[Verkiesing] Só lyk die finale uitslag in die Oos-Kaap

Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth Foto: Niel Grundling, Panoramio (via stadiumdb.com)

Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth Foto: Niel Grundling, Panoramio (via stadiumdb.com)

Die ANC se steun in die Oos-Kaap het effens afgeneem en dié party kon slegs daarin slaag om een van die provinsie se twee metromunisipaliteite te wen.

Met 100% van die stemme wat getel is het die ANC 2 395 156 (65,31%) van die stemme en 996 setels ontvang, die DA 722 312 (19,7%) van die stemme en 211 setels en die EFF 189 935 (5,18%) van die stemme en 73 setels.

Die ANC kon egter nie daarin slaag om ʼn meerderheid in twee van die provinsie se 33 munisipaliteite te kry nie. Die DA is ná die verkiesing die grootste party in die Nelson Mandelabaai-metro nadat die party 355 471 (46,71%) van die stemme en 57 setels gekry het. Die ANC het 311 416 (40,92%) van die stemme en 50 setels ontvang terwyl die EFF 38 951 (5,12%) van die stemme en ses setels gekry het.

Die DA het ook die Kouga-munisipaliteit met ʼn meerderheid ingepalm. Die DA het daar 42 907 (56,49%) van die stemme en 17 setels gekry terwyl die ANC 30 816 (40,57%) van die stemme en 12 setels gekry het. Die EFF het 729 (0,96%) van die stemme gekry.

Die ANC het ná die munisipale verkiesing in 2011 nog meer as 70% steun in die Oos-Kaap gehad. Die party het in dié verkiesing 2 510 465 (71,38%) van die stemme gekry. Die DA het 569 636 (16,20%) van die stemme gekry en Cope 142 544 (4,05%) van die stemme.

Die ANC se steun het min of meer dieselfde gebly in die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014, in vergelyking met die vorige verkiesing in 2009. Die DA het in 2014 as amptelike opposisieparty in die provinsie by Cope oorgeneem. Die ANC het 1 528 345 (70, 09%) van die stemme in die Oos-Kaap op hom gevestig. Die DA het 353 316 (16,2%) van die stemme gekry, die UDM 134 280 (6,16%) en die EFF het 75 776 (3,48%) van die stemme gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

@GooiMielies ·

Ek voel die DA, EFF, kleiner partye moet saamwerk en SA verander. Gee hulle 20 jr om te wys wat hulle kan uitrig [verkiesing]

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.