Verkiesingsgeweld breek uit in KZN

Argieffoto

Een van die sluimerende vrese in die Suid-Afrikaanse politiek – dat verkiesingsgeweld weer in KwaZulu-Natal kan uitbreek – is hierdie week bewaarheid toe ’n tussenverkiesing aan die noordkus van Zoeloeland so erg ontwrig is deur geweld dat die uitslag tans teruggehou word.

In twee ander tussenverkiesings het die DA gemaklike oorwinnings behaal, maar lae stempersentasies is aangeteken.

In Johannesburg wyk 85 (woonbuurte in Roodepoort, insluitend Little Falls, Helderkruin en dele van Florida) het Sonja Meyer van die DA 3 429 stemme gekry, teenoor 720 vir die ANC en 387 vir die EFF.

Rustenburg wyk 18 bestaan uit die middedorp en enkele aanliggende woonbuurte. Martie Lerm (DA) het gewen met 734 stemme, gevolg deur die ANC met 156, die VF Plus met 83 en die EFF met 51.

Maar die groot nuus was in Zoeloeland, en wel in Mtubatuba wyk 4, wat ’n deel van Mtubatuba-dorp, die Dukuduku-woud en die kusdorpie St. Lucia insluit. Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) hou die uitslag terug nadat die stemmery vroeg gestaak moes word vanweë geweld, wat die aan die brand steek van die ANC-kantoor op Mtubatuba ingesluit het.

Van die stemme wat wél uitgebring is, het die IVP die meeste gekry, gevolg deur die ANC en dan die DA, het Maroela Media na gesprekke met die tersaaklike partye in Mtubatuba vasgestel. Indien die uitslag sou staan, sal dit beteken die IVP het weer eens, soos gereeld die afgelope jaar gebeur het, ’n ANC-wyk afgeneem.

Die verwagting is egter dat die OVK heel moontlik sal vra dat nog ’n tussenverkiesing in die wyk sal moet plaasvind, indien gevoel word dat die stemproses nie vry en regverdig plaasgevind het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vegter ·

Hoekom kan elke kultuur nie net hul eie stukkie land he nie dit sal so baie geweld en struwelings uit skakel
Maar nee ons moet almal saam gegooi word. Kulture verskil te veel. Kan niemand dit insien nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.