Verklein kabinet nou, vra DA

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA. Foto: Twitter

Die DA het gevra dat pres. Cyril Ramaphosa dringend die kabinet verklein om die land geld te spaar.

Drie DA-LP’s, te wete John Steenhuisen (hoofsweep), Yusuf Cassim en Desiree van der Walt, het vanoggend die parlementêre perskorps toegespreek na aanleiding van navorsing wat die DA die afgelope vier jaar oor uitgawes aan en deur ministers gedoen het.

Luidens die DA se navorsing het Suid-Afrika een van die grootste kabinette ter wêreld, en het daar van Ramaphosa se beloftes om die kabinet te verklein, tot dusver nog niks gekom nie. Die jaarlikse salarisuitgawe vir die huidige 35 ministers en 37 adjunkministers beloop R163,5 miljoen.

Dan moet elkeen van die ministers nog ʼn kantoor met ondersteuningspersoneel kry. Die ministeriële handboek beperk elke minister tot ʼn ondersteuningspersoneel van tien, en elke adjunkminister tot ʼn ondersteuningspersoneel van ses. Desnieteenstaande het die vorige minister van staatsdiens en administrasie, Faith Muthambi, oor ʼn ondersteuningspersoneel van 26 beskik, en haar opvolger, Ayanda Dlodlo, het in ʼn stadium 17 mense as ondersteuningspersoneel in diens gehad.

Die huise wat vir al hierdie ministers aangekoop word as ampswonings kos gemiddeld tussen R5 miljoen en R8 miljoen per jaar, terwyl elke minister R1,75 miljoen en elke adjunkminister R1,44 miljoen op ampsmotors mag bestee.

Vanjaar gaan R296,9 miljoen bestee word aan vervoer, verblyf- en voedselkostes vir reisende ministers. Die DA meen hierdie uitgawes moet drasties ingekort word.

Benewens hierdie bedrae word ʼn duiselingwekkende R4,84 miljard begroot vir BBP-beskermingsdienste.

Die DA bevel aan dat die grootte van die kabinet verklein word na die Mandela- en Mbeki-modelle, met 28 ministers en 22 adjunkte, wat die land vanjaar R52 miljoen sal spaar.

Die DA vra ook dat die ministeriële handboek hersien en die uitvoerende gesag aan leefstyl-oudits onderwerp moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Die BBP beskermingdienste kan in geheel afgeskaf word. Sisulu reken mos SA is ‘n heel veilige land.

Elle ·

Steenhuisen, iets sê vir my jy gaan binnekort nog ‘n “sharrup” hoor van onse Prez…

Ben ·

Stem. Ons kan begin om van die minister van Sport ontslae te raak. Sport is ‘n na uurse ontspanning. Dit is nie kritties tot die land se bestuur nie. Raak ontslae daarvan en spandeer die Geld om die departement van Waterwese reg te ruk.

Alida 2 ·

Is die R4.84miljard vir BBP-beskermingsdienste korrek?
Dit gee R184 170.00 per dag vir elk van die 35 mininsters en 37 adjunk ministers.?
Alles is net buitensporig.
As elkeen sy bekwaam is en sy eie werk doen , waarvoor hulle betaal word, is klomp van die ondersteuningspersoneel oorbodig.
Intussen word ons verder gemelk deur hoer BTW.
Die ekonomie kan nie groei nie want besteebare inkomste verklein.

Akademi Buktu ·

Dink bietjie so daaraan: Voordat sogenaamde “Freedom” aangebreek het, het ‘n kabinetsminister een motorbestuurder gehad wat ook as sy BBP beskermer opgetree het. Burgemeesters en stadsraadslede het nie BBP beskermers gehad nie. Nou is dit algemene gesig om talle sulke beskermers te hê om hulle teen hul eie mense te beskerm.

KG ·

Klink vir my na ‘n heel billike en logiese versoek, maar nou ja wat vir ons gemiddelde mens sin maak, maak mie altyd sin vir die regering nie…..(veral nie as jy jou lekker en gemaklike lewe moet opgee in die proses nie).

jaco ·

Dis skynheilig en dubbele standaarde om oor die “te groot” kabinet te kla terwyl steenhuisen en ELKE ander parlementslid van ELKE ingestemde politieke party ‘n salaris kry van R1. 3miljoen PER JAAR, plus ‘n lekker luukse motor, plus ‘n vet petroltoelae, plus ‘n lekker selfoon kontrak, plus ‘n onthaaltoelae, plus verniet vlieg. ELKEEN van hulle, óók die DA, EFF, VF-Plus en selfs die “wedergebore Christene” van die ACDP bou met daardie geld sy eie mini-Nkandla.
Die Bybelvers “the love of money is the root of all evil” is seker doodgekap of toegeplak in ACDP-parlementslede se Bybels.

Callie ·

Meeste van daai geld kom van WIT belastingbetalers. Dalk nie net Dstv boikot nie

humor ·

En dit behalwe die gekd wat spoorloos verdwyn. H oe meer ministers hoe meer geleentheid vir sulke gevalle

Basjan ·

Die verkleining van die kabinet sal nie gebeur nie. Die soustrein het baie voordele. Peuter nou aan daardie voordele, en die ANC gaan baie stemme verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.