‘Verkragter’-stiefpa weer vas danksy Facebook

Foto: Rusa.

WAARSKUWING: Die besonderhede in die berig is grafies van aard en nie geskik vir kinders of sensitiewe lesers nie

ʼn Man, vermoedelik 43 jaar oud, wat glo vir meer as vyf jaar sy minderjarige stiefdogter seksueel misbruik het, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy na bewering uit ʼn KwaZulu-Natalse hospitaal ontsnap het waar hy onder polisiebewaking aangehou is.

Hy is in die hospitaal opgeneem nadat woedende lede van die gemeenskap hom aangekeer en erg aangerand het.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ʼn reeks verklarings op sy Facebook-blad dat sy beamptes Maandag om 17:35 na die toneel in Neptunerylaan in Verulam ontbied is. Inwoners het glo die man gekonfronteer nadat ʼn gebruikte kondoom in sy huis aangetref is. Hulle het sy stiefdogter, wat nou tien jaar oud is, ondervra en sy het glo erken dat die man haar seksueel misbruik sedert haar ma vyf jaar gelede dood is.

Die gesin het glo in Desember van Johannesburg na Verulam verhuis. Die verdagte het na bewering uit vrees dat die meisie iets sou sê die kind gevange gehou en haar nie dié jaar by die skool ingeskryf nie. “Verskeie seksspeelgoed, onderklere en pornografiese video’s is in die huis aangetref. Die kind het glo erken dat haar stiefpa haar gedwing het om die items te gebruik terwyl hy foto’s en video’s van haar geneem het.”

Foto: Verskaf.

Lede van die gemeenskap het hom glo gekonfronteer toe hy van die werk af kom. ʼn Selfoon met inkriminerende bewyse is glo ook in sy besit gevind. Volgens Rusa is die man in hegtenis geneem, aan die polisie oorhandig en in die Osindisweni-hospitaal opgeneem onder polisiebewaking waar hy Maandagaand daarin kon slaag om te ontsnap.

ʼn Foto van hom is wyd op sosiale media versprei in ʼn poging om hom weer op te spoor.

Hy is Dinsdagmiddag in Phoenix vasgetrek deur beamptes van Rusa nadat personeel van ʼn plaaslike onderneming die man na aanleiding van ʼn Facebook-plasing herken het en Rusa onmiddellik in kennis gestel het.

“Toe ons by die toneel opdaag was die man weer eens erg aangerand deur lede van die gemeenskap. Hy is weer in hegtenis geneem en word tans by die Verulam-polisiestasie aangehou.”

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van verkragting en seksuele aanranding is by die Verulam-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saak is volgens haar na Phoenix se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) verwys.

“Die stiefpa is in hegtenis geneem vir die herhaaldelike verkragting van ʼn tienjarige slagoffer in Neptunerylaan in Verulam.”

Mbhele het nie gereageer op Maroela Media se vrae of die verdagte deur lede van die gemeenskap aangerand is en of hy wel uit ʼn hospitaal ontsnap het soos beweer is nie.

Die man sal binnekort aangekla word en in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Die gemeenskap weet wat om met hom te doen. Hoekom inmeng met hulle werk.

Antiestabliesment ·

JA! Hulle doen dan so goed. Magtag, nou foeter die poliste alweer n deng op. :)

Onnie ·

Ek kan nie help om in my mou te lag nie… Wat jy saai sal jy maai. Eks bly die gemeenskap het hom eerste (en tweede?) beetgekry!!

Oom Kalahari ·

Tydens sy ontsnapping uit die hospitaal het hy ‘n paar keer geval in sy gejaag om weg te kom. Hy was darem nog half onder verdowing. Die gemeenskap wou net hom help om by die polisie stasie uit te kom.

Driekie ·

Hoop die dogter sal in goeie sorg geplaas word en baie goeie terapie ontvang….

Theresa ·

Arme jong dogter! Hoop die man kry nou nie weer kans om te ontsnap nie. MOOI SO gemeenskap wat saamstaan teen dié herhaaldelike boosdoener.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.