Verkleurmannetjie verswak ‘skielik’ ná noodkeisersnee

Die verkleurmannetjie is Maandag dood. (Foto: Friends of Free Wildlife/Facebook)

Die flapnekverkleurmannetjie wat verlede week ʼn noodkeisersnee in Johannesburg ondergaan het, is Maandag by die Friends of Free Wildlife (FFW)-dierehospitaal in Mirdrand dood.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn weldoener ʼn dragtige verkleurmannetjie langs ʼn besige pad gered het toe ʼn straatverkoper haar probeer verkwansel het. Sy het kort daarna ʼn noodkeisersnee ondergaan en ‘n veearts kon 32 eiers ongedeerd verwyder.

“Ons was aangenaam verras oor hoe goed haar kleur en gemoed was ná die operasie en sy het ook goed geëet,” het Margi Brocklehurst, uitvoerende hoof van FFW, aan Maroela Media gesê.

Ten spyte van die suksesvolle operasie het die verkleurmannetjie egter skielik vandeesweek begin verswak.

Brocklehurst sê vrywilligers by FFW was bekommerd oor die verkleurmannetjie se toestand en het haar gevra om ondersoek in te stel.

“Dit het gelyk asof sy net aan die slaap geraak het en toe is sy dood. Dit was skielik en ʼn hartseer gebeurtenis vir almal wat by haar redding, keisersnee en herstel na die tyd betrokke was.”

Volgens Brocklehurst was die verkleurmannetjie se dood egter nie heeltemal onverwags nie.

“Daar was altyd ʼn 50/50 kans dat die verkleurmannetjie nie die operasie sal oorleef nie. Sulke klein spesies reageer oor die algemeen nie goed op narkose nie. Tog was ons hoopvol.”

Die verkleurmannetjie se eiers is steeds by FFW waar hulle geïnkubeer word. Veeartse is onseker hoeveel van die eiers bevrug is, maar sê dat hulle binne ses tot nege maande sal weet wanneer hulle uitbroei.

“Gelukkig was die beproewing nie tevergeefs nie en het die verkleurmannetjie ʼn nalatenskap gelos,” het Brocklehurst gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Suzette ·

Ai ek het so uitgesien na ‘n goeie uiteinde vir hierdie verkleurmannetjie. Dis hartseer nuus dat sy nie oorleef het nie. Ek hoop die kleintjies oorleef.

LANA is ELANè ·

Agge nee, dit is nou hartseer ek het so gewens vir ‘n positiewe uitkoms.

Helene ·

Dit is baie hartseer. Was so hoopvol na die berig geplaas is. RIV Mamma..

Naomi ·

So gewag vir goeie nuus????wag maar vir die naletenskap en kyk hoeveel leef voort

Sandra ·

Ag nee, en sy is so pragtige diertjie. Ek hoop al haar eiers was bevrug , en dat die kleintjies danksy hulle ma, almal oorleef.

Sêmanet ·

Ek het nooit kon dink dit vat so lank vir hulle eiers om uit te broei nie. Maar ek hoop daar gaan kleintjies uitkom. Dis nogal wat mens nie meer baie sien nie. As kinders was dit volop as troeteldiere op jou ma se huisplante.

Rosie ·

Ek het dan al ‘n video gesien van waar ‘n verkleurmannetjie lewe skenk aan klein verkleurmannetjies – dis nie eiers wat uitgekom het nie. Was die een nie dalk van die spesie wat so was nie. En dat die eiers juis nie verwyder moes word via “keiser” nie?

Adri ·

Kan ons haar nie liewer ‘n trapsuutjies noem nie? Dit klink vreemd dat ‘n verkleurMANNETJIE eiers het wat uitbroei! ☺☺☺

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.