Verkiesing nie enigste uitweg tot veilige Suid-Afrika

Wynand van Fortis Group wys hoe om jouself teen 'n mes te verdedig Foto: Ian Cameron, Twitter

Wynand van Fortis Group wys hoe om jouself teen ‘n mes te verdedig Foto: Ian Cameron, Twitter

‘n Video volg onderaan die berig. Die burgerregte-organisasie AfriForum doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om te fokus op veiligheidselfdoenvermoë, nadat hulle aan die verkiesing deelgeneem het.

AfriForum het die afgelope paar weke verskeie navrae van lede ontvang het oor die toekoms van en stabiliteit in die land na afloop van die verkiesing.

“Met uitlatings deur politieke leiers soos Julius Malema van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) wat onder meer gesê het ‘Wit Suid-Afrikaners moenie swart Suid-Afrikaners se geduld toets nie’ en ander openbare figure wat paniek saai deur misdaad spesifiek toe te wys aan swart wat wit sodanig wil uitmoor, is dit tog te verstane dat Suid-Afrikaners onseker en bekommerd voel oor die toekoms in die land,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Cameron het gesê dat veiligheid tot ʼn groot mate in Suid-Afrikaners se eie hande is en dat hulle betrokke moet raak by veiligheidsnetwerke, omdat die regering versuim om sy pligte na te kom om Suid-Afrikaners te beveilig.

“Natuurlik moet almal aan die verkiesing deelneem om ʼn regering te herorganiseer en weer ʼn polisiediens op die been te bring wat misdaad doeltreffend bekamp, maar AfriForum is van mening dat daar ʼn nuwe realiteit geskep moet word waar ons die vermoë skep vir burgers om weer veilig te voel, ongeag die regering se sukses of mislukking,” het Cameron bygevoeg.

AfriForum lei nou mense regoor Suid-Afrika op en het in drie maande 740 van hulle lede bemagtig met verskeie veiligheidskursusse soos noodhulp, selfverdediging, teenverkragtingsopleding en insidentbeheer.

“Samesyn word gevestig sonder politieke oortuiginge, maar eerder met ʼn nie-politiese uitkyk oor hoe die toekoms wel rooskleurig kan wees as gemeenskappe self aksie neem om ʼn gebied, distrik of dorp te versterk en beveilig,” sê Cameron. “AfriForum se ledetal groei maandeliks, en met meer as 90 000 lede, kan ʼn organisasie soos dié ʼn vermoë skep om nuwe realiteite binne gemeenskappe te vestig, met ‘selfdoen’ as die antwoord.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.