[Verkiesing] Waarnemers tevrede, maar …

Denis Kadima, Eisa se uitvoerende direkteur. Foto: Jonisayi Maromo, ANA

Denis Kadima, Eisa se uitvoerende direkteur. Foto: Jonisayi Maromo, ANA

Waarnemers van die Verkiesingsinstituut vir Volhoubare Demokrasie in Afrika (Eisa) het Donderdag die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geprys vir ʼn “geloofwaardige” munisipale verkiesing.

“Die 2016 munisipale verkiesing is ʼn mylpaal vir demokrasie in Suid-Afrika,” het Denis Kadima, Eisa se uitvoerende direkteur, by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria aan die media gesê.

“Eisa se waarnemers het tot die gevolgtrekking gekom dat die munisipale verkiesing deursigtig, eerlik, geloofwaardig en in ooreenstemming met die grondwetlike en wetlike raamwerk van die verkiesing uitgevoer is. Dit het aan plaaslike en internasionale verkiesingstandaarde voldoen.”

Eisa het die OVK verder geloof vir sy pogings om die bestuur van die verkiesings voortdurend te verbeter om sodoende inklusiewe, vreedsame en deursigtige verkiesings te lewer.

Kadima het egter beklemtoon dat die aanloop tot die verkiesing op 3 Augustus bederf is deur talle gewelddadige voorvalle.

“Daar was talle voorvalle van geweld, waaronder beweerde polities gedrewe sluipmoorde in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Sulke voorvalle is ʼn terugslag in die land se strewe om sy demokrasie te konsolideer en dit is in teenstelling met die Grondwet.”

Hy het ook gesê waarnemers het met kommer kennis geneem dat daar ʼn leemte in Suid-Afrikaanse wetgewing is met betrekking tot die regulering van private bronne vir die finansiering van politieke partye. “Die leemte kan ʼn negatiewe uitwerking op verkiesingspolitiek hê aangesien dit onregverdige voordele inhou.”

Eisa het ʼn beroep gedoen vir vrede en kalmte oor die hele Suid-Afrika.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

Hoekom is daar altyd waarnemers uit wit westerse lande tydens verkiesings in swart derde wereldlande? Wat maak hulle verkiesings so perfek? Dink hulle miskien die wereld se nie-blanke rasse kan dit nie reg doen nie? Dis na my mening blatante rassisme. En oor die vrymesselaars s3 manipulering van veral Amerikaanse presidentsverkiesings word niks gese nie.

Vry en regverdig se GAT! ·

Ek, my man en kind gaan registreer saam by ‘n stemlokaal. Met stemdag word ek weggewys van daardie stemlokaal en daar word gesê ek is nie daar geregistreer nie. Ek is in Ikageng, ‘n swart woongebied in Potchefstroom, geregistreer! My man en dogter is wel by die lokaal stem. Nee, sê hulle vir my en talle studente wat moeite gedoen het om te registreer, ons moet ons name en kontakbesonderhede op ‘n los stuk papier skryf. Die OVK sal met ons kontak maak om te gaan stem. Studente sê vir my hulle het spesiaal die aand in Potchefstroom gebly om te kan stem Woensdagoggend maar hulle ry nou huis toe en gaan beslis nie later kan stem nie. Talle stemme verlore!

Almal in die land het geweet daar gaan sulke truuks uitgehaal word. Vry en regverdig se gat! Maar, what’s new? Soos daar vir my gesê is toe ek vra hoe de hel het dit gebeur? Antwoord: Eh…huh, it’s da systêm! Daar was net blankes en kleurlinge in daardie ry wat nie kon stem nie. Nou vra ek, is dit die “systêm” wat blank en kleurling so uitgesoek het? Dit is om van naar te raak. Ons is nie idiote nie en verstaan die “fout” maar alte goed. Mag die hel om elke skelm hel in hierdie pragtige land van ons draai!

Joe Olivier ·

Volgens die ovk se toepassing is daar ongeveer 200000 meer stemme gewees in Tshwane area as wat daar geregistreerde kiesers is. Dit ondanks die feit dat slegs 59% gestem het. Wonder hoe betroubaar verkiesing regtig is.

M A ·

As die DA in Tshwane wen, sal ek miskien glo dit was regverdig. In die begin het die DA pal voorgeloop maar nou dat die einde in sig is, val daar skielik baie ANC stemme iewers uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.