‘Verkragter’ sterf ná gemeenskap hom aankeer

Argieffoto: SAPD

ʼn 30-jarige man is vandeesweek dood nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ʼn 60-jarige vrou in die Oos-Kaap verkrag het.

Kapt. Namhla Mdleleni, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het in Komani (Queenstown) plaasgevind.

“Die oorledene het na bewering Saterdagaand ʼn 60-jarige vrou by haar huis in Zwartwater verkrag,” het Mdleleni gesê.

Die vrou het Sondag die voorval by die Komani-polisie aangemeld en die polisie het ʼn verkragtingsaak aanhangig gemaak.

“Die polisie was nog besig met hul ondersoek, toe hulle die nuus ontvang dat die gemeenskap die verdagte aangekeer het,” het sy gesê.

“Toe die polisie by die toneel opdaag, het hulle die verdagte vasgebind aangetref en kon sien die man is aangerand.”

Die polisie het die man losgemaak en hom na die Glen Grey-hospitaal geneem vir mediese behandeling. Die man het vroeër die week in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Mdleleni het gesê die polisie doen in die stadium ʼn geregtelike doodsondersoek. “As die lykskouing gedoen is en die voorval verder ondersoek is, kan dit na ʼn saak van moord verander word,” het Mdleleni bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maarten ·

Laat hulle liewerstes hulle tyd op slagoffer spend. Nie tyd mors nie vir verkrachters nie.

SjN ·

Die gemeenskap het reg in eie hande geneem, wat nie reg is nie, maar omdat hul dit nie kan of wil doen nie.

Andrea van Vuren ·

Dit gaan al hoe meer gebeur. As die polisie hom aankeer sal hy as “vermeende” verkragter aangekla word en met ‘n waarskuwing vrygespreek word.

Annie ·

Hierdie gaan baie interessante storie word – kan na saak van moord verander word – wonder wie en hoeveel gaan hulle arresteer en wie gaan homself oorgee. Die gereg is moeg vir die Polisie se swak diens en dit is hoekom hulle gereg in eie hande neem. Knap gedaan publiek. Hulle sal te bang wees om weer vinnig so iets daar by julle te doen,

Oom Kalahari ·

Dit is nie reg om gereg in eie hande te neem en “Jungle Justice” toe te pas nie. Wat van as die persoon heeltemal onskuldig was? Dit is nie reg vir iemand om ‘n 60jarige vrou seksueel aan te rand (Verkrag) nie, maar dit kan net sowel iemand wees van wie sy nie hou nie en die gemeenskap aanhits tot so ‘n daad. Daar moet ook eers mediese toetse uitgevoer word om te bepaal of sy weldra seksueel gemolesteer is en moontlike DNS toetse bekom. Mens kan regtig nie net links en regs mense laat doodmaak nie. Hoop die saak kry die nodige aandag wat dit verdien.

PJC ·

As die regstelsel reg funksioneer sal hierdie tipe ding nie plaasvind nie. Gemeenskappe neem orals die wet in eie hande. Hulle maak paaie toe, maak amok buite howe en besluit sommer self wie is oortreders ensovoorts en dit alles omdat die polisie en howe vol onbevoegdes is wat nie hulle werk kan en wil doen nie. Regspleging raak al hoe meer chaoties en ek sien nie eintlik lig in die tonnel nie.

antionette ·

Om reg in eie hande te neem is dinge wat mens al meer in SA gaan sien. Reg is dit nie reg nie maar hoe anders gaan die mense in SA geregtigheid kry as hul dit nie self doen nie!Ek bly die afgelope 5 jaar in Botswana en sidder om te dink wat sal ons doen as ons ooit moet truggaan SA toe. Dis hartseer om te dink hoe swaar SA inwoners kry en hoe mense deesdae vermoor word. Mag die Here almal van julle bewaar…

Geregtigheid ·

Dit is omdat die POLISIE en STAATSAANKLAERS verkragting nie as ‘n ernstige oortreding sien nie en die verkragters gewoonlik VRY uit die howe loop dit is AS hulle ooit aangekla word . die GEMEENSKAP het hulle nou maar self ‘n les leer, of dit legal is of nie . lyk my hulle het geslaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.