Verkragter in hofselle dood ná skuldigbevinding

(Foto: Umanoide / Unsplash)

ʼn Man wat pas skuld op 14 aanklagte van verkragting en 11 aanklagte van roof met verswarende omstandighede beken het, is Donderdag kort daarna in die aanhoudingselle van die Ga-Rankuwa-streekhof dood.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê Johannes Jojo Shabangu (35) het glo siek geraak en in ’n aanhoudingsel inmekaargesak terwyl die hof in reses was.

Regter Andre Petersen het kort vantevore Shabangu se skulderkenningsverklaring ontvang en hom skuldig bevind op al die aanklagte teen hom. Shabangu het sy slagoffers om vergifnis gevra en sou kort daarna gevonnis word.

(Foto: Verskaf)

Mamothame sê die slagofferimpakverslae was in daardie stadium gereed om in die hof voorgelees te word sodat vonnisoplegging kon plaasvind. Die vonnisoplegging is eindelik noodgedwonge uitgestel omdat Shabangu dringende mediese behandeling moes ontvang.

Dit het later in die hof aan die lig gekom dat Shabangu deur paramedici dood verklaar is, waarna ʼn  doodsverklaringsertifikaat aan Petersen oorhandig is.

Petersen het die hofverrigtinge gevolglik as afgehandel verklaar en gelas dat die doodsertifikaat by die Noordwes-afdeling van die hooggeregshof ingedien word.

“Hy het verder beslis dat ’n geregtelike doodsondersoekdossier geregistreer moet word om die oorsaak van die dood te bepaal.”

Shabangu en onbekende medepligtiges het tussen Julie 2012 en Desember 2019 verskeie vroue in Winterveldt, Gauteng, verkrag en van hul besittings beroof.

Die getuienis wat in die akte van beskuldiging vervat is, dui aan dat Shabangu en sy makkers in sommige gevalle “paartjies – wat van ontspanningsplekke terugkom – sou konfronteer en met ’n vuurwapen dreig, waarna hulle die kêrels sou aanrand en van hul besittings beroof en daarna die vroulike slagoffers om die beurt verkrag”.

“In sommige gevalle blyk dit dat hulle by huise sou inbreek en dieselfde modus operandi sou volg en in ander gevalle het hulle ’n groep vroue aangerand en hulle beroof voordat hulle een van die vroue as hulle volgende verkragtingslagoffer sou kies.”

Volgens Mamothame was die jongste van hul slagoffers maar 14 jaar oud.

“In sy skulderkenningsverklaring, wat deur sy prokureur gelees is, het hy verantwoordelikheid aanvaar vir al die aanklagte wat hom in die gesig gestaar het, en om vergifnis aan sy slagoffers gevra.”

Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in Noordwes, en die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het adv. Nangomso Goloda en sers. Moloantoa Rapakgadi vir hul samewerking geloof “om ’n suksesvolle skuldigbevinding te verseker – ten spyte van die ongelukkige heengaan van die beskuldigde voor sy vonnisoplegging”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Vra om vergifnes maar maak nie name bekend van sy medepligtiges voor hy dood is nie so heel gerieflik vir hulle uhmmm

efjy ·

My vorige kommentaar is nie toegelaat nie hoewel ek glo daar was geen rede daarvoor nie. Maar sal dit bietjie anders stel. Miskien gaan dit dan deur.
In die lig van die onlangse berigte oor ‘n sekere gevangene, ene Bester, wie se uitgebrande lyk in sy selle gevind is, maar later deur die publiek lewendig en gesond gevind is, stel ek voor dat deeglik seker gemaak word dat dit wel die lyk van die beskuldigde is wat in die selle gevind is.

Blikkies ·

Dankie efjy. Ek wou dit dadelik sê maar merk toe jou kommentaar op. Stem saam.

Anon ·

Verkragters is ‘n euwel wat myn insiens permanent uit die samelewing verwyder moet word. Ek het geen simpatie met sy sterfte nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.