[Verkiesing] Mpumalanga ʼn ANC-vesting ondanks erge binnegevegte

Argieffoto

Argieffoto

Mpumalanga se politiek word gekenmerk deur erge binnegevegte in die ANC, maar volgens alle aanduidings sal die regerende party weer hier ʼn wegholoorwinning behaal.

In die munisipale verkiesing in 2011 het die ANC 1 467 447 (78,03%) van die stemme gekry, die DA 259 189 (13,78%) en Cope het 20 397 (1,08%)van die stemme op hom verenig.

Die ANC het sy topposisie in Mpumalanga behou ná die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014, maar het minder stemme gekry as in 2009 se verkiesing. Die DA se steun het effens verbeter terwyl die EFF vir Cope geklop het vir die derde plek. In die 2014-verkiesing het die ANC 1 045 409 (78,23%) van die stemme op hom gevestig terwyl die DA 138 990 (10,40%) van die stemme verseker het. Die EFF het 83 589 (6,26%) stemme gekry.

Daar is nie ʼn enkele munisipaliteit in Mpumalanga waar die ANC nie ʼn meerderheid van minder as 65% het nie.

Roland Henwood, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, sê daar is baie armoede in Mpumalanga en dat kiesers baie sterk ANC-gesind is. “Die grootste probleem is binnegevegte. In  Mpumalanga is die sentrale leierskap sterk gevestig en daar is mense wat premier David Mabuza onder druk probeer plaas het, maar daar is geen tekens dat dit suksesvol was nie.”

Volgens Henwood is daar geweldige konflik op plaaslike regeringsvlak. “Raadslede en burgemeesters kom in opstand en talle munisipaliteite is onder administrasie geplaas. Die sentrale leierskap het ’n sterk greep op die provinsie en niemand kan die premier suksesvol uitdaag nie. Daar was ook al verskeie voorvalle van geweld en die afgelope paar jaar was daar voorvalle waarin dienende raadslede vermoor is. Die patroon is dieselfde as wat op ander plekke uitspeel. Daar is egter baie minder geweld in dié stadium.”

Henwood meen die EFF kan plek-plek iets bereik in Mpumalanga terwyl die DA nie ʼn hoë profiel in die provinsie het nie. “Mpumalanga het byvoorbeeld ʼn groter semistedelike sentra en die DA kan dalk in die plekke ʼn paar setels kry. Daar is groot dinge wat met en binne die ANC gebeur, maar my verwagting is dat die regerende party sterk steun in die provinsie sal behou en dat die opposisiepartye kleiner kan lyk. Dit is onwaarskynlik dat kiesers op grootskaalse vlak sal wegbeweeg van die ANC.”

Die DA het oor die jare goeie steun opgebou in sekere wyke tydens tussenverkiesings. Die IVP geniet die meeste van sy steun in die provinsie in die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit.

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

Lees alle vorige berigte oor die verkiesingsfokus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

African ·

We Africans we like to be abused by our leaders, the mor thyy abuse us the mor we love them.

CHRISTA ·

As hulle wil voortgaan om vir die ANC te stem moet hulle in die toekoms nie kla oor dienslewering nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.