Verkragtingslagoffer wat polisie vir miljoene dagvaar, vertel van angsnag

hof-hamer

Argieffoto

Waarskuwing: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers ontstel. 

Andy Kawa, ʼn sakevrou van Gauteng, het Maandag getuig in die saak waarin sy die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vir byna R5,8 miljoen dagvaar vir die beweerde versuim om haar opspraakwekkende verkragtingsaak deeglik te ondersoek.

Sy het Maandag in die Port Elizabeth-hooggeregshof getuig.

Kawa soek byna agt jaar ná die gewelddadige aanval, wat 16 uur geduur het, geregtigheid by die polisie.

Die siviele verhoor is vandeesweek in die Port Elizabeth-hooggeregshof hervat en Kawa sal na verwagting vandag self getuig.

Maroela Media het vroeër berig Kawa dagvaar die SAPD vir R5,8 miljoen in skadevergoeding. Sy is op 9 Desember 2010 ontvoer toe sy op Kings Beach in Port Elizabeth gestap het. Sy is tussen die sandduine aangehou en 15 tot 16 uur lank om die beurt deur ʼn bende verkrag.

Kawa kon die volgende dag van haar aanvallers ontsnap. Sy het in 2012 haar beweerde aanvallers uitgewys tydens ʼn optog op dieselfde strand, maar die aanklagte teen die twee mans is teruggetrek toe DNS-bewyse die twee mans nie met die aanval kon verbind nie.

Die verweerders in die staat is die minister van polisie, brig. Ronald Koll en die twee ondersoekbeamptes in die saak, Matabata Madubedube en Adine Solomon.

Kawa beweer die polisiediens het foutiewelik en nalatig opgetree in sy plig om haar bewering te ondersoek dat sy ontvoer, aangehou en verkrag is deur ʼn groep mans.

Volgens die hofdokumente het die polisie ook versuim om die gebied rondom die parkeerterrein by Kings Beach te ondersoek waar daar ook by haar motor ingebreek is. Die polisie het na bewering ook traag gereageer op ʼn oproep deur drawwers wat Kawa ná die aanval bygestaan het.

Volgens die hofdokumente het een van die ondersoekbeamptes beweer hy kon nie die saak behoorlik ondersoek nie weens ʼn gebrek aan vervoer en onvoldoende lugtyd op sy selfoon. Die ander ondersoekbeampte het versuim om ʼn identikit van Kawa se ontvoerders saam te stel.

Kawa het Maandag in die hof getuig dat sy daardie dag per vliegtuig na Port Elizabeth is om dokumente te teken vir ʼn huis wat sy in Summerstrand vir haar ma gekoop het.

Ná die papierwerk voltooi is, het sy omstreeks 14:30 op die strand gaan stap. Sy sê sy het goed gevoel omdat sy in staat was om vir haar ma ʼn huis te koop. Dit was warm en daar was baie mense op die strand.

Terwyl sy met haar voete in die water gestaan en ʼn selfoonboodskap aan ʼn vriend getik het, het Kawa ʼn man gesien wat haar onmiddellik “ongemaklik” laat voel het.

“Die oë, daar was iets in sy oë wat my aandag getrek het. Hy het sulke kwaai oë gehad.”

Sy het vinnig na die parkeerterrein geloop waar haar motor was toe hy haar van agter gegryp het.

“Hy het my ʼn paar keer geslaan en gesê as ek skree, sou hy my doodmaak.”

Volgens haar het sy probeer ontsnap, maar die man het haar op die grond neergedruk en met ʼn mes teen haar keel gesê dat hy haar gaan doodmaak.

Sy het dit as ʼn wonderwerk beskryf dat die aanvaller haar ʼn keuse gegee het om vermoor te word of “gehoorsaam” te wees en saam met hom te gaan.

Kawa beweer die man het haar op ʼn oop stuk grond gedwing om haar klere uit te trek en sy is daarna met haar eie klere geblinddoek.

Sy is toe verkrag. Sy het in dié stadium geglo daar is net een man. Haar ontvoerder het ʼn kortbroek aangehad, maar sy kon onderdeur haar blinddoek sien die man het nou ʼn langbroek aan.

Sy het gedink die man was dalk “geestesversteurd en het heeltyd van klere verander”.

Die man, wat glo vroeër uit die St Albans-gevangenis vrygelaat is, het later die aand met haar gepraat.

Sy het gesê dit het donker geraak en die verkragting het die res van die aand aangehou.

Kawa het volgens haar in geen stadium in die loop van die aand enige soekgeselskap of mense gehoor nie. Sy het wel ʼn helikopter gehoor en die man gevra of sy mag urineer in die hoop dat die helikopter die beweging sou registreer.

Die oggend het sy glo gevoel hoe val haar motorsleutels op haar maag en die man het gesê sy mag loop. Sy het haar blinddoek versigtig afgehaal en gesien sy lê in ʼn yl beboste gebied.

Sy het na drawwers daar naby gehardloop en geskree en gesmeek om hulp, maar niemand het gestop nie, behalwe een – Julian Britz.

Die polisie is ontbied, maar Kawa beweer hulle het nooit opgedaag nie. Britz het haar na die Humewood-polisiestasie geneem.

Kawa het gesê toe sy by die stasie aankom, het ʼn beampte uit die gebou gekom en gesê: “Is dit die vrou na wie ons deur die nag gesoek het?”

Sy beweer sy moes die polisie vergesel na die toneel aangesien hulle dit nie kon opspoor nie.

Sy sal Dinsdag verder getuig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anoniem ·

Ek hoop sy kry elke sent uit die SAPS uit vir wat aan haar gedoen is. Dis onbeskryflik hoe haar menswaardigheid aangetas is. Ek hoop net sy kry “closure” en dat die skuldiges eventueel aan die pen sal ry.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis OK…..kanaliseer maar R5,8 miljoen van die belastingbetaler se geld na hierdie vrou toe…..die slap regering kry in elk geval so R200 miljoen per dag net uit R5,30 per liter wat hulle oes!!

Wonder ·

Dink bietjie aan die vrou en vergeet vir een oomblik van die belastingbetaler!

Peet Schabort ·

Daar is ook glo gebeure wat die moord op Attie le Roux (my swaer van Reitz) ná- en vooraf gegaan het waaroor vrae gevra kan word. Dit skyn asof die hantering van misdaad vrot kolle bevat.
My innige simpatie met Kawa wat ook onder die wetteloosheid van hierdie land moes deurloop.

Liani ·

Ek het eenmaal gesien hoe ‘n oumatjie deur twee jong mans met kaal bolywe en kortbroeke in die bosse gesleep was. Sy het vir my geskree “asseblief bel die polisie”. Ek het die polisie gebel maar hulle het nie uitgekom nie. Ek het ure gewag, te bang om terug te loop. Ek het hulle weer gebel maar hulle het gelag. Teen laat middag moes ek terugloop en ek het haar sak met leë bottels steeds daar langs die pad sien lê. Dit spook nog al die jare by my. So ek is bly oor hierdie saak. Dis asof hulle nie omgee oor ‘n swart se lot nie.

Neewat ·

Hulle gee nie om oor ENIGIEMAND se lot nie .. nie swart of wit nie .. hoeveel dink jy gee hulle om vir boervrouens wat verkrag word?

VanAfrika ·

En Liani, kon jy niemand anders gebel of gevra het om te help, die oumatjie was verkrag terwyl die polisie nie hulle werk gedoen het nie, sekerlik sou iemand gehelp het op noodkrete of oproep na iemand anders toe. En toe loop jy laat die middag terug op dieselfde paadtjie en stel jou eie lewe ingevaar instede van n ander rigting te loop. wat jy hier vertel maak nie sin nie.

SUE HULLE ·

Wel ALLE verkragtingsslagoffers moet siviele eise teen die verkragters instel SOWEL AS teen die POLISIE wat versuim om hulle sake te ondersoek of ernstig op te neem OF uit te kom na ‘n verkragting scene. Sommige vrouens wat by die polisiekantore verkragting gaan aanmeld word of UITGELAG of verder getreiter deur die polisiemanne .AL WAT gaan werk is ‘n CLASS ACTION . laat hierdie mense betaal .. ook in hulle persoonlike hoedanigheid .. mens hoor net as jy VOEL .. en die regering mors in elk geval miljoene, ek sal beter voel as ek weet dit gaan aan ‘n verkragtingslagoffer.

Marius ·

So 02:30 is vroeg in die oggend, 14:30 is in die middag het sy alleenig in die oggend ure op die strand gaan loop alleen is dit reg Maroela Media?

Wonder ·

Marius, my gesonde verstand sê vir my dat dit in die middag moes gewees het. Dokumente sou tog nie in die oggendure geteken word nie en hoe kon sy die ou se oë so goed sien in die nag? ‘n Goeie begrip het ‘n halwe woord nodig.

Denise ·

Dit is erg en net so al die ander gevalle van onskuldige mense wat net soos Andy Kawa geen reg meer het om in rus en vrede te kan lewe nie.

jankoos ·

Dit is hoe hulle werk traag om te help maar vinnig om agterhand te staan vir n paar rand

Nonnie ·

Andy, die sg. polisie is die grootste kriminele organisasie in Suid Afrika, want hulle is ANC kaders. Roer hulle goed!! Ai my mensie, ek hoop jy gaan uiteindelik berusting vind. Ons bid vir jou.

Andre ·

Bewapen en verdedig jou SELF!

Niemand anders gaan jou beskerm nie … allermins die polisie of die ANC regering.

Elkeen vir hom / haar self …!

VOORKOM dat jy ‘n misdaad slagoffer word! Dit is beter as om agterna te probeer om die ‘onreg’ reg te stel.

Johan ·

Aan Wonder, Marius is heeltemal reg en het elke reg om die vraag te vra. Ek het dit ook raakgesien en alhoewel mens sou kon aflei dat dit “waarskynlik 14h30” moet wees (klomp mense op strand), soek Marius (en ek) feitelike korrekte berigte. En dit is ‘n eenvoudige feite-fout wat nooit moes ingesluip het nie. Ek wonder wat is u regte naam?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.