‘Verkoop’ van Voortrekkermonument vorder fluks  

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: VTM)

“Watter verkoopstories is dit hierdie?” vra ʼn leser onthuts op die Voortrekkermonument se Facebook-blad ná berigte dat die geskiedkundige monument in Pretoria te koop is.

Geraldine Paulsen, media-en-kommunikasiebeampte by die Voortrekkermonument, sê mense het reg verstaan, die geskiedkundige monument in Pretoria word nou “virtueel verkoop en herbou”.

Dit word alles gedoen om die Voortrekkermonument uit die finansiële krisis te red waarin die Covid-19-afsonderingsmaatreëls dit gedompel het.

Maroela Media het in April berig dat die Voortrekkermonument en Erfenisstigting diep in geldelike moeilikheid is weens die Covid-19-pandemie se invloed op bewaring- en toeristeaantreklikhede. Die uitwerking op die Voortrekkermonument was selfs nog groter aangesien die monument hoofsaaklik van toeriste afhanklik is vir ʼn inkomste om sy personeel te betaal en geboue te onderhou.

Die Voortrekkermonument het reeds sowat R300 000 ingesamel sedert dit dele van die monument van Woensdag 24 Junie af virtueel te koop aangebied het.

“Dit gaan uitstekend met ons veldtog. Ek het geweet ʼn projek soos hierdie sal gewild wees, maar nooit verwag dat dit só vinnig soveel ondersteuning sou ontvang nie,” het Paulsen Maandag aan Maroela Media gesê.

Volgens haar is dit juis die groter dele van die monument wat die eerste uitverkoop is, soos die senotaaf en die groot skildery op die senotaafvlak wat elk ter waarde van R50 000 verkoop is. Die Swartwildebeeste van die monument is ook vinnig teen R5 000 elk verkoop, terwyl al 320 trappies van die monument Maandagoggend ook al opgeraap is.

Dié projek behels dat gedeeltes van die monument verkoop word en die koper kry ook ʼn sertifikaat wat aandui watter gedeelte van die monument hy of sy gekoop het.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument, het gesê die name van die kopers word dan in die Voortrekkermonument se argief aangeteken vir die nageslag as diegene wat tydens hierdie ernstige krisis ʼn verskil gemaak het deur finansieel aan die monument by te dra. “Die kopers word ʼn ere-‘eienaar’ van die monument.”

Die monument bestaan uit ʼn groot aantal argitektonies belangrike elemente en kunswerke soos die hoekfigure, die marmerfries-panele, granietstene, die venstertjies en die walaer. Pryse wissel van R20 per trappie tot R100 000 vir een van die marmerfries-panele. Twee van hierdie panele is ook reeds “verkoop”.

“Baie Suid-Afrikaanse familiename is reeds van die begin af onherroeplik met die monument verbind. So kan die nageslag van mnr. HC Pretorius daarop roem dat bykans elkeen van die 60 000 granietstene waarmee die monument gebou is, deur sy hande gegaan het.

“Dan is daar ook diegene wat die monument se voordeur oopgestoot het tydens die inwyding, die mense wat as modelle vir die marmerpanele gedien het, die vroue wat die hoeksteen van die monument in 1938 gelê het en die vroue wat aan die tapisserieë gewerk het.

“Hierdie projek gaan hopelik daartoe bydra om die Voortrekkermonument en sy personeel te bemagtig totdat die terrein weer oop is vir besoekers. ‘Kopers’ wat deelneem se nageslag sal in die toekoms in die monument se argief kan naslaan wie die VTM deur hierdie krisis bygestaan het,” het Kruger bygevoeg.

Intussen bevestig Paulsen dat die e-posse van voornemende kopers instroom. “Ons het vanoggend nog sowat 900 e-posse gehad wat beantwoord moes word en so vinnig soos wat ons hulle afhandel, kom die nuwes in.”

Sy voeg by dat mense nou net geduldig moet wees met die span se hantering van navrae en die uitreiking van sertifikate.

Paulsen sê die finale bedrag wat vir die Voortrekkermonument ingesamel is, sal met vanjaar se Geloftedag-feesviering bekendgemaak word en indien daar nog elemente van die monument te koop is, sal dit moontlik opgeveil word.

Belangstellendes kan die pryslys by Thea Furstenburg bekom by [email protected] of 012 326 6770 skakel om sodoende hul “aankoop” te verseker.

Lys van die gedeeltes van die Voortrekkermonument en Bloedrivier-terrein wat nog te koop is. (Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Toergids ·

Die bewaring van die Voortrekker Monument is baie belangrik vir die huidige en daaropvolgende geslagte. Die Efenisstigting doen belanngrike en goeie werk. Vir al die personeel dankie vir julle diens. Ek kan nie wag om die Monument weer met my gaste te deel nie!!!

Michael 1 ·

Daar is wyse mense wat enige probleem kan uitsorteer, soos die geval hier,kan julle dink wat gedoen kan word in n onafhanklike tuisland.

Boertjieman ·

Hierdie is ”n uitstekende projek. Werklik inoverend! Ek dink julle moet ook die erfinnisstigting meer prommofeer. Mense kan maandeliks bydra tot die stigting wat na al die Afrikaner gedenktekens omsien. Ek maak maandeliks ‘n R50 bydra. Dis min genoeg geld en as meer mense hierdie fonds so ondersteun kan baie vermag word! Kom mede Afrikaners, word deel van die erfinnisstigting en maak ‘n bydra? Elke bietjie help!

Amanda ·

Ag nee wat, ek was eenkeer daar en sal nie weer gaan nie, as hul die skilderye ens werklik verkoop het sou ek dalk belang gestel het, maar ek wil nie ‘n klomp geld betaal net om my naam teen ‘n muur of iets te kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.