Verkragter 9 lewenslange vonnisse opgelê

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn 25-jarige man van Limpopo is Maandag in die hooggeregshof in Thohoyandou nege lewenslange vonnisse opgelê nadat hy onder meer aan ʼn string aanklagte van verkragting skuldig bevind is.

Mashudu Malabi-Dzhangi, streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Mbudzeni Christopher Nemalili het skuld op die aanklagte teen hom ontken. Hy is egter op 23 Augustus skuldig bevind aan nege aanklagte van verkragting, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en drie aanklagte van huisbraak met die doel om te verkrag.

Nemalili is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir elke aanklag van verkragting, tot 15 jaar tronkstraf vir elke aanklag van roof en tot ses jaar tronkstraf vir elk van die aanklagte van huisbraak.

Malabi-Dzhangi het gesê die oortredings is tussen 22 September 2012 en 21 Desember 2012 gepleeg. “[Nemalili] sou by die huise van die slagoffers inbreek, gewapen met twee groot messe, en hulle dan verkrag. Hy het slagoffers geteiken wat by hul ma’s of oumas in die Ramukhuba- en Dzwerani-nedersetting in die Vhembe-distrik gewoon het,” het hy gesê.

“Die beskuldigde sou sy gesig met ʼn balaklawa bedek sodat sy slagoffers hom nie kon uitken nie. Hy is egter deur middel van DNS met die misdaadtonele verbind.”

Adv. Nnyambeni Nekhambele, die staatsaanklaer, het ter verswarende omstandighede aangevoer Nemalili het geen berou getoon vir sy dade nie. “Sommige van sy slagoffers was jonger as 16 jaar en is op ʼn gewelddadige manier verkrag,” het Nekhambele gesê. Die staat het aangevoer Nemalili moet lewenslank uit die samelewing verwyder word.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannalene greyling ·

Wat is die nut van leeftye tronkstraf deur die howe. Hoeveel van dit gaan Dzhangi regtig sit. Een wat in Amerika lewenslank kry sit lewenslank. Hier het kewenslank ‘n ander betekenis. Maak mens moedeloos.

Alida ·

90 lewenslange vonnisse sou steeds te min gewees het. Verwyder die gemors totaal en al maar teen die trant wat hulle deesdae “ontsnap” uit aanhouding twyfel mens of hy 9 dae gaan sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.