Verkragter wat homself as polisiekaptein voordoen vasgetrek

Alex Matsobane Maake in sy hospitaalbed. Foto: SAPD

Alex Matsobane Maake in sy hospitaalbed. Foto: SAPD

ʼn Man wat homself as ʼn polisiekaptein voorgedoen het en meer as ʼn jaar lank sy “pligte” by die Polokwane-polisiestasie uitgevoer het, is Donderdagaand deur die Valke vasgetrek.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê Alex Matsobane Maake (39) het in 2012 by die Polokwane SAPD opgedaag en homself as kapt. Alex Mailula voorgestel. Hy het gesê hy is van die SAPD-hoofkantoor daarheen gestuur, sonder om enige bewys te toon. Maake is toegelaat om sy pligte as ʼn polisiebeampte uit te voer, insluitend om ʼn elite groep te lei om die mees gesoekte verdagtes op te spoor.

“’n Paar maande voordat hy in Limpopo aangekom het, het Maake uit aanhouding in die Pretoria Sentraal-polisiestasie ontsnap,” het Mulaudzi gesê. “Hy het gewag op sy vonnisverhoor nadat hy skuldig bevind is aan verkragting wat in 2010 by Boschkop plaasgevind het.”

Die Valke het Maake in Februarie vanjaar vasgetrek omdat hy homself as polisiebeampte voorgedoen het, maar hy het daarin geslaag om slegs twee dae later weer te ontsnap, hierdie keer uit die polisieselle in Polokwane.

“Behalwe vir die voordoen as ʼn polisiebeampte en die ontsnapping uit aanhouding, sal Maake ook ʼn aanklag van verkragting in die gesig, staar waarvoor hy reeds in 2009 skuldig bevind is,” het Mulaudzi gesê.

Maake is tans onder streng polisiebewaking in ʼn hospitaal in Limpopo nadat hy gedurende sy inhegtenisname in die voet geskiet is.

Genl.maj. Mthandazo Ntlemeza, waarnemende hoof van die Valke, het gesê die saak is nog lank nie verby nie. “Ons sal uitvind hoe Maake daarin geslaag het om ons stelsel binne te dring en dit tot sy voordeel uit te buit. Dit is die grootste vraag wat Suid-Afrika vra en ek sal persoonlik toesien dat ons hierdie vraag beantwoord,” het hy gesê. “Die persone wat hierdie misdadiger gehelp het se dae is getel en hulle moet nou vrywillig die inligting rondom hierdie saak deel of hulle sal in die hof verantwoording moet doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

KarooKlong ·

HA HA HA HA………………………nou het ek alles gehoor!

Niel ·

Die man moet mos ‘n magsnommer gehad het. Wie is so stupid om vir ‘n jaar verniet te “werk”. Nee, iets maak net nie sin nie!

CHRISTA ·

Wat sê dit van ons polisiemag? ‘n Krimineel daag vir ‘n jaar by hulle kantore op om daar te “werk” en hulle WEET nie eers hy is ‘n krimineel nie? Geen wonder dat kriminele ons land regeer en oorneem nie!!!

johan ·

Hy het seker aan gesluit vir die straat voordele. Wys jou net hoe baie kriminele geld betaal om los te kom dat hulle self polisie lede wil wees.

Dennis ·

hoekom dan nie, ons het dan selfs n President sonder papiere!

Hein ·

Sonder bevestiging van hoofkantoor/papiere? vir ‘n jaar lank?………. Die polisie wat intelligent genoeg behoort te wees en op wie ons hoop vir beskerming? Daar gaan die laaste hoop! Werklik!!!

HEIN ·

Die Polokwane polisiekantoor se bevelvoerder behoort afgedank te word, Saam met sy seniors. Hulle is nie die amp waardig nie. Hoe meer ek dink oor dit hoe skokkender word dit!

Berhalet Beukes ·

Lekker slaan SAPD hulle naam met ‘n plank! Hoe kom niemand agter hy is ‘n ontsnapte verkragter nie? Boonop het hy ‘n gek van hulle vir ‘n volle jaar gemaak! Amazing!

Jo ·

Hoekom hom in die voet skiet? Was daar nie ‘n beter plek om voor te mik nie???

Magda Grove ·

Het die “Kaptein” ‘n baas wat veronderstel is om te weet wat in sy departement gebeur??

hannie ·

Enige iets is moontlik hy kan nie n peralnommer aanstellings sertifikaat of instruksie brief toon ek weet van le de wat in die trunk is vir gewapende roof en al langer as n jaar nog steeds elke maande salaris kry

CHRISTA ·

“ALL the NATION’S CRIMINALS” regeer!! Hulle moet net besef: wat jy saai sal jy maai!!!

Moeggepraat ·

Die vindingryke lands burger is absoluut meer geletterd en baie inteligenter as die res van die skape wat hy om die bos gelei het. Gee hom maar ‘n amp in die ANC.

Maryna ·

Ek sal weddenskap aangaan dat daar baie sulke gevalle is, maar mense bly stil en wil nie betrokke raak nie!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.