[Verkiesing] Só lyk finale uitslag in KwaZulu-Natal

Argieffoto

Argieffoto

Die IVP het sy slag gewys in KwaZulu-Natal en in die proses die DA as amptelike opposisieparty onttroon.

Met 100% van die stemme getel het die ANC 3 728 878 (57,48%) van die stemme en 995 setels op hom verenig. Die IVP het 1 192 704 (18,39%) van die stemme en 419 setels gekry terwyl die DA 983 776 (15,16%) van die stemme en 185 setels ontvang het. Die EFF het 3,46% van die stemme en 59 setels gekry.

Die ANC kon daarin slaag om ʼn meerderheid in 31 van die 43 munisipaliteite te kry terwyl die IVP ʼn meerderheid in ses munisipaliteite behaal het, waaronder Nkandla – pres. Jacob Zuma se tuisdorp.

Die DA het tydens die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 amptelik as opposisie oorgeneem by die IVP in KwaZulu-Natal.  Die ANC het in die 2014-verkiesing in dié provinsie 2 475 041 (64,52%) van die stemme op hom verenig, terwyl die DA 489 430 (12,76%) stemme ontvang het. Die IVP was derde met 416 496 (10,86%) van die stemme en die NFP het 280 425 (7,31%) van die stemme gekry. Die EFF moes met die vyfde plek tevrede wees nadat die party net 70 823 (1,85%) van die stemme op hom kon vestig.

In die munisipale verkiesing in 2011 het die ANC 3 184 260 (56,79%) stemme gekry, gevolg deur die IVP met 886 020 (15,80%) van die stemme. Die DA het 666 152 (11,88%)  van die stemme op hom gevestig en die NFP het 582 463 (10,39%)  van die stemme gekry.

Politieke ontleders het egter voor die verkiesing voorspel dat dinge heelwat anders daaruit sou sien ná die verkiesing met die EFF se opkoms en die NFP wat nie aan die verkiesing deelgeneem het nie.

In eThekwini (Durban), die provinsie se enigste metromunisipaliteit, het die DA sy steun verbeter terwyl die NFP se nie-deelname klaarblyklik nie ʼn groot impak gehad het nie. Die Minority Front het sleg vertoon terwyl vier onafhanklike kandidate verkies is.

Die ANC het steeds beheer in die metro maar sy steun het van 61% in 2011 na 56,01% vanjaar gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Arina ·

Veels geluk aan die IVP en DA. Ook geluk aan die VF+ wat vir die eerste keur 2 setels ingepalm het in Natal. Sterkte aan die bekwame Dr Laurie Bosman wat een van die 2 setels verteenwoordig in Newcastle

Arina ·

Geluk aan die DA en IVP. Veels geluk VF+ met jul twee setels, eerste ooit in Natal

Cherokee ·

Ek voeg my stem by die van Arina en wens julle saam met haar geluk.
Welkom in Natal VF+. As julle hier om setels veg hoef ek nie buite stemming te bly.

Cherokee ·

Miskien moet die DA en IVP dit oorweeg om te koaliseer in eThekweni.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.