Verkiesing: Owerhede ‘slaggereed’ om ontwrigting te verhoed

Argieffoto (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Die interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid (JCPS) het Donderdag hul plan van aksie bekend gemaak wat oor die volgende ses dae geïmplementeer sal word in aanloop tot die algemene verkiesing wat Woensdag sal plaasvind.

Luidens ʼn verklaring wat namens die JCPS uitgereik is, sal veiligheid deur alle betrokke departemente en belanghebbendes gedurende die verkiesing gekoördineer word om te verseker dat alle Suid-Afrikaners hul konstitusionele reg om te stem volgende week kan uitoefen.

Kiesers sal by altesaam 22 924 stemstasies landswyd hul kruisies kan trek. Daar sal nege uitslae-sentrums in die onderskeie provinsies beskikbaar wees, asook die nasionale verkiesingsentrum in Pretoria vir die nasionale verkiesingsuitslae.

ʼn Totaal van 51 306 polisiebeamptes sal by die onderskeie stemlokale ontplooi word om enige kriminele aktiwiteite hok te slaan. Wetstoepassingsagentskappe sal ook veiligheidsdienste aan stembeamptes verskaf wat die stembriewe op die dag sal aflewer en oplaai.

Volgens die JCPS sal geen protesaksie geduld word nie.

Vyf spanne sal beskikbaar wees om enige plek in die land ontplooi te word indien wetstoepassingsbeamptes hulp benodig in hoërisiko‑situasies. Luidens die verklaring is die gebiede met die hoogste risiko vir probleme geïdentifiseer as Noordwes en KwaZulu-Natal.

Die sowat 170 000 gevangenes in Suid-Afrikaanse tronke sal ook, ongeag die tipe vonnis opgelê of die oortreding gepleeg, kan stem met stembeamptes wat by 243 korrektiewe sentrums in die land ontplooi sal word.

Luidens die verklaring is die JCPS vol vertroue dat alle veiligheidsmaatreëls getref is om volgende week ʼn vrye en regverdige verkiesing te verseker.

Dié sekerheidsplan vir die verkiesing word deur die nasionale, provinsiale en plaaslike strukture van die JCPS uitgevoer. Dié strukture bestaan onder meer uit die polisie, die nasionale weermag, die departement van binnelandse sake, die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK), die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, die staatsveiligheidsagentskap (SSA) asook ander belanghebbendes.

Die departement van binnelandse sake sal ook van 6 tot 8 Mei sy werksure verleng vanaf 16:00 tot 19:00 vir diegene wat die departement se dienste op dié dae gaan nodig kry om te kan stem. Landsburgers kan gedurende dié dae uitstaande identiteitsdokumente tussen 08:00 en 19:00 gaan afhaal om te kan stem. Ook diegene met tydelike ID’s sal die geleentheid gegun word om te stem.

Die departement sal ook die mense wat hul besittings en identiteitsdokumente in die onlangse oorstromings in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap verloor het, tegemoet kom met meer as 300 identiteitsdokumente wat in die Oos-Kaap en 121 in eThekwini, KwaZulu-Natal, uitgereik sal word. Die Umngeni-kantoor sal Saterdag oopmaak om diegene te help met hulle dokumente.

Die nasionale weermag sal ook ondersteuning aan die OVK bied om kiesers se veiligheid te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
marous

En in Limpopo weier skole om persele as kiespunte te laat gebruik . Waar gaan die mense nou stem ?

Andre

Is dit die grappie van die dag?

marco polo

Die berig moet eintlik lees ‘owerhede slaggereed om te monitor’. As hulle nie eens proteste en die gepaardgaande brand en.plunder kan keer nie, hoe gaan hulle kriminele aktiwiteite stop?

zoom zoom

Ek het nogsteeds nie ‘n kospakkie, R400, rooi oorpak of enige ander kleur T hemo gekry nie vansf enige party. So ek gaan nie stem nie.

Tienie

Gevangenes kan en mag stem.

So ook die wat nie meer in SA bly nie…

Dit gaan lekker in hierdie land…..