Verkragtingslagoffer eis miljoene van polisie

Argieffoto

Andy Kawa, ʼn sakevrou van Gauteng, het Dinsdag weer in ʼn hof in Port Elizabeth verskyn, byna agt jaar ná ʼn gewelddadige aanval wat 16 ure lank geduur het.

Kawa dagvaar die Suid-Afrikaanse polisiediens vir R5,8 miljoen in skadevergoeding. Sy is op 9 Desember 2010 ontvoer toe sy op Kings Beach gestap het. Sy is tussen die sandduine aangehou en 15 tot 16 ure lank om die beurt deur ʼn bende verkrag.

Kawa kon die volgende dag van haar aanvallers ontsnap.

Sy het in 2012 haar beweerde aanvallers uitgewys tydens ʼn betoging by dieselfde strand, maar die aanklagte teen die twee mans is teruggetrek, toe DNS-bewyse die twee mans nie met die aanval kon verbind nie.

Kawa het Dinsdag in die hooggeregshof verskyn vir haar siviele eis teen die staat. Die verweerders in die staat is die minister van polisie, brig. Ronald Koll en die twee ondersoekbeamptes op die saak, Matabata Madubedube en Adine Solomon.

Kawa beweer die polisiediens het foutiewelik en nalatig opgetree in sy plig om haar bewering te ondersoek dat sy ontvoer, aangehou en verkrag is deur ʼn groep mans.

Volgens die hofdokumente het die polisie ook versuim om die gebied rondom die parkeerterrein by Kings Beach te ondersoek waar daar ook by haar motor ingebreek is. Die polisie het na bewering ook traag reageer op ʼn oproep deur drawwers wat Kawa ná die aanval bygestaan het.

Volgens die hofdokumente het een van die ondersoekbeamptes beweer hy kon nie die saak behoorlik ondersoek nie, weens ʼn gebrek aan vervoer en onvoldoende lugtyd op sy selfoon. Die ander ondersoekbeampte het versuim om ʼn identikit van Kawa se ontvoerders saam te stel.

Genl.maj. Bushie Engelbrecht, privaat speurder, het Dinsdag getuig dat hy versoek is om sy kundige mening te bied oor die ondersoek van Kawa se saak. Engelbrecht het verlede maand vir die eerste keer die dossier onder oë gehad en gesê ʼn soektog na die verdagtes moes dadelik plaasgevind het en die gebied moes afgesper gewees het.

Kawa beweer sy moes self haar verkragtingsaak ondersoek en bewyse versamel.

Sy beweer ook sy ly aan posttraumatiesestressindroom en depressie en het nog nie na as makelaarkonsultant teruggekeer werk toe ná die aanval in 2010 nie.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel swartbrand ·

Ek stem almal moet siviele sake teen die polisie aanhangig maak wat nadelig geraak is deur die onbekwaamheid van die polisie ,hulle moet elkgeval ontbind word en hetaangestel word op n meriete basis nadat die nodige toetse geslaag is om te bepaal of hulle geskik is vir n pos as polisie beampte.

Katvis ·

Goed so, vat hulle vas. Eis persoonlik van die minister, nie uit die belastingbetaler se sal nie

Max ·

Sy het geen regsgronde vir die siviele eis nie. Die ANC- Polisie is nie verplig om kriminele sake te ondersoek terwyl hulle “rus” nie.

Sarel Strydom ·

Hoekom neem die saak solank of moet sy self opdok en vir haar eie ondersoek.

Asjas ·

ELKE Suid-Afrikaner wat al geraak was deur misdaad moet siviele eise begin instel. SA moet druk op Ramaposa plaas om die land nou eens en vir altyd reg te ruk en doen dit waar dit seer maak … vat hulle geld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.