Verkragter lewenslange tronkstraf (plus 86 jaar) opgelê

(Argieffoto)

ʼn 34-jarige man is Dinsdag in die hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga, tot lewenslank en ʼn bykomende 86 jaar gevonnis vir verkragting, roof met verswarende omstandighede en aanranding.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die man, Alfred Happy Mnyakeni, is skuldig bevind op vyf aanklagte van verkragting, drie van roof met verswarende omstandighede en aanranding.

Nyuswa sê al die verkragtings het tussen Julie 2011 en Februarie 2018 plaasgevind in die KwaMhlanga-gebied.

“Hy het vroue wat alleen op straat loop geteiken. Hy sou hulle met ʼn mes dreig waarna hy hulle verkrag het. Een van die slagoffers is by twee afsonderlike geleenthede deur die man verkrag,” sê Nyuswa.

Op 11 Februarie 2018 het Mnyakeni een van die slagoffers verkrag en haar selfoon, beursie en ʼn handsak gesteel. Die saak is by die polisie aangemeld.

Hy is in hegtenis geneem vir die besit van ʼn selfoon wat hy van dié slagoffer gesteel het en is deur middel van DNS met ander misdade verbind.

Die aanklaer, adv. Eric Sihlangu, het aangevoer dat Mnyakeni geen respek vir enige persoon het nie. Sihlangu het voorts gesê dat Mnyakeni skuldig bevind is aan ernstige misdrywe wat in die land algemeen voorkom en dat hy ʼn voorgeskrewe minimum vonnis opgelê is.

Die hof het Mnyakeni lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die tweemalige verkragting van een slagoffer, tien jaar gevangenisstraf op elke aanklag van die ander verkragtings, 15 jaar gevangenisstraf vir elke aanklag van roof met verswarende omstandighede en 12 maande gevangenisstraf vir aanranding.

Die hof het beveel dat die lewenslange vonnis gelyklopend met die res van die vonnis uitgedien word.

Mnyakeni is ook deur die hof onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

“Die NVG verwelkom die vonnis wat ʼn duidelike boodskap uitstuur teen geweld teen vroue,” sê Nyuswa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Hoe kom hulle by ” lang vonnis” uit? Nie in SA nie.
” aaneenlopend + Parool l+ kans op ontsnappi ng” halveer die vonnis

Bramaputa

Wat het geword van die Waterkloof 4 wat ‘n hulpelose, hawelose man vermoor het? Sit hulle nog? Het hulle ook 86 jaar gekry? Interessant hoe lewens nie regtig waarde het nie.