[Verkiesing] Munisipale verkiesing sal as ‘referendum’ dien

Argieffoto

Argieffoto

Die algemene verwagting onder politieke ontleders is dat die ANC steun sal verloor in die komende munisipale verkiesing en dat dit as ʼn tipe “referendum” sal dien.

Prof. Susan Booysen, politieke ontleder aan die Universiteit van die Witwatersrand, meen die uitslag van die verkiesing sal egter veel meer aan die lig bring as net die ANC se dalende steun. “Dit sal op ’n manier neerkom op ʼn referendum oor die ANC en hoe die politieke landskap van Suid-Afrika moontlik in die toekoms kan lyk.”

In die munisipale verkiesing in 2011 het die ANC nasionaal 16 548 970 (61,95%) van die stemme op hom verenig, die DA het 6 393 890 (23,94%) van die stemme gekry en die IVP 954 021 (3,57%).

In die nasionale verkiesing in 2014 het die ANC 11 436 921 (62,15%) van die stemme gekry, die DA 4 091 584 (22,23%) en die EFF 1 169 259 (6,35%) van die stemme.

Volgens Booysen het die ANC ʼn baie suksesvolle verkiesingsveldtog gehad en kon die party daarin slaag om die kwessies rondom pres. Jacob Zuma in die agtergrond te skuif. Sy meen dit kon maklik ʼn referendum oor Zuma gewees het, maar dat dit nou eerder oor die party in geheel sal gaan.

Booysen sê die uitslag van die munisipale verkiesing sal wys in watter mate tradisionele ANC-kiesers skuif en dit kan uiteindelik ook ʼn groot verskuiwing in Suid-Afrika se politieke landskap teweegbring. “Dit sal toon in watter mate die ANC nog as ʼn bevrydingsparty gesien word teenoor ʼn party wat nie werklik aanspreek hoe mense op grondvlak voel nie.”

Volgens Booysen gaan die DA egter vooruit soos wat die ANC geleidelik agteruitgaan. Sy meen die DA se steun gaan egter nie dramaties toeneem in die komende verskiesing en so ook nie dié van die EFF nie. Volgens Booysen is daar slegs geleidelike verandering in Suid-Afrikaanse politiek.

Booysen sal ook nie verbaas wees as die ANC se steun in die komende verkiesing tot onder 60% sak nie. “Die DA se steun kan toeneem tot amper 30% terwyl die EFF sy steun moontlik tot 16% kan opskuif.”

In die onderskeie provinsies word daar egter op talle plekke ʼn fel stryd tussen die partye verwag. In Gauteng kan die ANC moontlik sy meerderheid verloor in die drie metromunisipaliteite – Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni.

In die Oos-Kaap woed daar ook ʼn fel stryd om Nelson Mandelabaai waar die ANC se steun in die afgelope verkiesings erg afgeneem het. Die DA is intussen positief dat hy in die komende verkiesing beheer oor al die munisipaliteite in die Wes-Kaap kan kry. Die EFF wil sy steun veral in Limpopo aansienlik vergroot.

Maroela Media plaas vandeesweek verskeie artikels met die fokus op volgende week se munisipale verkiesing op 3 Augustus.

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KLEIN ·

Dit is as hulle reg kan tel en daar geen korrupsie is nie dan kan dit moontlik wees.

Wern ·

Afrika inwoners moet eers baie hard deur hulle eie leiers geskop word voor hulle bietjie begin dink voor hulle n kruisie trek, soos in zim raak hulle nou eers moeg, nou eers. So ek verwag nie te veel verlies van steun vir die ANC nie. Afrika mense dink ook nie mooi as beloftes gemaak word of dit haalbaar is nie en val graag vir onrealistiese beloftes, en hulle glo hulle verdien die heelal net omdat hulle so oulik is, daarom glo ek baie meer gaan in die EFF strik trap. Ek het nie veel verwagtinge vir die verkiesing nie, net nog n piesangrepubliek verkiesing.

Hein ·

Dit beteken indien die verkiesings uitslae is soos die prof voorspel het, gaan kleiner partye soos die VF+ nog groter rol speel in die politiek. Dis kan die mense maar met ‘n oop gemoed stem vir die kleiner partye want die groter partye soos die DA , EFF en die ANC gaan GROOT veranderinge maak om meer kiesers te trek vir die nasionale verkiesing 2019. Ek is bevrees dat hierdie veranderinge (lae koste behuising in alle oop gebiede in stede en dorpe, grond onteiening, hoe belasting op tradisione woonbuurte om die nie-betalende woonbuurte te subsideer, skole met een taal beleid deur DA,EFF en ANC ) gaan tot nadeel wees vir die wit minderheid.

Loeis ·

Die mense wie vertel dat jy jou stem mors as jy vir ‘n kleiner party stem, moet ophou lieg.

‘n Koalisie waarvan partye soos VF+ deel is het natuurlikk die voordeel dat daar oor die grootter partye se skouers geloer sal word, iets wat bitter nodig is om korrupsie uit te roei en minderhede se regte te beskerm.

Koos1 ·

Tong in die kies: 60+30+16=106%
Met die kiesersrol probleme en die IEC sal die som glad nie onmoontlik wees nie!

Jacques ·

Hehehehe. Soos die ou storie gaan in Ingils. ” you get lies, damned lies and statistics”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.