Verkiesing: Vuwani-inwoners gaan eerder sokker speel

OVK-beamptes het Dinsdag ure lank vir inwoners van Vuwani gewag om spesiale stemme uit te bring. Foto: ANA

OVK-beamptes het Dinsdag ure lank vir inwoners van Vuwani gewag om spesiale stemme uit te bring. Foto: ANA

In die stowwerige strate van Vuwani se informele nedersetting, Vyeboom, hang geen verkiesingsplakkate van partye of onafhanklike kandidate nie. In teenstelling met ander gebiede, kon geen politieke party die inwoners van dié gebied bekoor of beloftes aan hul maak nie.

Die regering en senior tradisionele leiers het verlede week ʼn vredesooreenkoms onderteken om gewelddadige optrede in die gebied te verhoed en die inwoners te oorreed om te stem, Maar teen Dinsdagaand, op die vooraand van die verkiesing, is dié ooreenkoms so te sê ongedaan gemaak.

Inwoners het besluit om eerder sokker en ander speletjies te speel as om by die miljoene ander Suid-Afrikaners aan te sluit en in die munisipale verkiesing te stem. Sowat 26 miljoen Suid-Afrikaners is geregistreer om te stem.

Verskeie inwoners het gesê om aan die verkiesing deel te neem sal wees om “te aanvaar en goed te keur dat hulle deel wil wees van ʼn nuwe munisipaliteit”.

Vuwani-inwoners het in Mei die hooggeregshof genader om die munisipale afbakeningsraad se besluit, om ʼn nuwe munisipaliteit te skep wat dié gebied sou insluit, om te keer. Die inwoners was egter onsuksesvol in die aansoek en gewelddadige betogings het gevolg. Minstens 20 skole is tydens die betogings afgebrand en eiendom en motors is beskadig.

Inwoners het Dinsdag na plakkate verwys wat niks met die verkiesing te doen het nie. “Daar is ʼn plakkaat,” het Steven Matamela, een van die inwoners, gesê en gewys na ʼn A4-grootte plakkaat op ʼn muur. “Ons gaan aan ʼn toernooi deelneem. Ons gaan sokker speel. Ons het dit só beplan. Dis jammer dat ons lojaliteit op die sokkerveld gaan wees.”

Hy het gesê daar sal ook ander speletjies plaasvind in die gebied.

“Daar sal geen stemmery wees nie. As ons stem, aanvaar ons die nuwe munisipaliteit, en dit is die probleem.”

Vuwani en omliggende gebiede is by die nuwe Malamulele-munisipaliteit ingesluit.

Lt.genl. Kgomotso Phaahlane, waarnemende polisiekommissaris, het inwoners Maandag gewaarsku teen intimidasie. Hy het gesê die polisie sal op gereedheidsgrondslag wees om persone by te staan wat wel wil stem.

Geen spesiale stemme is Maandag uitgebring nie. Daar was ook nie ʼn teken van enigiemand wat Dinsdag ʼn spesiale stem wou uitbring nie.

OVK-beamptes het op ʼn tafel buite Tshivhualana Primary School gesit. Die skool was gesluit. Vier gewapende polisiebeamptes het wag gehou oor die beamptes wat ure lank gewag het vir kiesers.

Pres. Jacob Zuma het intussen Dinsdagmiddag alle stemgeregtigde kiesers aangemoedig om hul demokratiese reg uit te oefen om te stem. Hy het die inwoners van Vuwani in ʼn verklaring gemaan om Woensdag te stem. Hy het die gemeenskap gelukgewens met die ooreenkoms wat onderteken is en ʼn beroep gedoen op die gemeenskap om te stem.

Lees alle vorige berigte oor Vuwani op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eend ·

Dis amper heel bo regs op die landskaart, naby Louis trichardt.

Anti DA ·

Pleks stem hulle VF+en wys die anc hoe kwaad hulle is …… lol

Dolosse ·

Terwyl daar kans is om n regverdige party in te stem sal hulle lekker speel op die stowwerige velde, baie kaalvoet, baie met honger mae. So sal hulle nageslagte wat weerhou was van goeie opvoeding omdat hulle netnie wil of kan reg stem nie ook met kaal voete en honger mae op stowwerige velde in die toekoms sokker speel, Dan net nog meer oorbevolk, met minder hulpbronne. Dit is die hartseer lot van die tipiese Afrika “village”.

Maria van Dieweeck ·

haha AntiDA klink na n goeie idee vir n Nandos advertensie

snoefie ·

more oggend gaan hulle wakker word en besef hulle het nie “gewout” nie. dan gaan hulle die res van vuwani afbrand om tog maar hulle x vir die anc te gaan trek.

Johann ·

More brand hulle die res van die omgewing af…want iemand het die sokker verloor!!!!! Almal moet.mos alles HE en WEN…

Christa ·

Wat vreemd is, is die “voting booth” wat op foto teen die draad lê?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.