Verkiesingskommissie vra uitstel oor adresse

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die Verkiesingskommissie (OVK) het uitstel van sewentien maande van die konstitusionele hof versoek vir die finalisering van volledige adresbesonderhede vir Suid-Afrikaanse kiesers op die kiesersrol.

Die hoeveelheid kiesers met volledige adresse het toegeneem van 34% na 72% en diegene met geen adres nie, het afgeneem van 32% na 8%.

Amptenare van die OVK het vanoggend voor die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê alles loop klopdisselboom om volgende jaar ‘n vrye en regverdige algemene verkiesing te hê.

Die verkiesing moet kragtens wet op ‘n Woensdag tussen 8 Mei en 7 Augustus volgende jaar plaasvind. Dit het uit die OVK se voorleggings geblyk dat die kanse op ‘n vroeë verkiesing basies nul is, veral omdat die eerste kieserregistrasienaweek reeds vasgestel is op 10 en 11 Maart.

Daar is geen gebrek aan belangstelling vir die verkiesing nie, soos blyk daaruit dat die registrasienaweek wat vroeër vanjaar plaasgevind het, die tweede meeste registrasies in die Suid-Afrikaanse geskiedenis opgelewer het.

Die opwinding loop die hoogste in die Oos-Kaap, waar 87.1% van inwoners geregistreerde kiesers is, en in die Vrystaat, met ‘n registrasiesyfer van 82,2%. Die laagste registrasiesyfers is aangeteken in Gauteng met 67,3% gevolg deur die Wes-Kaap met 71,1%.

Daar is tans nie minder nie as 563 geregistreerde politieke partye in Suid-Afrika en partye moet teen Januarie volgende jaar geregistreer wees om aan die verkiesing deel te neem.

Om ‘n Suid-Afrikaanse verkiesing te reël is ‘n reusetaak. Op stemdag sal 190 000 mense as beamptes vir die OVK werk.

Die OVK het verskeie risiko’s as moontlike struikelblokke vir vrye en regverdige verkiesings uitgesonder. Hieronder tel die onbeskikbaarheid van volledige adresse, kuberbedreigings, tegnologiese uitdagings soos dat zipzip-masjiene vervang moet word, vertragings met die afbakening van stemdistrikte deur die munisipale afbakeningsraad, protesoptrede, geweld en die toenemende gebruik van howe om verkiesingsdispute te besleg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ag asb ·

mowt hulle eers weer n kommissie op die been bring voordat hulle kan sê geen bewys van huidige adres, geen kruisie? dis nou boel twang. geen uitstel. daar ia kort kort n landswye verkiesing. hoe kan adressenog nie vasgestel wees nie?

karen ·

nou watter adres gee ‘n boemelaar / swerwer op wat wel wettige ID het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.