Verlam in gru-botsing: ‘Ongelooflik wat hy al bereik het’

Ulrich tydens een van sy rehabilitasiesessies. Foto: Verskaf

Ulrich tydens een van sy rehabilitasiesessies. Foto: Verskaf

Ulrich Bester, ʼn kranige jong rugbyspeler wat verlam gelaat is in ʼn gru-ongeluk in Brits, bly positief en glo dat hy weer die gebruik van sekere ledemate sal terugkry.

Daniel Bester (28), Ulrich se broer, het aan Maroela Media gesê Ulrich is Donderdag na die Pretoriase Muelmed-hospitaal se rehabilitasie-eenheid oorgeplaas. “Hy het reeds van Vrydag af elke dag sessies in die gimnasium gehad saam met die fisioterapeut en biokinetikus.”

Volgens Bester het sy broer Sondag ʼn rusdag gehad aangesien dit sy 25ste verjaardag was en die gesin saam met hom gebraai het. Ulrich is intussen ook nie meer gekoppel aan asemhalingsapparate nie en haal nou heeltemal self asem.

Ulrich het intussen gevoel in sy skouers begin terugkry sowel as in dele van sy bo-arms. “Ek het die gevoel dat hy weer die gebruik van sy arms sal terugkry. Die dokters is nog besig met ʼn klomp toetse en hou sy fisio-sessies dop. Hy het tydens een van sy gim-sessies dit reggekry om homself met sy skouerspiere bo te hou.”

Brandbestryders en paramedici spook om Ulrich uit die wrak te verwyder. Foto: Hartbeespoort Emergency Rescue Unit/Facebook

Brandbestryders en paramedici spook om Ulrich uit die wrak te verwyder. Foto: Hartbeespoort Emergency Rescue Unit/Facebook

Ulrich was op 31 Mei omstreeks 13:00 saam met kollegas op pad terug werk toe, toe hulle in ʼn ongeluk betrokke was in ʼn kruising naby die Brits-winkelsentrum. Ulrich het in die voorste passasiersitplek gesit en het sy nek op twee plekke gebreek. Hy was in die motor vasgekeer en moes met meganiese toerusting verwyder word. Hy is deur paramedici na die Milpark-hospitaal in Johannesburg vervoer. Hy is later na die Lenmed-Randfontein-hospitaal oorgeplaas waar hy geopereer is.

Volgens Bester is sy broer baie positief. “Sy doelwit is om binne die volgende drie weke weer sy arms te kan gebruik. Hy is baie gelukkig met die vordering wat hy maak en hy geniet die interaksie met ander pasiënte by die rehabilitasiesentrum. Hy glimlag en is gelukkig. Die fisioterapeute en biokinetici kan nie glo wat hy al so vinnig bereik het nie. Dis ongelooflik.”

Bester het gesê sy broer is ʼn baie sterk mens en dat die ding hom nie sal onderkry nie. “Hulle is besig om vir hom ʼn spesiale rolstoel te maak aangesien hy nie in ʼn normale rolstoel pas nie. Hy is te lank en sy skouers is te breed.”

Volgens Bester beteken almal se gebede so baie vir sy broer. “Hy het klomp boodskappe op sy verjaardag gekry en dit was wonderlik. Hy waardeer dit so baie.”

Lees alle vorige berigte oor Ulrich Bester op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Great great ·

Liewe jong man jy gaan nog groot hoogtes bereik en sal beslis ‘n goeie lewe maak, hou aan glo en werk, jy sal die vrugte pluk!!!!!!!!!!!!!!!! As die skadu dae kom, huil hul lekker deur en vat die vlg dag weer die sonskyn pad en werk werk werk. Ek is soo opgewonde vir jou!

Gesiggie ·

Waar daar n Wil is Is daar n Weg…. en Ulrich veg… so bly dat dit al beter gaan… wees sterk hou aan Glo… een van die dae is jy weer Bo… als wat mooi is vir jou…

Nonnie ·

My man het sy nek ook gebreek in n ongeluk en hy het 6 maande na harde werk weer geloop, hy is gesond vandag en ons lewe n normale lewe, dit kan gedoen word onthou net waar kom jou krag enhulp vandaan.

Ilse Gerber ·

Liewe Ulrich ons bid vir volle herstel!!..kan jou as Merensky jongman so goed onthou. Mooi so bly positief en Glo!!
Tannie ilse…Karlien en Frans Gerber

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.