Verkiesing voor einde Mei geproklameer

Die amptelike bekendstelling van die verkiesing het vanoggend tydens ‘n glansgeleentheid in Midrand plaasgevind. Foto: Twitter (@IECSouthAfrica)

Vanjaar se algemene verkiesing sal voor die einde van Mei geproklameer word, maar die presiese kiesdatum sal eersdaags bekend wees.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ook aangekondig dat Suid-Afrikaners in die buiteland van 1 tot 4 Februarie kans het om by die land se 121 buitelandse ambassades as kiesers te registreer.

Die nuus volg op die amptelike bekendstelling van die verkiesing vanoggend in Midrand by ʼn glansgeleentheid wat deur verskeie politici en ander toonaangewende gemeenskapsleiers bygewoon is.

Die OVK het die geleentheid benut om ʼn reklameveldtog bekend te stel wat daarop ingestel is om veral jong Suid-Afrikaners aan te moedig om as kiesers te registreer en te stem.

Soos die tendens wêreldwyd ook is, is Suid-Afrikaanse kiesers onder 30 jaar die traagste om hul kruisies te trek.

“Jong mense is potensieel ʼn magtige en belangrike kiesersblok, maar totdat hulle registreer en stem, kan hulle geen invloed uitoefen nie,” het die OVK-voorsitter, Gen Mashinini, by die geleentheid gesê.

Die OVK het selfs ʼn nuwe woord vir jong mense geskep, gewortel in Afrikaans en tsotsi-taal, naamlik Xsê.

“Dis ʼn uniek Suid-Afrikaanse frase wat cool is en in alle kultuurgroepe gebruik word,” het Sy Mamabolo, die hoofkiesbeampte, die keuse verduidelik. “Dit beteken om jou stem te laat hoor en herinner almal aan die kruisie wat hulle op stemdag moet trek.”

Enigeen met vrae oor die verkiesing kan die OVK-kontaksentrum Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 17:00 bel. Operateurs is in enige van die 11 ampstale beskikbaar.

Die klem is op die laaste kiesersregistrasienaweek van 26 tot 27 Januarie wanneer al 22 927 stempunte landwyd vir registrasie oop sal wees. Kiesers moet hul ID-boeke of ID-kaarte saamneem om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

Die xsê heel oorspronklik gaan iemand nou ń rasse ding daarvan maak?

Alida ·

Wonder hoeveel kos is verorber tydens die glans geleentheid. Tee en n toebroodjie sou voldoende gewees het vir die aankondiging!

Zumie ·

Terwyl ons nou verkiesings maltyd nader het ek ‘n praktiese voorstel dat daar op ‘n webbbladsy die “oorwinnings” van die huidige regeringspaty uiteengesit word soos Eskom. SAL, SABC ens ens ens, – en ook die propaganda oefeninge soos die doodskis saak, die huidige simpel Schweizer skoolklug , Clifton strandgrap ens ens ens en dat die rekord gereeld bygehou word sodat kortgeheu stemmers kan herrinner …. meeste vergeet onmiddelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.