ʼn Week voordat Suid-Afrikaners na die stembusse gaan om aan vanjaar se verkiesing deel te neem, het hul landgenote wat oorsee bly, vandag begin om hul kruisies te trek.
“Mense van Amsterdam en Nieu-Seeland het gisteraand [Dinsdagaand] al begin stem,” het Kate Bapela, ʼn woordvoerder van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), gesê. “Die stemmery sal vandag in die res van die wêreld voortduur.”
Volgens die OVK verloop dinge sover vlot. “Tot dusver gaan dit goed, ons het nog nie enige teenstrydige berigte ontvang nie en verneem dat die stemproses glad verloop,” het sy bygevoeg.
Meer as 26 400 mense het suksesvol aansoek gedoen om oorsee te stem. Londen het die meeste aansoeke, altesaam 9 863, ontvang van Suid-Afrikaners wat daar bly. Dubai is tweede met 1 539 geregistreerde kiesers. – SAPA