Verkragter swaar gevonnis vir ontvoering, verkragting

Argieffoto

Siyabuza Yanga Dyafta (26) is Dinsdag swaar in die Oos-Kaap gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die ontvoering en verkragting van ʼn 10-jarige meisie.

Kapt. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, het gesê Dyafta is in die Bhisho-hooggeregshof gevonnis in verband met die meisie se ontvoering en verkragting in Oktober verlede jaar in die Kwelerane-nedersetting buite King William’s Town.

“Die slagoffer is na die plaaslike winkel gestuur toe die man haar ontvoer het. Haar familie en die gemeenskap het haar gaan soek toe sy nie teruggekeer het huis toe nie,” het Mawisa gesê. “Die man het die gemeenskapslede aangerand toe hulle hom in ʼn nabygeleë huis gevind het waar hy die meisie verkrag het. Hy het gevlug en het hom later aan die Izele-polisie oorgegee.”

Dyafta het vir die eerste keer in die Zwelitsha-landdroshof verskyn waar hy borgtog van R500 toegestaan is. Die saak is later na die hooggeregshof oorgeplaas en hy is in Augustus skuldig bevind aan drie aanklagte van verkragting en ʼn aanklag van ontvoering. Hy is Dinsdag tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir verkragting en agt jaar vir ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Toe “vergeet” hul om hom nog verder aan te kla vir die aanranding op die gemeenskapslede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.