Verkiesing: Wat jy moet weet

Argieffoto

Argieffoto

Stembusse maak Woensdag landswyd om 07:00 oop vir vanjaar se algemene verkiesing en geregistreerde kiesers kan tot 21:00 hul kruisie agter die party van hul keuse trek.

Volgens Eugene Brink, ‘n senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), moet mense seker wees hulle is geregistreer om te stem voordat hulle na die stempunte gaan. “As jy nog nooit geregistreer het nie, kan jy nie stem nie,” het hy gesê.

Hy sê daar is drie maniere om te bevestig of ʼn mens wel geregistreer is om te stem en waar jy geregistreer is. “Eerstens kan jy ʼn SMS met jou ID-nommer na 32810 stuur of skakel 0800 11 8000 tussen 08:00 en 17:00 om jou besonderhede te bekom. Jy kan ook die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webwerf besoek en op die skakel “for voters” klik, dan op “my voter registration details” en bloot jou ID-nommer in die blok invul. Jou besonderhede sal dan vertoon word. Derdens kan dit ook via ’n selfoon-toepassing verkry word wat van die OVK-webwerf afgelaai kan word,” het Brink verduidelik.

Brink sê kiesers moet seker wees hul neem hul nuwe slim ID-kaarte, of groen Suid-Afrikaanse ID-dokument met die strepieskode saam. Indien mense nie een het nie, sal ’n tydelike identifikasiesertifikaat ook werk. “In nasionale en provinsiale verkiesings moet jy verkieslik stem by die stempunt waar jy geregistreer is, maar volgens artikel 24 van die kieswet kan jy wel by enige stempunt in die land stem. Indien jy egter by ’n stempunt buite die provinsie waar jy geregistreer is, stem, kan jy net op die nasionale stembrief jou kruisie trek,” het Brink bygevoeg.

Hy sê indien ʼn persoon se naam nie op die betrokke kiesersrol verskyn nie, kan die persoon sy ID-dokument aan die voorsittende beampte gee om te verifieer of die persoon geregistreer is. “Indien jy wel geregistreer is, moet jy ’n VEC4-vorm invul en dan sal jy kan stem.” Brink sê die kiesbeampte moet beide stembriewe, nasionaal en provinsiaal, agterop stempel.

“Daar is gerugte dat die penne by die stembusse se ink later verdwyn. Daar is geen bewyse vir hierdie gerugte nie. Indien jy nogtans bekommerd is daaroor, neem jou eie swart pen saam en gebruik dit,” het hy bygevoeg. Kiesers moet seker maak hulle maak hul kruisie netjies in die blokkie. “Maak net een kruisie op ’n stembrief, jou kruisie mag nie aan die kante van die blokkie raak nie.”

Brink het gesê indien iemand ʼn fout op die stembrief maak en dit besef voordat dit in die stembus geplaas is, kan ʼn mens die voorsittende beampte vir ’n ander stembrief vra. “Maak net seker die foutiewe stembrief word as “gekanselleer” gemerk. As die stembrief eers in die stembus is, kan dit nie weer uitgehaal word nie.”

Klik hier om ʼn Afrikaanse brosjure van die OVK te sien.

Capture

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

herman ·

As ek mag vra wat benid ons uit die feit dat ons stem vir ons partye

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.