Verkiesingskoors skiet op in parlementêre debat

Geordin Hill-Lewis. Foto: Twitter

Die politieke koorspen het deur die dak geskiet toe politieke partye mekaar in die Nasionale Vergadering in ’n parlementêre debat oor werkloosheid gepak het.

Die debat, oor die oplos van werkloosheid in ’n tyd van lae ekonomiese groei, is aangevra en ingelei deur die DA-LP Geordin Hill-Lewis.

Hill-Lewis het aangevoer dat werklose kiesers mooi moet kyk watter politieke party die beste vaar met werkskepping, en hul kruisies daarvolgens moet trek. Daardie party – so voer hy aan – is die DA.

Hy het veral na sy tuisstad, Kaapstad (hy kom van die Kaapse woonbuurt Edgemead), en die provinsie Wes-Kaap onder DA-bewind verwys, en gesê as Suid-Afrikaners vir die DA stem op 8 Mei kan die DA vir Suid-Afrika doen wat die party vir die Wes-Kaap doen.

Volgens Hill-Lewis is dit belaglik dat die party wat Eskom, Transnet, die SAL, Portnet, Alexkor en PetroSA opgemors het, nou ook die gesondheidstelsel en die pensioene van onder meer onderwysers en verpleegsters onder beheer van dieselfde mislukte staat wil plaas – om vir wat hy die regerende party se misdadige neigings genoem het, te betaal.

Die ANC-LP Shelley Makhubela-Mashele het aangevoer die ANC vaar puik met werkskepping en inklusiewe ekonomiese groei. Volgens haar het werkloosheid die afgelope kwartaal met 0,4 persentasiepunte afgeneem en weet die DA nie hoe ekonomiese groei werk nie.

Sy het omvattend aangehaal uit die bedankingsbrief van die DA se vorige beleidshoof, Gwen Ngwenya, oor die ontoereikendheid van die DA se beleidsvermoë. Makhubela-Mashele het veral industrialisering, toerisme, arbeidsintensiewe vaardigheidsontwikkeling en die sukses van presidensiële spitsberade op die ANC-kerfstok geplaas, en beweer die DA wil afdankings makliker maak.

Namens die EFF het dr. Suzan Thembakwayo aangevoer net haar party kan werkloosheid hokslaan. Werkskepping, leefbare lone, industrialisering, invoervervanging en uitvoer is die hoekstene van EFF-beleid. “Enige ekonomiese beleid wat groei sonder werkskepping nastreef, is gedoem,” het Thembakwayo beweer.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, het die ANC se mislukkings gelys en gesê die IVP se verkiesingsmanifes, wat op 10 Maart bekend gestel word, sal die weg na werkskepping aandui.

Drie kort DA-toesprake het op verskillende werkskeppingsverwante kwessies gefokus. Die DA-LP Toby Chance het die rol van kleinsake aangeprys. Sy kollega, Mbulelo Bara, het dit gehad oor oop tenderstelsels teen korrupsie, en Angel Khanyile, DA-LP van Standerton, het jong meisies gewaarsku om nie politieke gunste vir ANC-leiers te doen in ruil vir werk nie.

Namens die ANC het dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, die feitelikheid van die DA se aansprake ten sterkste in twyfel getrek.

Volgens Davies bestaan die DA se verkiesingsmanifes basies uit twee dele – beleid wat by die ANC afgekyk is, en beleid wat onuitvoerbaar is omdat die DA weet hulle gaan in elk geval nooit regeer nie.

Hill-Lewis het die feitelikheid van die DA-aansprake vurig verdedig en daarmee was die debat afgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kerneels ·

Ek het die DA se manufes gelees want ek kon.nie verder luister met al die Amandlas en legacy of apartheid en brutal.past uitlatings van.Maimane nie. Daar is niks in vir my. Ek dink ek sal net meer belasting betaal. Dankie tog die kans dat hulle alleen sal regeer is omtrent nul.

D B ·

@Kerneels, ek het ook en ek stem 100% saam met jou. Nie die DA, ANC of EFF bied enige iets vir my of my kinders nie.

Judge Dredd ·

Selfde waar hul ondersteuners was.

Jy wil he die VF+ moet eers iets uitrig vir jou voordat jy hulle sal ondersteun – maar ek se vir jou dat Afrikaners eers vir hulle sal moet stem voordat hulle iets vir jou kan uitrig.

Se maar net ·

Neeeee wat, ek het nie geregistreer om my kruisie te trek nie. Als loop net op lee beloftes uit. As iemand my wil kom aanvat oor my keuse en my kom vertel sat mybstem vurbdie ANC gaan, wil ekngrrag weet hoe kan my stem vir n party gaan as ek nie geregistreer het nie? Ek stem eerder baie veel meer vir God wat Almagtiger is as enige party. Op my kniee sal ek bid want by God is alles moontlik en my vertroue is meer in Hom gevestig as n korrupte party wat lee beloftes maak. Dis my keuse om nie te gaan stem nie en ek gaan seker oor die kole gehaal word. Politieke partye is vinnig met die mond as dit kom by verkiesing maar doen nie die daad by die woord nie. Hoekom moet ek dan op n party se woord gaan en glo wat hy se as ek eerder op God se woord kan vertrou en Hom eerder glo.

trevor ·

maar baie wit mense sit sonder werk omdat ANC kies BEE en nou wil jy mense aanmoedig om jou te stem maar DA kies ook BEE . hoe werk dit.

John ·

Die ANC spark met aanstellings in Eskom en in sy eie geledere. Dis waar… ook in bankkrot-munisipaliteite wat verslaaf is aan die plaaslike Malls. En dit is voor in die koor met die wat eerste by die afgrond gaan aanland. En dan word duisende aangestel om die verkiesing te monitor en nou gaan menige dokters uit Kuba en Indiè met ‘n eenrigtingkaartjie hier kom uithelp. En die talle kommissies wat lekker pay trek vir sit en luister en luister en luister en…

Boerseun ·

Enigste party wat vir ons mense opstaan is die VF,miskien as meer mense vir hulle stem sal dit ook help ons het nie n ander keuse nie.

jaco ·

Rob Davies is wit maar hy is ‘n minister. Waar is die regstellende aksie dan?

jaco ·

ELKEEN van ons parlementslede, ANC, DA, EFF, IVP, VF-Plus en selfs die “wedergebore Christene” in die ACDP se vergoedingspakket is as volg:
Meer as 1 miljoen Rand salaris per jaar
Luukse motor
Petroltoelaag
Onthaal toelaag
Verniet vlieg
NIKS van ons gewone mense se gesukkel met werkloosheid, stygende pryse van kos wat reeds duur is, duur petrol, ens ens raak hulle nie. Hulle vergoedingspakket is eenvoudig te groot daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.