Verklaar ekonomiese noodtoestand, vra Investec-baas

Hendrik du Toit, hoof van Investec. (Foto: Twitter).

Die regering moet ʼn ekonomiese noodtoestand verklaar en ongewilde maar broodnodige ekonomiese beleidsbesluite neem, het Hendrik du Toit, uitvoerende hoof van die Investec-groep, Donderdag gesê.

Hy was ʼn spreker by Landbouweekblad se beraad oor hoe om uitdagings met grondhervormings in ʼn suksesverhaal te omskep, wat in die Koue Bokkeveld naby Ceres plaasgevind het.

Du Toit vra vir die verklaring van ʼn ekonomiese noodtoestand sodat die fiskale uitdagings en spesifiek die Eskom-probleem dringend getakel kan word.

Tweedens moet korrupsie getakel word, en wel in dade – sodat geregtigheid opsigtelik geskied, van die private sektor tot die staatsdiens.

“Derdens moet die koste en rompslomp betrokke daarby om sake te doen in Suid-Afrika dringend verminder word – maar gou, want die tyd vir tjommel en stry oor keuses is verby,” sê Du Toit.

Du Toit het gesê die verhale van suksesvolle, plaaslik gedrewe grondhervorming vir swart ekonomiese bemagtiging by die beraad is presies wat nodig is om beleggersvertroue in Suid-Afrika te vestig.

grondhervorming

Argieffoto

Hy het uitgewys dat die toekoms deur die hede bepaal word, en gesê dit gaan nie tans goed in of met Suid-Afrika nie. “Ernstige besluite met taai keuses is nodig, waarin daar wenners maar ook verloorders (trade-offs) gaan wees. Die regering tree egter besluiteloos op.”

Du Toit het met verwysing na die Zuma-era gesê vanaf omtrent 2007 het regeringslui hul agtersak bo landsbelang gestel.

Met betrekking tot neigings soos Brexit en die opkoms van die Amerikaanse president, Donald Trump, met sy handelsoorloë, het Du Toit gesê die wêreld raak taaier en selfsugtiger.

“Daar was in ʼn stadium buitengewone wêreldbelangstelling in Suid-Afrika se welsyn, maar dit neem vinnig af, veral te midde van gebrekkige beleggersvertroue in die land.”

Sonder om eksplisiet na die land se moontlike afgradering na rommelstatus te verwys, het Du Toit benadruk dat Suid-Afrika beleggings komende uit buitelandse spaarfondse nodig het. Boonop is die wêreldekonomie tans die papste sedert 2008.

Argieffoto: GCIS

Hy sê een van die ongewilde besluite wat die regering dringend moet neem en uitvoer, is die vermindering van die land se staatsdienspersoneel. Eskom se probleme moet op dieselfde manier hanteer word as wat Brasilië met sy elektrisiteitsvoorsiener gemaak het, wat afdankings insluit.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch se navorsing toon dat die huidige ekonomiese trajek onvolhoubaar is – dis trouens ʼn tikkende tydbom.

“Die staat se belastinginkomste neem af weens uiters lae ekonomiese groei en baie lae sakevertroue. Omtrent 80% van die sakelui wat gepols is, was nie positief oor die landsrigting nie.”

Volgens Du Toit loop die uurglas geleidelik vir die regering leeg weens swak groei, groot staatskuld en die rentekoste van staatskuld. Die landsprobleme kan volgens hom eers behoorlik getakel word as die politiek ondergeskik gestel word aan die ekonomie.

Hy het aangeraai dat Skip Suid-Afrika nou eers gestabiliseer moet word wat die fiskus en veral die kragvoorsiener Eskom betref. Dit beteken sommige dinge gaan gedoen moet word en ander dinge nagelaat moet word – ʼn kompromis (trade-offs) is nodig.

Du Toit het gewaarsku dat dit baie lank gaan neem om Eskom in drie te deel, en dat dit slegs suksesvol sal wees as streng doelwitte gestel en prakties uitgevoer word. Uiteindelike doelwitte moet ook goed omskryf word – sonder bontpratery.

“Die waarheid moet duidelik gepraat word, soos dat 16 000 Eskom-personeel hul werk moet verloor – en dan moet die doelwit uitgevoer word, maak nie saak hoe ongewild dit is nie.”

Trouens, ekonomiese groei en die lok van beleggings gaan nie sonder afdankings gebeur nie, aldus Du Toit. Daarsonder sal Suid-Afrika se huidige stadige agteruitgang voortgaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Lou ·

Mnr du Toit kan ons jou nomineer vir Minister van Finansies of sommer Staatspresident want jy praat die waarheid baie reguit en verstaan die ekonomie. Gee die man ‘n kas vol Bells.

Feite ·

Dankie vir die advies en bekommernisse Mnr. Du Toit. Dit gaan egter relatief goed met die ANC/eff kaders en alles verloop volgens plan om die res van SA te verarm ten einde n revolusie te veroorsaak wat die staatskaping korrupsiespoor kan uitwis. My advies aan Investec is om meer as helfte van julle sakebelange na die buiteland te skuif, want alle ekonomiese belegging inspuitings vir SA, is vir die ANC/eff elite en kaderstrukture by SOE’s!

KP ·

Solank hierdie ANC regering die land regeer, gaan niks verander, dit gaan nog baie slegter raak. Hulle het alles verniet belowe aan hulle stemmers, nou vat hulle dit verniet. HKGK!!!!!!!

Norman Ferris ·

Daar is niks beters as die WAARHEID nie.
Mooi gestel.

daniel ·

Die probleem van massas oortollige werknemers het ontstaan toe die regering sedert 1994 gepoog het om die “SOE’s” aan te wend as welsynsdienste teneinde stemme te trek.
Dus politieke mag eerste tenkoste van die ekonpmie.

Kerneels ·

“ekonmpie…” En toe dinges die ekonomie inni pompie…!!!

Judge Dredd ·

Party mense kry ruggraat as jy hul genoeg “squeeze”.
Onthou net – nie lank terug was sommige van hulle gewillige meelopers van die gefaalde ANC “projekte” ………

peet harmse ·

Janjan het die vermoe om op die man af te praat en op te kom met duidelike werkbare oplossings. Hier is een van dit. Dis waarskynlik hoe die meeste behoudende publiek die situasie sien en bereid sal wees om te help regmaak wat verkeerd is. Solank die besluite op landsbelang geskoei is. Die tyd is nou hier vir CR om sy staal te wys. Die alternatief is stadig- groeiende chaos tot daar nie meer gered kan word nie

Leon ·

Siener van Rensburg het voorspel dat Suid Afrika gaan totaal vernietig word. Ons sal net ‘n stuk grond wees wat soos voor 1652 was. Daarna gaan hier moeilikheid kom en daarna sal ons weer opstaan. Suid Afrika sal moet omswaai en hy sal nie omswaai met die ANC, EFF, BLF en unies wat die land regeer nie.

Abe ·

Leon,
Ek kan nie glo dat daar nog mense is wat aan Siener van Rensburg glo nie. En ergste is dat baie van hulle is goeie gelowige Christenmense by wie n mens nie sulke primitiewe bygelowigheid sal soek nie.

skurweberg ·

Ek het groot respek vir du Toit se aanbevelings en stem met 99,9% wat hy gese het saam.

Daar is egter een vraag wat by ‘n mens ontstaan en wat groot verwarring bewerkstellig, juis omdat daar nie eenstemmigheid is oor diskriminerende wetgewing soos bv. regtstellende aksie ens nie. Uitsprake deur verskeie gerespekteerde politieke leiers en ekonome die afgelope tyd was duidelik, nl. om aan te hou met politieskorrek uitsprake gaan Suid Afrika vernietg. Die volle waarheid is nodig en niks minder as die waarheid nie, In die media is die woord “ekonomiese noodtoestand ” baie min gebruik, ‘n Militere noodtoestand het ons baie van gehoor en dit het bepaalde voordele, maar ‘n ekonomiese noodtoestand is ‘n vreemde konsep. As die waarheid oor alles wat in Suid Afrika verkeerd geloop het, by die naam genoem word in hierdie noodtoestand sal dit baie help om die land vorentoe te neem. Ons soek die waarheid, want korrupsie is nie die enigste rede vir die verval in die land nie. Voordat ons nie by daardie punt kom om te erken nie, behoort so’n noodtoestand die in duie stort, van alles net uit te stel.

Tina ·

Die ANC en Eskom is soos ‘n hoë spoed stoomtrein wat in die verkeerde rigting jaag. Maak gereed vir die impak want die trein gaan nie betyds kan stop nie. Ons geld gaan opraak en dan gaan die ANC moet begin bates en mineralegrond verkoop aan China of Rusland. Massas mense gaan hulle werk verloor en begin afbrand wat hulle kan.
Glo jy dat 50mil kwaai Suid Afrikaners en 20 mil immigrante dit alles vreedsaam gaan aanvaar en sonder Eskom kan die boere nie genoeg kos plant vir Suidelike Afrika nie of selfs water voorsien vir almal nie. Ibola kan ook ons ekonomie verder vernietig.

Ons probleme is oneindig maar alles sal wel nogsteeds ten goede meewerk vir die wat God lief het want Ons is ‘n gelowige nasie wat by Sy Naam skuil en dit sal ons enigste redding wees.

CJ ·

Jammer, maar die meerderheid in die regering verstaan werklikwaar nie mooi hoe ekonomie werk nie. Maak Ekonomie 101 verpligtend as toelatingsvereiste.

Titanic ·

Hy praat van die SA Skip terwyl ons almal weet dit is die SA Titanic. Interessant hoe die woordjie “moet” gereeld by die experts uitborrel. Moet so, moet dit en moet dat – so as of iemand hulle gaan steur aan al hierdie “moets”. Dit is soos iemand op die Titanic wat raad probeer gee terwyl die skip kantel.

C op C ·

Baie geluk aan Mnr.Du Toit vir sy dapper mening. Dit sou ‘n blye dag gewees het as dit wat gesê is van die regering se kant gekom het!

Andre ·

Alles is korrek wat Hendrik opnoem. Ons weet almal wat gedoen moet word om dinge om te keer om die Ekonomie reg te ruk, maar die Vakbonde sal dit nie toelaat nie, daarom is daar vandag en more n staking by die SA Lugdiens, en verloor die Lugdiens R50 miljoen per dag weens die meer as 80 vlugte wat vandag en more gekanseleer moet word. Dis tyd dat banke hulle hulp aan SAL opskort sodat die SAL geen ander uitweg sal he om gelikwideer te word en dat almal in plaas van 900 arbeiders hulle werk verloor en die Regering R5 Miljard per jaar van die Belastingbetalers se geld spaar om die SAL elke jaar te red. Presies dieselfde probleem geld by Eskom – heeltemal te veel onbevoegde werkers wat niks doen nie en groot salarisse verdien. Maar die Vakbonde wat deel is van die Regering sal nooit toelaat dat die Regering die stappe neem om dinge reg te stel nie. Uiteindelik sal daar n skeiding moet wees tussen die Regering en Vakbonde of die Ekonomie sal bly stagneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.