meeste van ons hoop op bogenoemde uitkoms, maar weereens en ongelukkig is daar goed soos boikots, stemme wat ‘verlore’ raak en bedrog.
Ek hoop so hard soos julle, sal ń blye dag wees.?

Jan maak n plan ·

Sal dit nie n blye dag wees as die ANC nie meer aanbewind is nie, maar ons moet onthou wat die ANC in Potchefstroom gedoen het toe hulle verloor het. Hulle het net eenvoudig nie die leisel oor gegee nie.

Lida ·

Die DA het te hard baklei om te wen. Hulle sal hulle nie van die ANC laat intimideer nie glo my.
Ek glo dit sal die DA wees omdat hulle tans die sterkste party is. Enige party is welkom solank die ANC net in die stof byt. Sal dit nie ‘n blye dag wees nie !!!!

Hein ·

Moenie bekommerd wees nie Lida. Afriforum sal weer al die opposisie help om die dienste aan die hang te hou soos hulle die afgelope 5 jaar gedoen het. Hulle het selfs die DA gehelp om die rioolstorting in Houtbaai op te los nadat die DA metro nie die nodige kundigheid gehad het agv die “AA” beleidsrigting wat hulle ondersteun nie. Lida die grootste vyand in die val van die munisipaliteite is beleidsrigting van AA, BEE en kwotas wat die DA, ANC, EFF, Cope ens ondersteun. Die engste party wat direk teen dit stry is die VF+. Dis hoekom julle nerens gaan kom nie al wen julle Pretoria.

Anti DA ·

As ek vandag ‘n rooi baadjie by die werk aanhet en my diens is swak gaan dit geen verskil maak as ek die dag daarna ‘n groen baadjie aantrek my diens sal swak bly.die dag as die DA nie meer diskrimineer teen wit mense met hulle ondersteuning van diskriminerende wette nie en regverdig is met alle alle burgers wit swart of bruin dan sal Suid-Afrika weer gesond word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.