‘Verkoop eers wildplaas voor nog werkers afgelê word’

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Woensdag vir die eerste keer met Lonmin vergader om die afleggingsproses te bespreek waarin die maatskappy beoog om 1 139 werkers, onder wie kontrakteurs, se dienste te beëindig.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Lonmin by die aanvang aangedui dat die afleggings baie sensitief hanteer moet word. “Maar ironies genoeg en in teenstelling daarmee het die maatskappy volgehou dat oortollige werkers voor Kersfees afgelê moet word,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het laat hoor die vakbond eis dat Lonmin se luukse wildplaas en konferensiesentrum wat buite Mooinooi geleë is, verkoop moet word. “Dit is onsensitief om mynwerkers wat deel van Lonmin se kernbesigheid is, af te lê terwyl Lonmin die luuksheid van ʼn wildplaas en gepaardgaande moderne geriewe geniet,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis kon die Lonmin-bestuur nie Woensdag op Solidariteit se eis reageer nie.

Du Plessis voer aan dat Lonmin op 7 Augustus 2017 tydens ʼn openbare inligtingsessie oor bedryfshersienings aangedui het dat die maatskappy teen September 2018 sy oorhoofse koste met R500 miljoen gaan besnoei.

“Ons het gevra of die huidige afleggingsproses deel van die beoogde R500 miljoen besparings vorm. Lonmin se onderhandelaars het mekaar weerspreek en kon nie ʼn klinkklare antwoord gee nie,” het Du Plessis gesê. Lonmin het glo onderneem om tydens die opvolggesprek ʼn antwoord te verskaf.

Du Plessis het gesê Lonmin het onlangs geswig onder Amcu se eis om alleenerkenning te geniet. Dit bring mee dat Amcu vanaf 5 November 2017 die enigste vakbond gaan wees wat deur Lonmin erken sal word.

Volgens Du Plessis het Amcu Woensdag geweier om saam met die ander vakbonde aan die afleggingskonsultasieproses deel te neem. Amcu wil, soos wat Lonmin aangedui het, net hul eie lede in ʼn aparte proses verteenwoordig – dieselfde eis waarmee Amcu ook gedurende 2015 se afleggingsproses vorendag gekom het.

“Hierdie verwikkeling bevestig Solidariteit en ons koalisievennoot, Uasa [vakbond], se kommer dat vaardige werknemers wat tans aan ons vakbonde behoort, oor ʼn paar dae geen vakbondbeskerming en ondersteuning gaan geniet nie,” het Du Plessis gemaan.

Du Plessis wys daarop dat die Wet op Arbeidsverhoudinge gelukkig bepaal dat ʼn vakbond, ongeag sy erkenningstatus, steeds sy lede gedurende ʼn afleggingsproses mag verteenwoordig. “Solidariteit sal daarom ná 5 November steeds ons vaardige lede kan bystaan en hul werk tot elke prys beskerm,” het Du Plessis bevestig. Die opheffing van Solidariteit en Uasa se erkenning word beveg.

“Weens die gebrek aan vertroue wat tussen die Lonmin-bestuur en die Solidariteit-Uasa-koalisie bestaan weens die ondemokratiese opheffing van ons erkenning, het die koalisie gister versoek dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ʼn fasiliteerder aanstel om die afleggingsproses te fasiliteer,” het Du Plessis gesê.

Die amptelike konsultasieproses sal eers ʼn aanvang neem sodra die partye oor die fasiliteringskwessie ooreengekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erica Roos ·

Ek stem saam verkoop eers die luukse en dan praat hulle weer, nee wat Rustenburg en omgewing se mense is al vuisvoosgeslaan met elke nou en dan se afleggings van die myne, waar dink hulle moet hierdie mense weer werk kry almal gaan tog nie weer elders in Rustenburg werk kry nie want daar is omtrent nie meer besighede oor wat werk kan verskaf aan die werkloses nie, die misdaad het gestyg, die kragonderbrekings meer maar die myne hou net aan afdank, hou so aan een van die dae is Rustenburg en omgewing dalk spookdorpe, julle wat met julle mooi nuwe karre en grot SUV’s ry en hoog teen die berg bly, een of ander tyd gaan julle meot besef dit kan nie so aangaan nie

Eish ·

Looi hulle suster, looi hulle! Dis verdomp altyd die armes, eenvoudiges en vertraptes wat moet swaar kry en die spit afbyt sodat die klomp ongestoord hul leefstyl kan handhaaf. Hul kan maar gerus bestuur se salarisse ook verminder, nadat die wildsplaas verkoop is.

Aitoggie ·

Dit is waar Erica, Rustenburg kan nie meer vir almal sorg nie. Die afleggings veroorsaak dat besighede al slegter doen en later toemaak, want die werkers kan nie aankope bekostig nie, ons misdaad het amper verdubbel teenoor 2016, wat gaan van al die mense word?? Misdaad gaan dan net verdriedubbel.

Leahim ·

Na die lang staking en die Marikana voorval kon lohnmin net nooit weer opstaan nie en hierdie is die rippeleffek van amcu se hardkoppigheid gedurende daardie staking

Christo de Klerk ·

Julle vergeet dat die myne ook besighed is wat winste moet wys vir hulle beleggers? Ek self is einde Augustus afgele… Dit is nie die mynbase se skuld as die regering dit vir hulle onmoontlik maak om winsgewend te myn nie… Terwyl julle en Solidariteit so slim is, hoekom verkoop Lonmin nie sommer alles en maak net toe nie… Dan kan Malema en sy makkers die myn “nasionaliseer” en dan kan almal wat daar werk miljoene per maand verdien… Enigste probleem is ‘n brood gaan jou Biljoene kos teen daardie tyd…

Knapie ·

Christo, moet met jou saam stem. Dit is hartseer, maar as daar nie werk is nie, help dit nie die myne hou die mense aan nie. Die myne is nie welsyninstansies soos sekere vakbonde dink nie. Ek self was deur afleggings en salaris verminderings in die nywerheidsektor en ek kan getuig, dit het mense in die hoogste posisies ook geraak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.