Verkragtingsaak by Nelson Mandela-universiteit uitgestel

Die ingang na die Tweede Laan-kampus. Foto: NMU

ʼn 29-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy twee studente aan die Nelson Mandela-universiteit verkrag het, het Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Die man, wie se naam weerhou word totdat hy formeel gepleit het, staan tereg op twee aanklagte van verkragting, roof en huisbraak ná ʼn gewelddadige aanval op twee studente in Oktober.

Dit het vroeër aan die lig gekom dat die man vantevore skuldig bevind is op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede. Hy het intussen sy aansoek om borgtog laat vaar en bly in aanhouding.

ʼn 25-jarige student en haar vriendin is in ʼn rekenaarsentrum by die kampus in Tweede Laan aangeval. Die man het die twee studente glo verkrag, hulle selfone gesteel en een van hulle met ʼn mes gesteek. Die vroue is daarna gedwing om ʼn rekenaar en rekenaarskerm te dra totdat hulle uit die gebou is. Die aanvaller het die vroue gedwing om sy buit aan hom te oorhandig voor hy oor die hek gespring en gevlug het, het die polisie in daardie stadium gesê.

Die man is in hegtenis geneem toe hy na bewering die toerusting in Govan Mbeki wou verkoop.

Die saak is tot 13 Desember uitgestel vir ʼn mediese ondersoek.

Lees alle vorige berigte oor die Nelson Mandela-universiteit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.