[Verkiesing] Konflik, geweld kan bepalend wees in KZN

Foto ter illustrasie: Molaole Montsho/ANA

Foto ter illustrasie: Molaole Montsho/ANA

Die DA het tydens die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 amptelik die opposisie geword in KwaZulu-Natal, histories ʼn IVP-vesting. Met die EFF se opkoms en die NFP wat volgens alle waarskynlikheid nie aan die verkiesing gaan kan deelneem nie, kan dinge heelwat anders daaruit sien ná 3 Augustus.

Die ANC het in die 2014-verkiesing in dié provinsie 2 475 041 (64,52%) van die stemme op hom verenig, terwyl die DA amptelik die opposisie geword het nadat die party 489 430 (12.76%) stemme ontvang het. Die IVP was derde met 416 496 (10,86%) van die stemme en die NFP het 280 425 (7,31%) van die stemme gekry. Die EFF moes met die vyfde plek tevrede wees nadat die party net 70 823 (1,85%) van die stemme op hom kon vestig.

In die munisipale verkiesing in 2011 het die ANC 3 184 260 (56,79%) stemme gekry, gevolg deur die IVP met 886 020 (15,80%) van die stemme. Die DA het 666 152 (11,88%)  van die stemme op hom gevestig en die NFP het 582 463 (10,39%)  van die stemme gekry.

Dr. Maxwell Shamase, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Zoeloeland, meen dit is “ja en nee” dat die DA as die amptelike opposisieparty sal seëvier ná die munisipale verkiesing. “Die DA het baie goeie vordering gemaak op plekke wat voorheen IVP- en ANC-vestings was. Hulle het deur-tot-deur-veldtogte in landelike gebiede van stapel gestuur en ʼn mens sien ook nou hul verkiesingsborde in die areas.”

Volgens Shamase kan die prentjie egter verander indien die NFP nie aan die verkiesing deelneem nie. “Die party se ondersteuners kan dan dalk eerder vir die ANC of IVP stem. Die EFF kan ook nie onderskat word nie.”

Shamase het gesê geweld en ongelukkigheid oor partye se kandidatelyste sal moontlik ook ʼn rol speel. KwaZulu-Natal is die laaste paar maande geruk deur moorde op verskeie moontlike raadslidkandidate. Volgens berigte is minstens 12 ANC-leiers die afgelope twee maande in die provinsie vermoor.

“Die regerende party het vir die eerste keer erken dat die moorde met posisies in die party verband hou. Gemeenskapslede het voorheen die kandidate gekies, maar die party het dié keer self gekies.” Verskeie gewelddadige betogings het gevolg nadat die ANC in die provinsie sy lys van kandidate bekend gemaak het, met woedende ondersteuners wat meen kandidate word op hulle afgedwing.

Volgens Shamase speel faksies verder ʼn rol. “Daar is hoofsaaklik twee groepe. Daar is dié wat Senzo Mchunu [voormalige premier] steun en diegene wat Sihle Zikalala [provinsiale voorsitter van die ANC] steun. ʼn Mens kan egter sien dat die ANC weer eenheid probeer bewerkstellig.

Mchunu se ondersteuners dreig egter om vir onafhanklike kandidate te stem in die verkiesing. In die eThekweni-munisipaliteit, waar 103 wyke op die spel is, is daar minstens 58 onafhanklike kandidate. Talle van hulle is glo voormalige ANC-lede.

Hoewel dit bekend is dat pres. Jacob Zuma groot steun geniet in partystrukture in die provinsie, het die EFF vroeër gesê dié party is uiters gewild in KwaZulu-Natal.

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

Lees alle vorige berigte oor die verkiesingsfokus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anti DA ·

Ek stem VF + en weet die DA kan nêrens buite die weskaap wen sonder om ‘n koalisie te vorm met die VF + nie maar ek weet ten minste ek stem nie vir ‘n party wat diskriminerende wette teen wit en bruin kinders ondersteun nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.