Verkragters gebruik Facebook om PE-slagoffers te teiken

Argieffoto (Foto: Simon, Pixabay)

Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het Vrydag gesê hulle ondersoek agt sake van verkragting waar die aanvallers na bewering Facebook gebruik het om hul slagoffers te teiken.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder vir die polisie, het gesê die aanvallers maak van verskillende tegnieke gebruik om die vroue, tussen 18 en 25 jaar oud, te teiken. Die aanvalle het in Motherwell en Kwazakhele plaasgevind.

“Dit wil voorkom of hulle ʼn vervalste profiel skep met ʼn foto van ʼn aantreklike man, moontlik ʼn sakeman. Op die dag wanneer hy hulle sou ontmoet, het hy dan ʼn verskoning en sê aan die vrou hy stuur iemand anders, soos ʼn oom of ʼn broer, om hulle op te laai,” het Beetge verduidelik.

ʼn 34-jarige man is intussen in hegtenis geneem in verband met een van die agt sake van verkragting. Die ontmoeting tussen die man en ʼn 25-jarige vrou spruit uit ʼn gesprek op Facebook. “Hy het haar na sy huis in Kwazakhele geneem en haar laatnag verkrag.”

Die man, wie se naam weerhou word totdat hy gepleit het, sal na verwagting op 27 September in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn vir aansoek om borgtog.

In die jongste voorval is ʼn 27-jarige vrou in die bosse by NU29, Motherwell, verkrag. “Sy het ook ʼn man ontmoet en hy het gesê hy sal sy oom stuur om haar op te laai. Die oom (eintlik die man met wie sy gesels het), het haar opgelaai en na die bosse geneem. Hy het haar met ʼn mes gedreig, verkrag en haar daar in die bosse gelos,” het Beetge bygevoeg. Nog geen inhegtenisnemings is in die voorval gemaak nie.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die sake met mekaar verbind kan word.

Beetge maan die gemeenskap om versigtig te wees wanneer hulle sosiale media gebruik om mense te ontmoet. “Wees baie bedag wanneer iemand sê hulle stuur iemand anders om jou op te laai. Dit maak nie saak hoe slim hy klink nie, dis ʼn duidelike teken dat iets fout is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maryke ·

Mense se onnoselheid is ‘n euwel. Hoeveel keer gaan hulle nog val vir hierdie slenters???

Ander Annie ·

FB is een van die mees onaanvaarbare plekke om mense te ontmoet. 99,9% versoeke van ‘n man is vals. Dit is vals profiele. Alida ek deel jou sentiment.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.