Verkiesingstryd begin met parlementsdebat

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die vonke gaan van Dinsdagmiddag af behoorlik spat wanneer die debat oor die staatsrede in die Nasionale Vergaderingsaal van die parlement in Kaapstad plaasvind.

Alle partye sal hul leiers en sterkste sprekers in die veld stoot ná pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede van verlede week, wat wyd buite die ANC verwelkom, maar plek-plek van binne die regerende alliansie gekritiseer is.

Politieke fynproewers sal versigtig kyk watter ministers op die sprekerslys toegelaat word, en in watter mate hulle by Ramaphosa se stellings oor nuwe teenkorrupsie-tande vir die vervolgingsgesag, moontlike privatisering van staatsbeheerde maatskappye en die verkleining van die kabinet en staatsdiens aansluiting sal vind.

Vir die opposisiepartye is dit die beste openbare platform om hul verkiesingskartetse af te skiet.

Die DA se aanslag sal gelei word deur sy leier, Mmusi Maimane, wat die kontras tussen skoon en effektiewe DA-regering aan die een kant, en oneffektiewe, korrupte ANC-regering aan die ander kant sal wil uitlig. Verwag ook sterk boodskappe oor misdaad, onderwys, werkskepping en buitelanders wat oor grense stroom.

Die EFF-leier, Julius Malema, sal hard probeer om die debat te radikaliseer deur kwessies soos grond, rasgebaseerde armoede en ANC-korrupsie voorop te stel. Sy uitdaging sal wees om sy radikale kiesers tevrede te hou sonder om deur sy radikalisme potensiële nuwe kiesers af te skrik.

Die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, tans in sy 91ste jaar, sal bewus wees daarvan dat sy party tans sterk groei beleef, en sal waarskynlik ‘n aggressiewer anti-ANC-benadering as die afgelope paar jaar volg.

Die partye wat tans 1% en minder steun geniet, sal spesifiek tot hul nismarkte spreek. Die UDM van genl. Bantu Holomisa sit met die probleem dat hy nou die ANC se vennoot is in ‘n taamlik disfunksionele koalisieregering in Nelson Mandelabaai, so waar dit sy gewone teenkorrupsieboodskap los, weet nugter.

Die VF Plus se dr. Pieter Groenewald is besig om die party tot ‘n meer aggressiewe handelsmerk as onder sy voorganger uit te bou, en sal waarskynlik skerp opmerkings maak oor taal, onderwys, plaasmoorde en regstellende aksie.

Eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP sal waarskynlik op korrupsie en morele kwessies konsentreer, in die hoop dat sy party se steun kan toeneem.

Die tafel is dus gedek vir twee dae van intense insette voordat Ramaphosa Donderdag sy repliek lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

humor ·

Ek hoop hier word die padda sommer direk op die kole gegooi.

Johanna Botha ·

Ag en so na al die beloftes is die hele SA in donkerte gedompel ! !

Thinus Erasmus ·

Maroela Redaksie: ek wil weet of jul dan die foutiewe beriggewing van Jan-Jan goedgekeur omdat jul my uitwys daarvan nie plaas nie.
Julle is altyd vinnig om jul eie foute met ‘n erkenning reg te stel.
Die kommentaar wat ek gelewer het was geensins beledigend of afbrekend nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.