Verkragter-pa kry twee keer lewenslank

Waarskuwing: Hierdie berig bevat inligting wat sommige lesers kan ontstel.

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: ANA)

Die Pretoriase hooggeregshof het ʼn 32-jarige man van Olievenhoutbosch tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van en poging tot moord op sy 11 maande oue babadogtertjie.

Hy is ʼn verdere twee jaar opgelê vir regsverydeling terwyl die hof ook beveel het dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die voorval op 30 April verlede jaar plaasgevind toe die baba se ma haar in die veroordeelde se sorg gelaat het om haar buurvrou te help kook.

In die vroeë oggendure het die ma die man – met wie sy in daardie stadium in ʼn verhouding was – egter alleen in die straat gewaar. Sy het hom gevra waar die baba is, en hy het aangedui die kind slaap.

“Hulle het saam na die huis teruggestap waar die ma die baba op haar bors aangetref het. Toe die ma aan die baba raak om haar doek te ruil, het die dogtertjie begin huil.

“Terwyl die ma besig was om die doek te ruil het sy opgemerk dat die dogtertjie se geslagsdele geswel was. Daar was ook semen op haar doek,” sê Mahanjana.

Die ma wou die kind dadelik na ʼn kliniek neem, maar die pa het daarop aangedring dat hulle eerder na ʼn tradisionele geneser naby hul huis gaan.

“Tydens die konsultasie met die tradisionele geneser het die pa egter erken dat hy die kind verkrag het.”

Mahanjana sê die tradisionele geneser het die paartjie in dié stadium aangeraai om eerder mediese bystand te soek. By die huis het die man die ma egter met ʼn mes gedreig toe sy die baba na ʼn kliniek wou neem.

Hy was glo bang dat die gemeenskap sou uitvind wat gebeur het.

Die ma het die kind die volgende dag – sonder die pa se wete – na ʼn kliniek in Venda geneem. ʼn Saak is kort daarna by die polisie in Pretoria aanhangig gemaak. Die pa is op 4 Mei in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Die hof het om op aanklag van verkragting en poging tot moord skuldig bevind, en gehoor gegee aan die staat se versoek om hom die maksimum vonnis op te lê. Adv. Vongani Khosa, die staatsaanklaer, het in die hof aangevoer dat die baba veronderstel was om haar pa te kon vertrou. Hy het dié vertroue egter verbreek, het Khosa aan die hof gesê.

Die staat het ook aangevoer dat die pa geen berou vir sy dade getoon het nie.

Regter Papi Masopa het tydens die uitspraak gesê verkragting is ʼn groot krisis in Suid-Afrika, veral die verkragting van minderjarige, weerlose kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.