[Verkiesing] Ontnugtering bepalend in Noord-Kaap

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die rassedemografie in die Noord-Kaap en ontnugterde kiesers sal moontlik ʼn groot rol speel in dié provinsie met die uitkoms van die munisipale verkiesing op 3 Augustus.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die Noord-Kaap, die grootste provinsie met die kleinste bevolking, se kiesers stem hoofsaaklik op ʼn etniese rasselyn. “In die gedeeltes meer na die ooste is die Tswana-groepering sterk en domineer die ANC. In gebiede waar dit meer yl bevolk is soos na die weste se kant toe, is dit duidelik dat opposisiepartye beter vaar.”

Die ANC se steun in die Noord-Kaap het aansienlik verbeter ná die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014. Die DA het sy steun in die provinsie amper verdubbel om die amptelike opposisieparty in die provinsie te word. Cope was voorheen die amptelike opposisieparty, maar is ook deur die EFF onttroon vir die derde plek.

Die ANC het in die 2014-verkiesing 272 053 (64,4%) van die stemme op hom verenig. Die DA het 100 916 (23,9%) van die stemme gekry, die EFF 20 951 (5%) en COPE het 15 214 (3,6%) van die stemme ontvang.

In die munisipale verkiesing in 2011 het die ANC 449 022 (63,12%)  van die stemme gekry, die DA 156 460 (21,99%) en Cope het 83 853 (11,79%) van die stemme gekry.

Volgens Duvenhage sal die Khoisan-revolusieparty nie ʼn groot impak hê nie aangesien hulle nie genoeg getalle het om hulle deur te dra nie. “Cope is sterker in die Noord-Kaap as in ander provinsies maar steeds klein. Die ANC se steunbasis sal veilig wees, maar gaan waarskynlik verswak.”

Volgens Duvenhage is die redes hiervoor onder meer swak dienslewering en die John Block-skandaal. “Die gety is bietjie teen die ANC weens die primêre rassedemografie.”

Duvenhage het gesê die DA sal waarskynlik die amptelike opposisieparty in die provinsie bly. “Daar is wel sekere omgewings waar die EFF amptelik die opposisie kan word.”

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme. 

Lees alle berigte oor die verkiesingsfokus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Veritas ·

G’n wonder ek sukkel so met wiskunde nie. My onderwysers het my al die tyd verkeerd geleer. Ek ontdek nou eers dat 5% en 3,6% dieselfde is nl. 20951

Sune van Heerden ·

Dagsê Veritas

Ons vra om verskoning vir die flater! Cope se aantal stemme is nou gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

John ·

Mense gee Nico ‘n ‘break’. Ons almal is deesdae ontnugter al strompelende deur die chaos ter lande. Die winde van noord en suid waai kwaai en maak ons somme deurmekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.