Verkleurmannetjie kry noodkeiser ná reddingspoging

Die verkleurmannetjie is deur ‘n verbyganger gered. (Foto: Friends of Free Wildlife/Facebook)

ʼn Flapnekverkleurmannetjie het Dinsdag ʼn noodkeisersnee ondergaan nadat sy deur ʼn barmhartige samaritaan gered is. Die swanger verkleurmannetjie is sowat twee weke gelede langs die kant van ʼn besig pad aangetref.

“Die verkleurmannetjie se redder het gesien hoe ʼn straatverkoper haar langs die pad staan en rondswaai. Toe hy stilhou om die man te oorreed om die verkleurmannetjie te oorhandig, het hy besef dat sy swanger is. Hy moes uiteindelik vir die straatverkoper geld gee om seker te maak sy oorleef,” het Friends of Free Wildlife (FFW) in ʼn Facebook-plasing geskryf.

Die verkleurmannetjie is na die Bryanston-kliniek vir voëls, eksotiese en klein diere (Baesac) in Johannesburg geneem. Nadat ʼn veearts haar gestabiliseer het, is sy na die FFW-dierehospitaal in Midrand geneem sodat sy natuurlik geboorte kan skenk.

“Ongelukkig het dié droom nooit gerealiseer nie. Ons het besluit dat haar beste kans op oorlewing en dié van haar kleingoed sal wees om ʼn noodkeisersnee te doen,” het die dierekliniek in ʼn Facebook-plasing gesê.

Die veearts kon daarin slaag om 32 eiers ongedeerd uit te haal en die ma in die proses te red.

“Die verkleurmannetjie lyk baie gemakliker sedert die operasie. Sy lyk gereed om weer soos normaal aan te gaan.”

Die eiers is Woensdag na die FFW geneem waar hulle geïnkubeer is. “Hopelik sal ʼn klomp piepklein flapnekverkleurmannetjies oor 6-9 maande hul aankoms in die wêreld maak,” het Baesac gesê.

Die eiers van flapnekverkleurmannetjies vat sowat drie tot vier maande om te ontwikkel, maar kan tot ʼn jaar vat om uit te broei.

“Die veearts het die nodige voorsorg getref om te verseker dat die verkleurmannetjie se voortplantingstelsel so min as moontlik beskadig is. Ons sal mettertyd uitvind of sy weer kan broei of nie.

“Ons hou duim vas dat sy in die toekoms nog verkleurmannetjies kan baar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hester Wilhelmina ·

Ag cuuuuuuute!!!! So bietjie goeie “feel good” nuus!!!!

JohanR ·

Ek glo dit nie! Was dit ‘n tienling? Lyk meer na ‘n 30 ling maar hierdie keer kan mens die bewys sien.

Althes ·

Wonderlike nuus. Dankie vir die onbaatsugtige diens van die barmhartige samiritaan.
G’n wonder mens sien nie sommer verkleurmannetjies meer nie, omdat mense nie respek het vir die diereryk nie.

Erik ·

Gemengde gevoelens, maar seker oulik… Kan net nie help om te dink aan hoeveel mense nie belangrik genoeg geag word om behoorlike mediese sorg te kry nie.

Sarel ·

Wonderwerke gasn voort en vind steeds plaas
Pas die eiers mooi op

Pietertjie ·

Party skepsels se wreedheid teenoor ander lewende dinge ken geen perke nie.

Duck ·

Hier is ‘n hele paar in my Kaapse tuin en ek is self mal oor hul, sal uit my pad gaan om hul op te pas.
Maar een van daai dinge.

Helene ·

Dankie aan almal betrokke. Ek sou dit ook gedoen het. Onthou Erik die mamma is ook God se skepping. Pragtige storie!

SomeOne ·

wat is die algemene deursnit van sulke eiers, te pragtig vir woorde, dankie samaritaan

Blomme ·

Lekker om vir ń slag goeie nuus in die depresiewe land van ons te ontvang. Goed gedoen Mama.

NEO ·

Te kosbaar. Wat is die vroulike woord vir ‘n verkleurmannetjie.

Theo ·

Wonderlik aangenaam!!!!!! Lekker om sulke opbouende menslikke nuus te kry baie geluk aan almal wat deel gehad het aan die redding van ons diertjie wat so volmaak geskape is uit die hand van ons Skepper!!!!!!

Susan ·

Baie interessant! Sal ongelooflik wees as die berig opgevolg kan word en mens die kleintjies sal kan sien as hulle uitgebroei het!

Danie ·

Absoluut wonderlike nuus.
Ek wil sien hoe die pleegouers gaan bontstaan om die kleintjies te leer eet.

DIABLO ·

Fantasties! Maroela, julle kan gerus opvolg berigte plaas. Ons lees van Kyknet se Sonja en Shaleen Surti Richards se dood, maar weet steeds nie wat die oorsake is nie. Mense wat verdwyn en weer gevind word, maar niemand weet wat het gebeur nie. Asseblief plaas opvolg berigte ook? Dit sal lekker wees om peipklein verkleurmannetjies te sien uitbroei oor n paar maande.

Marius Gerhardus ·

Dis regtig baie positiewe nuus. Amper gehuil. Baie dankie aan daai veearts en elke anner persoon wat n deel gehad het. Mens sien so min van die ou diertjies deesdae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.