Verkoolde oorskot dalk dié van Siam Lee

Siam Lee. Foto: Via Facebook

Die KwaZulu-Natalse polisie ondersoek die moontlikheid of ʼn liggaam van ʼn vrou wat gevind is, dié van die vermiste Siam Lee kan wees. Siam het presies ʼn week gelede in verdagte omstandighede by haar werkplek in Durban-Noord verdwyn.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media bevestig ʼn boer het Saterdag op die erg gebrande liggaam van ʼn vrou in ʼn afgeleë suikerrietplantasie naby New Hanover afgekom en die polisie ontbied.

“In dié stadium kan ons nie bevestig of dit die liggaam van die vermiste vrou is nie. DNS-ontleding word gedoen om die identiteit, oorsaak en tyd van haar dood te bepaal. Die New Hanover-polisie doen in dié stadium ʼn geregtelike doodsondersoek,” het Zwane gesê.

Times Live het berig volgens ʼn bron na aan die ondersoek het ʼn familielid Siam glo positief uitgeken. Dit kon egter nog nie deur amptelike bronne bevestig word nie.

Die nooddiensnetwerk Mobi-Claw, wat toegewyd aan die soektog deelneem en Siam se naasbestaandes bystaan, het Donderdag gesê hulle is bewus van die berig.

“Terwyl ons nie Times Live se bronne bevraagteken nie, wag ons vir die polisie om ʼn amptelike aankondiging te maak. Vir die doeleindes van ons ondersoek benodig ons ʼn amptelike bevestiging,” het Mobi-Claw gesê.

Siam is verlede Donderdag omstreeks 15:00 die laaste keer gesien toe sy haar werkplek in Margaret Maytom-laan in Durban-Noord verlaat het. Volgens kringtelevisiebeeldmateriaal wil dit voorkom of sy deur die bestuurder van ʼn swart Mercedes Vito met ʼn Gauteng-nommerplaat ontvoer is.

Die Durban-Noord-polisie ondersoek ʼn saak van ʼn vermiste persoon. Die ondersoek duur voort.

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar Siam haar dalk bevind, om ao. Pillay by 073 789 9047 of 031 560 8004 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Mike Myers van Mobi-Claw kan by 082 929 8726 of Paul Stone by 082 931 0272 gebel word.

Zwane het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om die polisie te nader as hulle enige inligting het oor die gebrande liggaam wat gevind is.

Lees ook: Siam se liggaam uitgeken

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lollie ·

Bid uit my hart uit dat dit nie die jong meisie se verbrande liggaam is nie!
Indien dit wel is, wat is die doel van dit alles? Beteken ń lewe niks meer vir ń mens nie?! Hoeveel hartseer en pyn gaan familie en vriende deur?!

Zorro ·

Ag nee. Ek self het groen Koring op die lande..hoop eerlik die girl is ok

Ag NEE ·

Dis so goed jy pluk ‘n lieflike, geurige roosknop en trap dit net daar flenters onder jou voete. Of skeur ‘n kosbare mooi boek aan stukke. Of knip ‘n pragnuwe lieflike kledingstuk stukkend en gooi dit in die asblik. Of stoot ‘n duursame spogmotor summier die afgrond af. Of… miljoene ander droewe dwase dinge. Behalwe dat al hierdie dinge materieel is en môre vervang kan word, maar hierdie kosbare, pragtige jong meisie nié. WAT makeer hierdie SIEK mensdom rondom ons?! So baie, baie jammer, liewe moeder.

Docpietza ·

Die foto hierbo: Is dit suikerriet plantasie agter haar? Lyk verdag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.