Verkope van renosterhoring sal gereguleer word, sê minister

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Edna Molewa, die minister van omgewingsake, het Donderdag gesê ʼn uitspraak dat renosterhoring plaaslik wettig verkoop mag word, beteken nie dat dit ongereguleerd sal gebeur nie.

Die konstitusionele hof het die departement van omgewingsake se versoek om te appelleer teen ʼn vroeëre bevel dat die moratorium op plaaslike handel van renosterhoring gelig moet word, verwerp.

Dit beteken die verkoop van renosterhoring is nou wettig in Suid-Afrika. ʼn Internasionale verbod op die verkoop van renosterhoring bly egter van krag.

Molewa het gesê die departement ondersoek nog die implikasies van die uitspraak.

“Sedert die moratorium in werking gestel is, het die departement sy wette, regulasies en stelsels verskerp om seker te maak dat daar geen skuiwergate bestaan wat betref die besit van renosterhoring nie of ʼn moontlike toekomstige plaaslike handeldryf in renosterhoring.”

Molewa het bygevoeg in die afwesigheid van die moratorium word alle plaaslike handeldryf in renosterhoring onderwerp aan die uitreik van die betrokke permitte kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit (NEMBA) en betrokke provinsiale wetgewing.

Kragtens NEMBA word ʼn permit vereis om, onder andere, renosterhoring te besit, te vervoer of daarmee handel te dryf. “Die uitspraak beteken dat persone nie toegelaat word om handel te dryf (insluitend verkope, skenkings of om renosterhoring op enige ander manier aan te skaf of daarvan ontslae te raak nie) sonder ʼn permit wat deur die betrokke provinsiale natuurbewaringsdepartement uitgereik is nie.”

Aansoekvorms vir die magtiging van gereguleerde aktiwiteit moet ingedien word in die provinsie waar die aansoeker van plan is om die beperkte aktiwiteit uit te voer (bv. verkope, handeldryf met, aankope, weggee, skenking of aanvaarding as geskenk, besit of vervoer daarvan).

“Dit is ook belangrik om te noem dat die saak nie verband hou met die internasionale handeldryf in renosterhoring vir kommersiële doeleindes nie. “Internasionale kommersiële handeldryf in renosterhoring word steeds verbied kragtens die bepalings van die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies van wilde fauna en flora (Cites).

Luister hier na Thea Carroll, hoofdirekteur van biodiversiteitsbeplanning en bestuur van die departement van omgewingsake, waar sy duidelikheid verskaf oor die konstitusionele hof se bevel wat met die opheffing van die moratorium op plaaslike handeldryf in renosterhoring verband hou.

Molewa het haar in Junie verlede jaar tot die konstitusionele hof gewend nadat die hooggeregshof vroeër beveel het dat die moratorium op plaaslike handel van renosterhoring gelig moet word.

Johan Kruger, ʼn wildboer van Limpopo, het hom in 2012 tot die hof gewend om ʼn moratorium, wat in 2009 op die plaaslike handel van renosterhoring geplaas is, te laat lig. John Hume, die grootste renosterboer ter wêreld, met meer as 1 000 renosters op sy plaas buite Klerksdorp, het in 2015 by Kruger se hofgeding aangesluit as die tweede aansoeker in die saak.

Die departement van omgewingsake (DEA) het die aansoek teengestaan. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in 2015 in Kruger en Hume se guns beslis en die moratorium ter syde gestel. Molewa het die hooggeregshof genader om verlof tot appèl, maar dit is van die hand gewys. Molewa het haar toe tot die hoogste hof van appèl gewend, maar die departement se aansoek is weer met koste van die hand gewys.

Wildlife Ranching South Africa (WRSA) en die Vereniging vir Private Renostereienaars het saam met Kruger en Hume as respondente in die saak opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piper ·

jndien die verbod nog in die buiteland geldig is aan wie gaan die plaaslike mense nou die horings verkoop, gaan dit nou binnelants aan die smokkelaars verkoop word wat dit land uit smokkel, ek verstaan nie,

Gerhard ·

Die idee is om stroping te voorkom, nie oorsese handel nie. As handel wettig is sal dit onwettig stroping verminder.

John ·

Ons moet nou ook maar olifanttande en leeupote en haasstertjies en skilpaddop verkoop en wat van dagga-uitvoere?

Cherokee ·

Dankie tog, nou kan ek die renosterhorings in my stoorkamer verkwansel

Ampie ·

Soos Piper sê dit maak geen sin nie. In elk geval het die departement geen hoop om enige beheer uit te voer nie. Smokkelary gaan toeneem.

Skaam julle ·

Hoe gaan julle dit reguleer, soos julle die taxi bedryf in SA reguleer? Enige mense wat dink dit gaan nou die POACHERS afsit maak ‘n helse fout. Kannie dink mense is so gullible nie. Ons wil so graag glo dat dit die onwettige jag gaan stopsit, na my mening gaan dit toeneem, want as jy nou iemand met ‘n renosterhoring op sy bakkie sien, gaan jy nie meer weet of hy ‘n poacher is of ‘n wettige jagter nie. Hoe kan mens in elk geval so ‘n pragtige dier TEEL net om sy horing af te sny en dit vir iets belagliks soos ‘n afrodesiac? Watter ander middels is daar nie al op die mark vir die origheid nie? Kan daar nie iets anders geproduseer word of gekweek word wat soortgelyke effek (as die horing dan nou ‘n spesiale effek gee) as die renosterhoring nie. Moet ‘n pragtige dier regtig met sy lewe (wettig of onwettig) boet sodat die Oosterlinge beter SEKS kan he? Dit is mos belaglik man. En die GIERIGE jagters in SA kan nie wag dat die miljoene moet instroom nie, nous dit wettig, nou kan hulle miljoene maak met hulle renosters, nou le en vrot karkasse (want wat maak jy met die dooie renoster nadat sy horing afgesaag is)? Ons het ‘n siek nasie geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.