ʼn 35-jarige man is aangekeer toe hy aan die slaap geraak het nadat hy glo ʼn 21-jarige vrou verkrag het.
Volgens kapt. Jackson Manatha, polisiewoordvoerder, het die voorval in die Rwantsana-nedersetting in Centana in die Oos-Kaap plaasgevind.
“Die slagoffer en die verdagte was na bewering Donderdagaan saam by ʼn plaaslike kuierplek. Die slagoffer wou omstreeks 22:00 huis toe stap. Die verdagte het hom as ʼn barmhartige samaritaan voorgedoen en aangebied om die slagoffer te begelei,” het Manatha gesê.
Die vrou beweer sy is by haar huis oorweldig en verkrag.
“Die slagoffer het in ʼn stadium besef die verdagte is vas aan die slaap en hy snork. Sy kon omstreeks 02:00 daarin slaag om te ontsnap en het hulp van die gemeenskap ontbied.”
Lede van die gemeenskap het na haar gegaan, die man vasgebind en die polisie ontbied.
Die man is in hegtenis geneem op aanklag van verkragting en moet Maandag in die Centane-landdroshof verskyn.