Verkoolde liggaam naby Limpopo-plaas gevind

Argieffoto

Die polisie in Limpopo ondersoek ʼn saak van moord nadat ʼn verkoolde liggaam Woensdag in die vroeë oggendure naby Thabazimbi gevind is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die publiek het net ná middernag op die gru-toneel langs ʼn pad voor een van die plase in die Dwaalboom-omgewing afgekom en die polisie in kennis gestel.

Polisie en nooddienste het onmiddellik gereageer en die liggaam tussen bosse aangetref. Volgens Ngoepe was die liggaam onherkenbaar verbrand, tot só ʼn mate dat daar nie bepaal kon word of dit die liggaam van ʼn vrou of man is of van watter ras die persoon is nie.

“Die oorsaak van die oorledene se dood sal deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel word,” het Ngoepe gesê. “Dit is ook nie bekend waar die persoon vandaan kom nie, maar omdat die liggaam op dié plek gevind is, word daar vermoed dat die persoon moontlik van Limpopo of Noordwes afkomstig kon wees.”

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

Enigiemand met meer inligting of wat moontlik kan help om die oorledene te identifiseer, word versoek om ao. Benjamin Kwata by 082 736 5174 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. ʼn SMS kan ook na die misdaadhulplyn by 32211 gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tania Heyns ·

Dagsê Hestia

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Yankee ·

Sonnige Hestia. Vreeslik dankie vir jou valk ogies. Mensig, jy is so oplettend en slim.

Koos de Meyer. ·

Dit is maklik om verkeerd te tik. Lees maar reg. Sê maar net.

Anton ·

Dwaalboom naby Bela Bela ??Dwaalboom is Thabazimbi se omgewing,nie naby Bela Bela nie

Maak dit saak? ·

Anton, Koos de Meyer en Yankee sal sê dit maak nie saak, die berig is goed genoeg.

Mariné Lourens ·

Dagsê Anton

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Ja dit maak saak ·

Bal-Bela is seker 300 km van Dwaalboom af en Dwaalboom is nie in Limpopo nie. Om name te verwar, is verkeerde beriggewing, baie swak !!!

Limpopo ·

Dwaalboom is wel in Limpopo.Noordwes se grens val ń net buite die dorpie.En dit is so 200km padlangs v Bela-Bela af.Eks van die omgewing

Tania Heyns ·

Dagsê Ja dit maak saak

Dankie vir jou kommentaar. Dwaalboom is wel in Limpopo, maar dit is nader aan Thabazimbi as aan Bela-Bela. Dwaalboom is ongeveer 65km van Thabazimbi af geleë naby die Noordwes-grens. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.