‘Verkiesing-ongerymdhede’ in KZN ondersoek

Argieffoto

Argieffoto

Bewerings het Maandag aan die lig gekom dat pensioenarisse in ʼn wyk van die KwaDukuza plaaslike munisipaliteit in KwaZulu-Natal toegelaat is om twee keer te stem en dat ANC-lede die stemstasie beman het.

Die pensioenarisse is glo toegelaat om spesiale stemme uit te bring ʼn paar dae voor die verkiesing en het daarna weer op verkiesingsdag gaan stem. Daar word ook beweer dat die verkiesingsbeamptes by die stemstasie aktief betrokke is by die ANC in die streek.

Nadat die bewerings aan die lig gekom het, het die DA ʼn strafregtelike aanklag by die KwaDukuza-polisiestasie aanhangig gemaak. Die IVP en EFF het ook klagtes by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn aanklag van verkiesingsbedrog ondersoek word. “Ons kan nie in dié stadium meer besonderhede bekendmaak nie aangesien die saak steeds ondersoek word. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

Dumisani Ndimande is uiteindelik as die wenkandidaat in die betrokke wyk aangewys. Die DA se Thokozani Gumede het Maandag beweer dat die pensioenarisse wat twee keer gestem het, op die verkiesingsdag deur ʼn verkeersbeampte in Ndimande se motor opgelaai en na die stemstasie toe gevat is. Gumede het gesê die verkeersbeampte was die kleinseun van een van die pensioenarisse.

Volgens Gumede het die pensioenarisse nie ink-merke op hul duime gehad nie en is hul vingerafdrukke ook nie geneem toe hulle hul spesiale stemme uitgebring het nie. Een van die pensioenarisse het intussen glo ʼn verklaring aan die polisie afgelê oor die groep wat twee keer gestem het.

Kate Baphela, die woordvoerder van die OVK, het gesê sy sal Dinsdag kommentaar lewer oor die aangeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan maak n Plan ·

En dis hoe jy wykke wen. Baie slim en dis ook hoekom die ANC nooit sal toelaat dat elektroniese stemme gebruik word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.