Regstreeks: Wie loop voor in metro’s?

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het begin om die stemme vir die 2021- munisipale verkiesings te tel. Maroela Media sal kort-kort die jongste nuus oor die uitslae hier bekendmaak.

Wie loop voor in metro’s?

Die uitslag van net 67% van die totale getal stembriewe was teen Woensdag omstreeks 11:00 egter bevestig. (Foto: Reint Dykema)

Met 97% van die stemme wat reeds landwyd getel is, het die DA net twee van die agt metro-munisipaliteite reeds agter sy naam. Tot dusver is dit nog net die Wes-Kaap waar een enkele party met meer as 50% gewen het. In die ander metro’s sukkel die DA én die ANC om ʼn volstrekte meerderheid aan te teken.

In Nelson Mandelabaai het die DA die ANC net-net met 0,49% stemme geklop. Al die stemme vir dié munisipaliteit is reeds getel. Die DA het 39,92% stemme teenoor die ANC se 39,43%. Nie een van die partye het dus met ʼn volstrekte meerderheid gewen nie en sal nou afhanklik wees van ander partye om koalisieregerings te vorm.

In die Stad Kaapstad loop die DA ver voor met 54,58% stemme. Die ANC is in die tweede plek met 19,91% stemme.

In Tshwane is die ANC en die DA steeds kop aan kop. Altesaam 93% van die metro se stemme is reeds getel, en die ANC het tot dusver 33,82% stemme teenoor die DA se 32,81%.

In Johannesburg en Ekurhuleni het die ANC dié metro’s omtrent in die sakkie met onderskeidelik 34,06% en 38,32% stemme. Die stemme is byna klaar getel in hierdie twee metro’s.

In Mangaung, eThekwini (Durban) en Buffalo City het die ANC skoonskip gemaak met onderskeidelik 50,63%, 41,97% en 59,46% stemme. Stemme hier is reeds 99% getel.

Die DA het in Mangaung én eThekwini 25,73% stemme verwerf en in Buffalo City 19,64%.

Minder as helfte van stemme in groot stede al getel

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Minder as die helfte van die stemme in Suid-Afrika se grootste stede is al getel. Dit volg ná die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gesê het hulle wil teen Donderdag al die stemme klaar getel hê.

Volgens die OVK se uitslae is slegs 36% stemme in Tshwane en eThekwini (Durban) getel en in Johannesburg 47%. In Kaapstad is presies die helfte van die stemme getel en in Nelson Mandelabaai is 70% van die stemme al getel.

In Mangaung (Bloemfontein) was ʼn skrale 33% van die stemme teen Woensdagmiddag getel.

In Kaapstad en Tshwane loop die DA sover voor met onderskeidelik 62,74% en 34,18% stemme. In Johannesburg is die ANC en DA kop aan kop. Die ANC loop slegs met 0,63% stemme voor.

In eThekwini (Durban) en Mangaung (Bloemfontein) loop die ANC ver voor met onderskeidelik 42,92% en 45,87% stemme. In Nelson Mandelabaai gee die DA (38,89%) die ANC (40,99%) gas.

IVP keer terug in KZN

(Foto: ANA)

Met 54% van die stemme wat reeds in KwaZulu-Natal getel is, wek die Inkatha Vryheidsparty (IVP) sover opspraak, deur 25,27% van dié stemme te verwerf het. Die party het reeds ʼn toename van byna 25%, van die 0,08% stemme wat hulle in 2016 verwerf het.

Die ANC loop egter tot dusver voor in dié provinsie, met 1 065 961 (42,23%) van kiesers wat vir hulle gestem het. Nietemin het die IVP Woensdag om 13:30 reeds 112 wyke in die sakkie gehad en in 14 munisipaliteite in KwaZulu-Natal voorgeloop, met 637 685 stemme wat aan hulle toegedien is.

Die party het tot dusver die meeste stemme in die uMsinga-munisipaliteit (67,01%), gevolg deur die munisipaliteite van Ulundi (64,53%), Nkandla (57,19%), Big Five Hlabisa (55,6%), Jozini (52,78%), uMfolozi (51,41%), Nqutu (49,82%), Alfred Duma (48,51%), uPhongolo (47,6%), Mtubatuba (46,74%), Nongoma (44,83%), iNkosi Langalibalele (42,23%), AbaQulusi (37,69%) en iNkosi eMadlangeni (35%).

As dit só aanhou, kan die IVP tot agt munisipaliteite by die ANC afrokkel. Dít nadat hulle reeds beheer oor ʼn hele paar munisipaliteite in 2016 gehad het.

ANC oorheers in Noord-Kaap  

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Met 89% van die stemme wat reeds in die Noord-Kaap getel is, loop die ANC ver voor met byna 50% van die stemme. Die Noord-Kaap is die provinsie waar die meeste stemme tot dusver getel is.

Die ANC het teen Woensdagoggend om 09:30 altesaam 288 035 stemme verower, gevolg deur die DA met 123 733 stemme (21%). Die EFF is derde met 52 817 stemme (9,09%).

Volgens die uitslae het die ANC waarskynlik reeds 14 munisipaliteite verower, en loop die party voor in 23 ander munisipaliteite. Die DA of EFF het nog nie een munisipaliteit agter hul naam nie.

Die ANC het tot dusver 194 wyke in die Noord-Kaap verower, die DA 80 en die EFF 31.

Die VF Plus is vierde op die lys met 19 903 stemme (3,45%). Dié party maak egter skoonskip in wyk ses van die Thembelihle-munisipaliteit, wat dorpe soos Hopetown en Strydenburg bedien, en het daar reeds 53,26% van die stemme getrek. Orania is ook hier geleë, maar Orania funksioneer sedert 2000 onafhanklik van dié munisipaliteit en het vanjaar hul eie, onafhanklike munisipale verkiesing gehou.

DA wen wéér Midvaal  

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

Die DA sal minstens vir die volgende vyf jaar weer in beheer van die Midvaal- plaaslike munisipaliteit in Gauteng wees nadat die party 63% van die stemme in die afgelope verkiesing getrek het.

Dit is boonop 4% meer as die getal stemme wat die party in die 2016- plaaslike regeringsverkiesing verower het.

“Die DA het ook twee wyke by die ANC oorgeneem en beter as die EFF onder swart kiesers in die munisipaliteit gevaar,” het John Steenhuisen, leier van die DA, gesê.

Peter Teixeira sal nou die leisels as burgemeester by Bongani Baloyi, wat vir twee termyne in dié amp gedien het, oorneem.

Midvaal is oor die afgelope tien jaar as die bes presterende munisipaliteit in die provinsie aangewys, met sewe skoon oudits en die laagste werkloosheidsyfer in Gauteng.

“Heelwat van hierdie sukses was te danke aan ’n toegewyde DA-administrasie onder die bekwame leiding van die uittredende burgemeester.

“Die bemoedigendste aspek van hierdie omvattende oorwinning is dat al die stemme wat verkry is, afkomstig is van voormalige ANC-kiesers, wat besef het dat daar geen toekoms is vir dorpe en stede onder ’n ANC wat al twee dekades lank misluk het nie. Ons het pas gesien hoe ’n soortgelyke situasie in uMngeni, in KwaZulu-Natal ontvou het.

Volgens Steenhuisen wen die DA veral vertroue onder inwoners wat eerstehands sien op watter vlak die DA te werk gaan vergeleke met die ANC-regering.

Om dié rede, sê Steenhuisen, word die DA dan vir ʼn tweede en derde termyn verkies.

Die DA het vandeesweek ook vir ʼn tweede keer kiesers se stemme in die Kouga- plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap gewen, in die provinsie waar die ANC steeds die algehele voorloper is.

In hierdie provinsie word Kouga as die bes presterende munisipaliteit beskou.

‘Meer verkiesingsuitdagings as in 2019’ – AfriForum

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Hoewel vanjaar se munisipale verkiesing grootliks vlot verloop het, lyk dit nou asof meer uitdagings as tydens die nasionale verkiesing in 2019 opgeduik het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê ʼn aantal van sy waarnemers het ʼn reeks probleme by verskeie stemlokale landwyd opgemerk.

“Ons het heelwat klagtes van lede van die publiek oor stemfrustrasies ontvang,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake en koördineerder van AfriForum se waarnemers by stempunte.

“Een van die grootste kopsere was dat mense by sekere lokale geregistreer is, maar nie op die kiesersrol verskyn het nie. Baie van hierdie kiesers stem reeds jare lank by ʼn bepaalde stemlokaal, maar moes vanjaar opnuut registreer omdat hulle verhuis het.

“Dit lyk asof kiesers wat tydens die registrasienaweek in September geregistreer het, veral probleme ervaar het.”

Volgens Brink het ʼn voorsittende OVK-beampte by ʼn stempunt in Potchefstroom ʼn waarnemer van AfriForum genader om ʼn situasie soos dié te beredder.

AfriForum se waarnemer in Kroonstad het aangedui dat die personeel totaal onvoorbereid ten opsigte van stemprosedures voorgekom het. By ʼn stempunt in Waverley, Pretoria, het die personeel glo selfs later die dag begin staak oor kontrakte en verversings.

In Sasolburg kon heelwat mense wat in September geregistreer of herregistreer het, na bewering glad nie stem nie.

“Dit laat vrae ontstaan oor die OVK se algehele gereedheid en personeel se opleiding voor hierdie verkiesing,” sê hy.

Die OVK het kiesers Maandagoggend gerus gestel dat hulle gereed is om die 26,2 miljoen geregistreerde kiesers by stempunte landwyd te ontvang. Probleme het egter vroeg die oggend al opgeduik toe ʼn paar stemlokale laat oopgemaak het en ander deur betogende gemeenskapslede gehinder is. ʼn Boks vol stemme is ook later die aand gesteel.

Volgens Brink het daar ook enkele gevalle opgeduik waar die OVK se stelsel van lyn af was en stembriewe opgeraak het.

“Die stempunt by Pierre van Ryneveld in Centurion is een voorbeeld waar stembriewe reeds vroeg opgeraak het. In Fochville was die stelsel twee keer vir sowat 10 minute op ʼn slag af en in die Mooirivier-streek was daar nie behoorlike ondersteuning indien die stelsels wel buitewerking was nie.”

AfriForum beplan nou om ʼn breedvoerige verslag oor die spesifieke kwessies aan die OVK te oorhandig.

“Hoewel die pandemie uiteraard die OVK se taak bemoeilik het, kan soveel foute bloot nie bekostig word nie,” sê hy.

“Dit beroof in sommige gevalle mense en gemeenskappe van die reg om te besluit wie hul gekose verteenwoordigers is.”

Minder stem dalk vir DA in Wes-Kaap

DA-leier John Steenhuisen vroeër vandag in KwaZulu-Natal. (Foto: DA)

Hoewel die DA oudergewoonte besig is om skoonskip in die Wes-Kaap te maak, is die aantal stemme wat hulle tot dusver ingewin het, veel minder as vyf jaar gelede.

Teen Dinsdagmiddag 15:30 was 51% van die stemme in die Wes-Kaap getel.

Die DA het 636 652 stemme (50,94%) in die provinsie verwerf.

In hierdie stadium het die DA ongeveer ʼn 12,9%-afname van die 63,33% wat hulle in 2016 verwerf het. Die DA het in die provinsie reeds 122 wyke en vier munisipaliteite verower.

Die ANC het minder as die helfte van die DA se stemme (272 163) verwerf en het tot dusver net meer as 21% van die stemme in die Wes-Kaap ingepalm. Dit is ook ʼn afname van 26,22% sedert die 2016‑verkiesing.

Partye wie se steun toegeneem het, is die VF Plus, van 0,7% in 2016 tot 4,11% vanjaar, en die Patriotic Alliance, van 0,17% tot 3,39%. Patricia de Lille se party, Good, het tot dusver 4,54% van die stemme ingepalm. Dit is die eerste keer wat dié party aan die munisipale verkiesing deelneem.

DA wen weer Kouga

Die DA het teen Dinsdagmiddag ook die meerderheid stemme (36 430) in die Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap verwerf. Dit is ʼn meerderheid van 53,5%. Stemme in dié munisipaliteit is klaar getel.

Die ANC het 25 317 stemme (37,18%) verwerf.

Volgens die DA-leier John Steenhuisen is die party verheug om steeds oor dié munisipaliteit aan bewind te wees. News24 het onlangs hierdie munisipaliteit as die munisipaliteit met die beste bestuur in die Oos-Kaap aangewys.

Die DA het in 2016 ’n volslae oorwinning gehad en 16 van die 29 setels in die Kouga se munisipale raad gewen.

“Toe die DA Kouga in 2016 oorgeneem het, was die munisipaliteit in ’n toestand van agteruitgang. Ons het Kouga se finansies gestabiliseer en dienslewering verbeter. Ons benadering was om vertroue en vennootskappe met die gemeenskap te bou, en om die inwoners te prioritiseer. Vandag se resultate wys dit was ’n wenformule,” sê Steenhuisen.

Volgens Steenhuisen sal die party aanhou streef om aan die inwoners van Kouga se verwagtinge te voldoen en hulle met toewyding, integriteit en nederigheid dien.

Volgens die leier hoop die party om meer munisipaliteite in die provinsie te werf.

VF Plus geniet groot steun in Noordwes

(Foto: VF Plus/Facebook)

Die VF Plus het die derde meeste stemme in drie munisipaliteite in die Noordwes, waaronder JB Marks-, Kgetlengrivier- en Mamusa-munisipaliteit, verwerf. Dit is ook die provinsie waar die VF Plus tot dusver die grootste persentasie stemme (7,55%) ingepalm het. Dit verteenwoordig ʼn groei van 10,6% in steun vir die party sedert 2016, toe hulle altesaam 0,7% van stemme gekry het.

Teen Dinsdag om 14:15 het die party in die JB Marks-munisipaliteit, wat dorpe soos Potchefstroom en Ventersdorp bedien, tot dusver byna 20% van die stemme (11 900 stemme) verwerf. Dit is ʼn 27%‑groei van die 0,72% wat hulle in 2016 hier verwerf het.

In die Kgetlengrivier-munisipaliteit, wat onder meer Koster, Swartruggens en Derby bedien, het die party altesaam 887 stemme (9,61%) in die sakkie. In die Mamusa-munisipaliteit, waaronder Schweizer-Reneke val, is 1 760 stemme (6,7%) aangemeld. Die party het reeds in 2020 tydens ʼn wyksverkiesing in Schweizer-Reneke ʼn veelbesproke oorwinning oor die DA behaal.

Die VF Plus het ook die afgelope jaar gewoeker in die Kgetlengrivier-munisipaliteit om die munisipaliteit se versuim om basiese dienste te lewer, te takel en wanadministrasie hok te slaan.

Die plaaslike owerheid was die afgelope ruk pal in die nuus weens ʼn bittere twis tussen inwoners van Koster, Swartruggens en Derby en die munisipaliteit oor die verskaffing van basiese dienste. Kragonderbrekings en watertekorte is aan die orde van die dag en sommige strate is bykans onbegaanbaar.

Die VF Plus geniet ook heelwat steun in Mpumalanga en het tans die derde meeste stemme (4,27%) daar ingewin.

DA staan sterk in Tshwane

Reën- en donderbuie tydens die munisipale verkiesing. (Foto: DA Western Cape/Twitter)

Hoewel die ANC tot dusver die effense oorhand in Gauteng het, loop die DA steeds ver voor in Tshwane.

Teen Dinsdagoggend 10:50 was 7% van die stemme in die Stad Tshwane getel.

Die DA kon daarin slaag om reeds 19 618 stemme (35,18%) in die stad te verwerf. Die ANC is in die tweede plek met 17 222 stemme (30,89%), gevolg deur die EFF met 6 324 stemme (11,34%).

Die VF Plus het teen dié tyd byna 5 508 stemme (10%) in die stad verwerf.

Só lyk sake in Johannesburg

In die Stad Johannesburg gee Herman Mashaba se party, Action SA, die ANC en DA gas. Dié party het reeds 20 838 stemme (19,01%) en is derde in Johannesburg.

Die prentjie in Johannesburg lyk egter anders as dié in Tshwane, met die ANC wat met 35 614 stemme (32,5%) voorloop, teenoor die DA se 30 510 stemme (27,84%).

Die EFF is vierde op die lys met 11 257 stemme (10,27%), gevolg deur die IFP met 1 728 stemme (1,58%).

ANC ook voor in Nelson Mandelabaai

In Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap het die ANC reeds byna 24 644 stemme (50%) verwerf.

Die DA volg met 17 678 stemme (33,6%) en die EFF is derde met 4 084 stemme (7,76%). Dít is een van die mees betwiste metro’s en die DA het in Desember hier beheer oorgeneem ná jare lange korrupsie en wanbestuur onder leiding van die ANC. Die DA het in 2016 die meeste stemme in dié metro verwerf en het ʼn koalisieregering met ander, kleiner partye gevorm. Hierna het die leierskap gedurig gewissel tussen die DA en die ANC.

EFF kry hiér baie steun

(Foto: EFF/Facebook)

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het tot dusver meer as 10% steun in minstens vier van die nege provinsies verwerf.

Teen 09:45 het die EFF 14% in Mpumalanga (67 277 stemme) op hom verenig, gevolg deur Noordwes, met 21 846 stemme (14,45%). In Gauteng en Vrystaat het die party onderskeidelik 62 463 stemme (12,08%) en 33 948 (11,42%) stemme verower.

Die EFF het nasionaal ten tyde van publikasie reeds 12 wyke gewen en 8,95% van die stemme verower. Dit was teen 10:00 Dinsdag die party met die derde meeste stemme landwyd.

DA en ANC kop aan kop in Gauteng

Daar heers ʼn verbete stryd tussen die ANC en die DA oor wie in Gautengse munisipaliteite aan bewind gaan wees, gegrond op die stemme wat tot dusver in vanjaar se munisipale verkiesing getel is.

Nog net 13% van die stemme was teen 08:40 in Gauteng getel. Die ANC loop tans voor met 156 504 stemme (34,6%), maar die DA is kort op sy hakke met 153 079 stemme (33,84%).

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) was ten tyde van publikasie derde in Gauteng, met 52 619 stemme (11,63%), terwyl die Vryheidsfront Plus (VF Plus) reeds 18 382 stemme (7,65%) verwerf het.

Volgens die uitslae het die ANC waarskynlik reeds vyf munisipaliteite verower, en loop die party voor in drie ander munisipaliteite. Die DA het een munisipaliteit so te sê verower en loop voor in nog een munisipaliteit.

Die EFF en VF Plus het nog geen munisipaliteit in die sakkie nie.

Die ANC het nasionaal reeds 282 wyke verower, die DA 111, EFF 11 en die VF Plus het tot dusver drie wyke bygekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

casper ·

Ek stel voor dat die spul in die kabinet se setels aangepas moet word met die persentasie van geregistreede stemme wat getel word.
Met ander woorde as net 30% stem dan kan daar net 30% van die poste gevul word !!
Dit sal hierdie klomp leer om te begin werk vir hulle ontsaglike salarisse !!!~!!

Stephen ·

Sedert die dae van die Voortrekkers kon die Afrikaners nie saamstaan nie en het hulle in verskeie rigtings getrek. Dit is vandag nog so. Waarom kan hulle nie saamstaan onder een sambreel en die gemeenskaplike “vyand” beveg by die stembus nie, en hulle verskille later uitsorteer?
Die stemme is nou verdeel tussen die DA en die VF wat gesamentlik n groot verskil sou maak.

Josua ·

Stephan, jy is 100% reg maar die probleem hier is, as jy vir n party stem wat in Koalissie gegaan het met die ANC of EFF dan het jy reeds jou vingers verbrand en ongelukkig het die moderne voortrekkers duidelik hul vingers weereens verbrand en weereens vir die verkeerde party gaan stem my vraag is waarom gaan stem jy vir n party wat in elk geval met die ANC besigheid doen dan kan jy netsowel ANC stem al dan nie.

piet ·

Ja Josua en dan val beide uit die bus uit en die ANC lag al die pad en is die groot wenner want die opposisie raak al meer verdeeld.

Harley Davidson ·

Die Voortrekkers het leiers gehad wie is vandag ‘n leier,die mense in beheer van Solidariteit/Afriforum en ons ondersteun hulle in ons duisende.

Transvaalse Boertjie ·

Eendrag maak mag (slagspreuk van Boere Republiek Transvaal) maar jy moet weet dat daar waarlik! net eendrag in Christus Jesus is! Hierdie partye gee niks om oor die Woord van God nie, hulle verwerp Christus!

Dus sal daar nooit eenheid en eendrag wees nie, solank as mense Jesus Christus verwerp sal daar verdeeldheid wees en verdeeldheid is die satan se wapen!

Wou ook maar net uitwys dat daar ‘n verskil is tussen Afrikaner en Boer, die Voortrekkers se afstammelinge is Boere. Afrikaners was diè wat in die Kaap gebly het en nie deel geneem het aan die Groot Trek nie.

Andries ·

Die DA draai mantel na die teiken. Musi wou swartes bywen en het sy hand oorspeel. Nou wil die DA blanke steun terugwen – en selfs nou nog het die DA hom vir die verskansing van eiendomsreg uitgespreek nie.

piet ·

Natuurlik het hulle. DA is gekant teen onteiening SONDER vergoeding.

Politikus ·

Stem saam met jou Stephen, dit is belaglik dat die VF+ stemme moet kry. Verenig onder die Blou Sambreel Suid-Afrika!

piet ·

ANC se stemme kom gewoonlik baie later in vanaf die swart gebiede. Hierdie wat reeds getel is, is gewoonlik van kiesers in meer gegoede buurtes. Niksseggend in hierdie stadium nie.

Piet ·

Die ancpeople sal nooit leer nie!!!!As jy nie dienste kry nie raak ontslae van die party aan bewind.Maar hulle sal nie want die people is mal oor korrupsie nes hul leiers!!!!!

piet ·

50% van SA se mense leef onder die broodlyn. Staatstoelae is baie belangriker as dienslewering vir hulle en korrupsie is ook minder belangrik vir hulle. Hoekom sou mense in daai posisie vir enige ander party as die ANC (of miskien die EFF) stem en die risiko loop dat hierdie toelae weggeneem kan word as iemand anders dalk regeer? As ek in hulle skoene gestaan het sou ek waarskynlik dieselfde gedoen het.

kaplyn ·

Die staatstoelae word deur die nasionale regering bepaal en uitbetaal, en nie deur die munisipaliteite nie. Die meeste mense in SA kan maar nie besef hierdie is n MUNISIPALE verkiesing en nien nasionale verkiesing nie!

Anoniem ·

Die ANC stemmers moet ook nooit weer kla oor swak dienslewering in hulle munisipaliteite nie, hulle moet stilbly, want hulle het gekry wat hulle gevra het.

Mariana ·

Behoort nie te lank te vat nie, baie minder mense het gestem. Maar stemme ook weer vir ANC. Wanneer gaan die mense wakker skrik.

Tipper ·

Nou toe,! die wat nie gestem het nie, moet nie nou TELLINGTJIES kom dop hou hier op Maroela Media nie.

Pieter ·

Jip…hulle moet sommer ophou asem haal. Die klomp stoute mensies,

Werner ·

Jy seker DA gestem.Nie ons skuld jy kan nie tel nie.Net naiewe mense dink demokrasie kan werk in SA

Josua ·

Stephan, jy is 100% reg maar die probleem hier is, as jy vir n party stem wat in Koalissie gegaan het met die ANC of EFF dan het jy reeds jou vingers verbrand en ongelukkig het die moderne voortrekkers duidelik hul vingers weereens verbrand en weereens vir die verkeerde party gaan stem my vraag is waarom gaan stem jy vir n party wat in elk geval met die ANC besigheid doen dan kan jy netsowel ANC stem al dan nie.

Werner ·

Net naiewe mense dink hulle kan hierdie land reg stem.Kan duidelik nie tel nie.

Papsak ·

Ek stem nie vir n kurrupte land meer nie niks sal oout weer reg kom nie so waarom my stem mors op so land jry vir julle

Colin ·

Pak dan jou goed en trek Ferreira. Niks forseer jou om hier te bly nie. As al daai duisende wat sê hulle mors hulle stemme net bietjie opgestaan het en gaan stem het sou dit beslis ‘n impak hê, veral in die kleiner munisipaliteite. Kyk maar wat gebeur het by Koster toe die inwoners sèlf besluit het om iets aan die saak te doen! Maar lyk my daar is al meer van ons wat witpens bo gaan lê en die enigste bydrae wat gelewer word is op die “keyboard”.

Jannie van Niekerk ·

As ju NIE stem nie, stem jy indirek vir die ANC, EFF en for thah matter, plaasaanvalle. Elk enekle teenstem teen die ANC en EFF maak ‘n groot verskil al stem jy nie ideologies saam met die spesifieke party nie

pompies ·

Papsak jy het nie die moeite gedoen om te gaan stem nie, so moet nie hier kom kla oor alles wat verkeerd is nie. As jy nie stem nie kan jy nie kla nie ou perd.

piet ·

Eintlik moet jy die ANC en die EFF se steun bymekaar tel want dit verteenwoordig eintlik die werklike prentjie van Suid-Afrika.

Waarnemer ·

And so the cookie crumbles…die verkiesing is verby,die slagate bly,loadshedding bly en water shedding bly.Miljoene rande gemors en dirt vir niks.Well done ANC,met julle korrupsie het julle nog 5 jaar gewen…..

Baardman ·

Dis wat gebeur as jy leë beloftes maak en mense dreig dat hulle “allpay” gaan verloor as hulle nie vir jou stem.

FC ·

Mense wat nie gestem het nie moet sjarrap en net die wet van Transvaal doen. Hul kruisie kon werklik baie gemeen het veral in die pas afgelope verkiesing.

Fritz ·

Ja baas FC. Reg so baas FC. Askies baas FC. Ons sal sjarrap baas FC. Mag ons darem ietsie sê oor die lekker langnaweek se bike trippie?

FC ·

Die afduimpies is nou die mense wat nie stem het nie. Jou skuld, niemand anders sin nie.

Pieter ·

Jy sal nooit weet nie. En dit maak jou benoud. Ek het gestem, of miskien nie. Of miskien het ek vir die ANC gestem. Of wie weet vir die EFF. Of dalk vir ET en sy manne. In oranje het hulle hulle eie stemming gehou, so niemand maag dar iets sê nie. Maar ek het (nie) gestem nie. Of het ek (Nie)? Bhahahaaaa

FC ·

Jip, jy en jou gewete weet of jy gestem het of nie, dalk is daar nie n gewete nie, of dalk is daar. Bhahahahaha

Jannie van Niekerk ·

Ek hoop regtigwaar dat ActionSa NIE saam met die ANtiChris of Economy Fail Forever werk nie.

Elsie ·

As jy nie gaan stem het nie, bly dan stil. Een van die grootste probleme deesdae is dat daar te veel “couch politicians” is. ALMAL het ‘n eier te lê oor die korrupte regering. Maar jy wat alles so kritiseer, hoekom probeer jy nie soos die res van ons die regte ding doen en jou kruisie gaan trek nie?

Marianna ·

Mense wat nog ANC stem, stem vir hulle SASSA. Hulle is bang hulle verloor dit as hulle nie ANC stem nie. Daar is 21 miljoen wat SASSA ontvang.

Di ·

“Our people” verstaan nie die verskil tussen Munisipale verkiesing en nasionale verkiesing nie! Al waaroor hulle worry is al die TOELAES, daarom sal hulle die kruisie verewig by ANC en EFF trek. EFF ondersteuners is almal jongetjies wat gebreinspoel is met die snert wat rooikappie hulle vertel, was nie eers gebore in apartheid nie.

madels ·

Ek wonder net hoeveel van daai ANC stemme is eerlik? Daar was alreeds ongeruimdhede opgetel by sekere stemlokale

Barney ·

Miskien moet julle uitvind hoekom die anc die tel van stemme vertraag?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.