‘Verkragter’ stoei met polisie in hof

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy twee jong meisies verkrag het, het Maandag tydens sy hofverskyning in die Nelspruit-streekshof in Mpumalanga met polisielede handgemeen geraak.

Die 19-jarige verdagte, wat nie geïdentifiseer kan word voor hy op die aanklagte van verkragting gepleit het nie, het met landdros Willie Wilkins in ʼn woordestryd betrokke geraak rakende die uitstel van sy saak. Wilkins het die saak tot 6 Mei uitgestel en gelas dat die verdagte in aanhouding bly. Die verdagte het egter geweier en gesê dit is te lank om te wag. Wilkins het hierop geantwoord: “Jy sal op 6 Mei verskyn. Daar is geen ander datums beskikbaar nie…anders moet jy wag tot 12 Junie, Augustus of September. Moet asseblief nie speletjies met my speel nie.” Die verdagte het aan Wilkins gesê hy is siek en dat hy in aanhouding sal sterf. Wilkins het hierna die saak tot 12 Junie uitgestel. Toe ʼn polisiebeampte die verdagte uit die beskuldigdebank probeer verwyder het, het die verdagte aan die polisiebeampte gesê om nie aan hom te raak nie. “Ek wil met die landdros praat. Moenie aan my raak nie. Ek wil nie gaan nie.” Toe die beampte vir ʼn tweede keer probeer het om die verdagte te verwyder het hy na die landdros gespring. Die beampte het die verdagte gegryp waarna die verdagte die beampte grond toe gestoei en vasgedruk het. ʼn Tweede polisiebeampte het sy kollega probeer bystaan maar is ook oorrompel. Toe hofbeamptes die polisiebeamptes probeer bystaan het, het die verdagte begin om sy kop herhaaldelik teen ʼn muur te slaan totdat dit begin bloei het. Die verdagte is in hegtenis geneem en is weer in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.