Verkiesing: Zuma oorsee gelooi

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die oorsese media, soos dié in Suid-Afrika, glo dat die ANC die verkiesing gaan wen. Maar in plaas van ‘n openlike bewondering vir die ANC, is daar nou heelwat kritiek.

Die fokus van berigte val dikwels eerder op die rolle wat spesifieke individue in die verkiesing speel, as die partye betrokke.

In ‘n omvattende artikel in die Christian Science Monitor word veral aandag geskenk aan die fenomeen, Julius Malema. Daar word in diepte ontleed, en kenners aangehaal, oor hoe dit moontlik is dat so ‘n onwaarskynlike figuur, die verbeelding van soveel kiesers so kan aangryp. Tog word wydlopend na die verkiesing ook gekyk, en tot pres. Jacob Zuma se “firepool” word genoem.

In die Nederlandse koerant, Trouw, word veral Zuma aan die bod gestel. Die skrywer, wat duidelik deeglik navorsing gedoen en verskeie plaaslike kenners aanhaal, wys daarop dat Zuma deur die ANC so ver moontlik van verkiesingsaamtrekke weggehou is waar hy inhoudelik moes praat. Zuma is veral in die plattelandse gebiede van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo aangewend “waar hy maar net hoef te dans.”

Die kommentators wat die skrywer aanhaal is baie krities op die ANC, en haal die analis, Lesiba Teffo aan wat sê nog ‘n oorwinning vir die ANC is ‘n ramp vir Suid-Afrika.

Die berig meld ook, soos vroeëre buitelandse berigte, dat ongeveer die helfte van die aanwesiges die stadion verlaat het terwyl Zuma die ANC se verkiesingsveldtog in Soweto afgesluit het. Onderhoude is selfs met van die uitstappers gevoer wat dit duidelik gemaak het hulle wil nie na Zuma luister nie.

Die Los Angeles Times skryf dat ‘n vloedgolf van ontnugtering met die ANC oor die land spoel sedert die afsterwe van oud-president Nelson Mandela. Volgens die koerant meen baie kiesers dat die land nou korrup, ingestel op selfverryking is en swak gelei word. Zuma word as ‘n onpopulêre president beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

n Klein hondjie se ogies gaan na 8 dae oop. By sommiges neem dit jare.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.